Vir U wingerd het U die nasies uitgedrywe
en het U ons as stok geplant vir druiwe. (Ps 80:9)
Ons wortels het gegroei onder U seën (Ps 80:10).
en het aan die berge sy skadu verleen. (Ps 80:11)
Waarom het U ons mure afgebreek? (Ps 80:13)
Verbygangers kan hulle toe wreek. (Ps 80:13)
Ons is soos ‘n onkruid verbrand – (Ps 80:17)
Hou tog oor U uitverkorenes U hand… (Ps 80:18)
Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot?
Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort? (Ps 74:1)
U het ons lank gelede as besitting verkry.
Dink tog aan ons en maak ons vry! (Ps 74:2)
Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek,
U woonplek is tot op die grond afgebreek… (Ps 74:7).
Lyke van u dienaars is aan voëls gegee om te vreet,
die vleis van U troue dienaars is deur wilde diere geëet. (Ps 79:2)
Hoe lank nog, o God, wil ons weet,
maar daar is nie meer ‘n profeet… (Ps 74:10)
Sal U toorn dan vir altyd duur,
U woede bly brand soos ‘n vuur? (Ps 79:6)
Waarom lig Hy nie Sy hand
en vernietig hierdie vyand? (Ps 74:11)
Die heidene sê: “Waar is hulle God nou?”
Laat ons tog hulle straf aanskou. (Ps 79:10)
By die riviere van Babel, so blink
vloei ons trane as ons aan Sion dink. (Ps 137:1)
Hulle vra: Sing vir ons ‘n lied.
Hoe kan ons dit doen in verdriet? (Ps 137:3,4)
Die profeet Esegiël het ons geleer:
Ons moet besef wie is die Heer
Daarom kan ons weer sing,
Ja, in swaarkry aan Hom die hulde bring:
God is van altyd af my koning,
Hy red hier op aarde, uit sy woning. (Ps 74:12)
Selfs die monster van die see
word verpletter en vir haaie gegee. (Ps 74:13)
U hou die fonteine en riviere in stand (Ps 74:15)
Somer en winter is die werk van U hand. (Ps 74:17)
U wat die oorsprong van dag en nag weet – (Ps 74:16)
moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet (Ps 74:19)
Die hele land is verwond –
dink tog weer aan U verbond! (Ps 74:20).
Help ons, o God, ter wille van U eer
vergewe ons ons sondes nog ‘n keer. (Ps 79:9)
Leave a Reply