Die pelgrim (Psalm 120 – 134)

with No Comments

Oppad na die ewige Jerusalem,
is ek ‘n pelgrim, hoor my stem:

As vreemdeling het ek geleer (Psalm 120)
dat ek U ewige vrede begeer.

Ek stap tussen gevaarlike berge deur, (Psalm 121)
my hulp kom net van die Heer!
Hy beskerm my teen gevaar,
dag en nag sal Hy my bewaar.

My eindpunt is die huis van die Heer, (Psalm 122)
daar wil ek Sy naam loof en eer!

My oë is gerig op U o God, (Psalm 123)
ontferm U tog oor my lot…

Die Here het my gehelp, ek bely: (Psalm 124)
Uit die wip van die voëlvanger bevry.

Sionsberg kan nie beweeg of vergaan, (Psalm 125)
net so vas moet my vertroue staan.
Soos berge Jerusalem omvou,
so beskerm die Here my nou.

Terwyl ek met trane loop en saai, (Psalm 126)
weet ek die gerwe sal juigend waai.

As die Here my huis nie bou (Psalm 127)
swoeg ek tevergeefs daaraan nou.
Tevergeefs om daagliks te raap en skraap:
Vir die wat Hy liefhet gee hy dit in hul slaap!

Dit gaan goed met die wat die Here dien, (Psalm 128)
die vrug van jou arbeid sal jy sien.
‘n Vrou en kinders word vir jou geleen,
as deel van God se vrugbaarheidseën.

En word ek deur die wêreld verdruk, (Psalm 129)
sal God my uit die bande losruk.

Uit die dieptes roep ek, o Heer, (Psalm 130)
U vergifnis is wat ek begeer.
As U my sonde sou gadeslaan
sou ek glad nie meer bestaan!

In vertroue by ek op U wag,
want U beloftes bly van krag.
Die Here is in liefde getrou:
Verlossing van sonde kry ek nou!

In die aardse stryd moes ek leer: (Psalm 131)
Oor groot dinge bekommer ek nie meer.
Soos in my ma se arms as kind,
moet ek rus en kalmte vind.
Op dié manier kan ek elke dag
in vertroue op die Here wag!

As pelgrim moes ek verstaan, (Psalm 132)
dat alles oor U ewige woning gaan.

Nou kan broers in eensgesindheid bly (Psalm 133)
en so die koninklike salwing kry.

Ek hef my hande op in gebed: (Psalm 134)
Net U seën, o Skepper, sal my red!

En jy, pelgrim, wanneer gaan jý leer
wat dit is wat jy regtig begeer?