Gebed Psalm 19

Here, saam met almal wat U dien,
bid ons vandag uit Psalm negentien:

O God, die hemel getuig van U mag
die uitspansel van U hande se krag.
Soos een dag die berig vir die volgende gee,
so deel die een nag die volgende mee.

Sonder spraak en sonder woorde
onhoorbaar is hulle akkoorde,
tog gaan van daar ‘n boodskap uit
en bereik hul taal die aarde wyd en suid.

Soos ‘n bruidegom uit sy slaapkamer kom,
en kleurvol die oggend en aand begroet,
loop stralend op sy baan, die son,
en niks ontkom aan sy heerlike gloed.

U Woord, o Here, is volmaak –
dit gee lewe!
U onderwysing o Here, is betroubaar –
dit gee wysheid!
U bevele, o Here, dui koers aan –
dit bring blydskap!
U gebod, o Here is helder –
dit gee insig!
U eise, o Here, is goed –
dit staan vas!
U bepalings, o Here is reg –
dit is regverdig!

U Woord is kosbaarder as goud,
selfs as baie skatkamers vol goud.
U Woord is soeter as ‘n heuning,
selfs die koek se druppende heunig.

O God, ek bid hier saam met ander wat U dien:
Laat ons die waarheid in U Woord sien.
Help ons om U Woord te onderhou
en op U beloftes daarin te vertrou.

Help ons om ons dwaling raak te sien.
Bevry ons van wat ons verdien:
Party handel ons onwetend af
moet ons tog nie daarvoor straf…
Sal U ook die opsetlike sonde in ons keer
ja, daardie wat oor ons heers en ons regeer…

Here, ons wil so graag hê
dat alles wat ons sê
en alles wat ons dink
vir U aanneemlik sal klink.

Here, op U as Rots staan ons saam.
o Verlosser, ons bid dit in U Naam.