Jefta

with No Comments

Die Ammoniete het by Gilead kamp opgeslaan
Wie sal as leier teen hulle op kan staan? (Rig 10:17-18)

Jefta was ‘n seun van Gilead.
Hy was ‘n dapper soldaat.
As prosituut was sy ma onguur,
sy broers het hom weggestuur… (Rig 11:1-3)

As hulle God in gebed sou vra,
sou hulle hulle anders gedra?

Die Ammoniete was tot oorlog oorgehaal,
so die leiers het toe weer vir Jefta laat haal.

“Dis julle wat my weggejaag het:
Hoekom moet ek julle nou kom red?
Ek sal dit doen as julle my leier maak.”
En voor God bekragtig hulle die saak. (Rig 11:4-11)

Hulle het God in gebed gevra,
daarom sou Hy hulle hierdeur dra.

Jefta het in onderhandeling ingegaan
om die rede vir die oorlog te verstaan.
Dit het alles oor grond besit gegaan:
Hulle eis van Arnon tot by die Jordaan. (Rig 11:12-13)

Jefta het hulle weer die geskiedenis vertel,
van die trek deur die woestyn van Israel. (Rig 11:14-18)
Israel wou destyds net deur julle land trek,
maar julle het toe vir oorlog opgetrek.

Die God van Israel het julle toe verslaan:
Ons besit kom daarvandaan. (Rig 11:19-24)
Die voorval was driehonderd jaar gelede,
ons het niks teen jou gedoen in die hede.

God sal uitspraak gee oor wie is reg
as ons dan vandag hieroor moet veg. (Rig 11:25-28)

Jefta ontvang toe die Gees
en weet dat God by hom sou wees.
Tog het hy ‘n gelofte afgelê
en die volgende gesê: (Rig 11:29-30)

“As U die Ammoniete oorgee in my mag,
sal ek die eerste wat by my huis vir my wag
aan U wy en as offer en vir U verbrand.”
Die Here gee toe die vyand in Sy hand. (Rig 11:29-33)

As hy God in gebed sou vra,
sou hy hom anders gedra?

Sy dogter het hom tegemoet gedans met tamboeryn.
“Ag, my enigste dogter, ek is nou in ellende en pyn –
Ek het my woord aan die Here gegee…”
“Pa moet my asseblief nog twee maande gee.” (Rig 11:34-37)

Afgryslike woorde word hier gesê:
Hy het met haar gehandel volgengs sy gelofte afgelê…
Sy het die gemeenskap met ‘n man verbeur
en meisies het elke jaar oor haar getreur. (Rig 11:38-40)

Efraim voel toe vreeslik verontreg:
“Waarom het jy sonder ons gaan veg?”
“Ek het gevra, maar die antwoord was nee,
God het die vyand in my mag oorgegee.” (Rig 12:1-3)

As hulle God in gebed sou vra,
sou hulle hulle anders gedra?

Maar niks kon Efraim se woede stuit –
‘n burgeroorlog breek toe uit.
By die Jordaan is die dood uitgespreek
oor die wat nie Sjibbolet uit kon spreek. (Rig 12:4-6)

Jefta het Efraim verslaan in die vreeslike euwel:
Twee en veertig duisend man het gesneuwel.
Die hartseer agtergrond om te verstaan:
Beide die stamme het uit Josef ontstaan… (Rig 12:7)

Onverdraagsaam teenoor hulle broer.
Onbillike vyand kom in oproer.
Gelofte om iemand te verbrand.
Burgeroorlog in die land.

As jy terugkyk oor jou lewe,
hoeveel ander moes voor jou bewe?
As jy God in gebed sou vra,
sou jy jou anders gedra?

As die krisisse jou laat kla,
mag Jesus se gebed jou dra:
O Vader, ek het U kinders van U geleer
en so U Naam verheerlik en geëer. (Joh 17:1,4)

Hulle wat U Naam werklik ken,
sal wel die ewige lewe wen! (Joh 17:2-3)
Maak hulle werklik aan U toegewy
as hulle in hierdie wêreld vir U stry. (Joh 17:23)

Gideon

with No Comments

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer
Weer moes hulle die les met onderdrukking leer:
Hulle moes langs bergstroompies in grotte bly
en het niks van hul lande se opbrengs gekry. (Rig 6:1-5)

In Egipte was julle gedompel in slawerny,
Ek het julle uit daardie verdrukking bevry.
Julle het hierdie land gekry sonder om dit te verdien
met die opdrag: Julle mag nie ander gode dien.
Julle het nie na My geluister
en moet om hulp smeek met ‘n fluister… (Rig 6:6-10)

Gideon het binne ‘n parskuip gestaan
en wegkruipend koring uitgeslaan.
Die Engel van die Here het aan hom verskyn:
Dapper man, Ek is by jou in jou pyn! (Rig 6:11-12)

Ekskuus, Meneer, was die Here by my
sou ons nie nou so swaar kon kry.
Ons is vertel van die verlede se magtige daad,
maar nou het die Here ons in die steek gelaat. (Rig 6:11-13)

Voel jy ook God het jou in die steek gelaat?
Kry dan weer prespektief oor Sy daad:

In alles word ons verdruk,
maar is nie terneergedruk;
ons is oor raad verleë,
maar sal nie radeloos opgee;
ons word vervolg deur wrede daad,
maar word nie deur God verlaat. (II Kor 4:8-9)

Met die krag wat jy het
moet jy die volk gaan red!

Ekskuus, Meneer, ek dink nie U verstaan
wie ek is en waarmee moet ek gaan?
Manasse, die armste familie, kan niks verdien
en van die kinders het ek die minste aansien. (Rig 6:14-15)

Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan
asof daar nie meer as een van hulle bestaan. (Rig 6:14-16)

Gee my ‘n teken dat ek kan weet U is die Heer.
‘n Vuur uit die rots het die vleis en brood verteer. (Rig 6:17-21)
Ek het die Here van aangesig tot aangesig gesien!
My altaar se naam is: Die Here gee rus wat ek nie verdien. (Rig 6:22-24)

Breek af die altaar vir Baäl
en bou my altaar soos Ek bepaal,
sodat jy jou met my versoen.
Gideon het dit in die nag gedoen… (Rig 6:25-27)

Die Gees van die Here het Gideon gevul
en hy het hom met vegters omhul. (Rig 6:34)
Twee en dertig duisend aan sy sy (Rig 7:1-7)
moes honderd vyf en dertig duisend onderkry. (Rig 8:10)

Ek sal weet dat U ons wil red
as die vlieswol dou op het…
Word asseblief nie vir my kwaad,
maar doen ook die omgekeerde daad.
God het die wol droog gehou
maar op die grond was daar dou! (Rig 6:36-40)

Gideon en al sy manne het kamp opgeslaan,
maar God sê jy moet die volgende verstaan:
As jy so baie manne by jou het
gaan jy sê: Ek het myself gered. (Rig 7:1-2)

Die manskappe wat van vrees bewe
kan terugdraai na hul huislike lewe.
Twee en twintig duisend het gegaan,
tien duisend het bly staan. (Rig 7:2-3)

Net driehonderd manne het gedink
en nie haastig gekniel om te drink.
Met hulle sal Ek jou vyand verslaan –
laat die ander huis toe gaan! (Rig 7:4-7)

Gaan die vyand se kamp in te voet,
luister wat hulle sê en kry moed. (Rig 7:9-12)

Ek het gedroom van ‘n ronde brood:
God gee Midian vir Gideon om te dood!
My slaaf, Pura, het jy dit gehoor?
God gee die vyand in ons mag oor. (Rig 7:13-15)

Toe leë erdekruike breek
en fakkels word aangesteek,
toe ramshorings die stilte versteur,
skreeu hul: Vir Gideon en vir die Heer! (Rig 7:16-20)

Ook ons is kleipotte wat maklik breek,
maar God het ‘n lig in ons harte aangesteek.
Hy wil dat ons die stilte versteur
en skreeu: Ek veg vir die Heer! (II Kor 4:6-7,10)

Die kamp het geskreeu en op vlug geslaan
God het dit bewerk dat hul mekaar verslaan. (Rig 7:16-20)

Sebag en Salmunna het Gideon gedaag
“Lê ‘n man se krag in homself?”, was hul vraag.
Gideon het opgestaan en hulle doodgemaak
en die kamele se maanversierings syne gemaak… (Rig 8:18-21)

Die Israeliete het vir Gideon gesê:
“Jy moet oor ons regeer.”
Dis verkeerd wat julle wil hê:
Die een wat regeer is onse Heer! (Rig 8:22-23)

Ek vra julle egter net een ding
van jul buit gee my elke oorring.
Gideon het ‘n efodbeeld van die goud gemaak
en dit het vir hom en sy mense ‘n valstrik geraak. (Rig 8:24-27)

Swakke leser, God roep jou om vir Hom te werk.
Wees bly, want juis as jy swak is, is jy sterk. (II Kor 12:9-10)
Maar as jy deur God se krag dan slaag,
pasop – dis juis dan wanneer versoekings knaag…

Ook ons is kleipotte wat maklik breek,
maar God het ‘n lig in ons harte aangesteek.
Hy wil dat ons die stilte versteur
en skreeu: Aan Hom die eer! (II Kor 4:6-7,10)

Debora en Barak

with No Comments

Na Ehud se dood het die Israeliete weer
gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer.
God het hulle oorgegee in Jabin se mag.
Nege honderd strydwaens was Sisera se krag.
Twintig jaar het hulle onderdrukkend gely,
daarom het hulle gebid dat God hul bevry. (Rig 4:1-3)

Debora, die vrou van Lappidot
is as leier gekies deur God.
Sy was ook regter en profetes:
Vir afwesige manne ‘n les. (Rig 4:5-6)

Sy het Barak as leier na die vyand gebring
en na die oorwinning saam ‘n loflied gesing:

Julle moet die Here prys:
Hy is almagtig en wys!
Leiers het weer opgetree
en tot die stryd toegetree. (Rig 5:1-2)

Luister konings wat regeer:
Ek sing tot my God se eer!
Toe U optrek het die berge gebewe.
Met reën gee U ons lewe. (Rig 5:3-5)

In die dae van Jael was die hoofpaaie stil.
Die volk was onderdrukkend met vrees gevul.
Nie een van Israel se soldate het verskyn.
Die lewe buite die stede in Israel het gekwyn. (Rig 5:6-8)

‘n Moeder in Israel het tevore gekom –
Debora was gekies as rigter deur Hom. Rig 5:7)

Oral waar julle donkies reis
moet julle God se dade prys.
Praat by die drinkbakke daaroor:
Almal moet die boodskap hoor! (Rig 5:10-11)
Maak klaar Barak, wees nie bang:
God sal jou die vyande laat vang. (Rig 4:6-7, 5:12)

Die volk van die Here het kom veg
Efraim, Manasse en Benjamin was reg.
Sebulon met die heerser septer voor
selfs uit Amalek gee hulle gehoor.
Issaskar en Barak kry die laagte in hul hand.
Naftali trotseer die dood in die hoë land. (Rig 5:13-15,18)

Maar Ruben het net baie gepraat
en nie oorgegaan tot enige daad.
By die veetroppe het julle met fluite gespeel…
Gilead het hom ook nie aan die oproep geskeel.

Waarom het Dan by sy skepe gebly
en kon jy Aser op die seestrand kry? (Rig 5:15-17)
Vervloek is Meros: Vat sy genade weg,
want hy het nie vir die Here kom veg. (Rig 5:23)

Vyandige konings het kom veg
maar buit van silwer bly net weg.
Toe sterre uit die hemel veg is dít wat gebeur:
Die Kisonrivier het die vyand meegesleur! (Rig 5:19-22)

Geseënd is Jael, vrou so beeldskoon,
meer geseënd as alle vroue wat in tente woon.
Sy gee vir Sisera die koningsbeker aan,
maar het hom met ‘n tentpen doodgeslaan. (Rig 5:24-27)

Sisera se ma het gestaan en kla
waarom talm my seun se strydwa?
Haar slimste hofsame gee die raad:
‘n Meisie of twee vir elke soldaat… (Rig 5:28-30)

Mag al U vyande so omkom, o Heer.
Vir die wat U liefhet skyn die son weer.
God gee die vyande in ons hand,
daarom is daar weer vrede in die land. (Rig 5:31)

Besef jy ons doen alweer
wat verkeerd is in die oë van die Heer?
Dat sonde weer die oorhand het?
Bely innig tot God in gebed.

Jy wat soos Ruben so baie praat,
wanneer gaan jy oorgaan in daad?
Jy met die luuksheid by die see,
wanneer begin jy iets gee?
Manne hoe lank gaan julle nog weier
terwyl God julle roep as geestelike leier?

Vroue in hierdie tyd ook vir jul ‘n les:
God roep julle – party as profetes.
Vir ander het Hy ‘n tentpen gegee
om tot die stryd toe te tree.

As ons tog weer na Hom luister,
maak Hy ‘n einde aan die duister.
Deur die almag van Sy hand
gee Hy vrede bo menslike verstand.

Ehud

with No Comments

Toe die Israeliete weer afdwaal,
begin die siklus hom herhaal.
Eglon het die Palmstad verslaan
en die volk word sy onderdaan. (Rig 3:12-14)

In nood het gebede weer opgeskiet
en God stuur Ehud die Benjaminiet.
Hy was sterker in sy linkerhand
met ‘n swaard aan die ander kant. (Rig 3:15-18)

Ehud het aan Eglon belasting betaal
maar by Gilgal draai die verhaal.
Afgodsbeelde het daar gestaan, (Rig 3:19-23)
maar Josua se klippe het vermaan… (Jos 4:20-24)

Van voorspoed was Eglon baie vet.
Dis hoekom sy naam ook betekenis het:
“Jong kalf”, vetgemaak om te slag
en so eindig sy lewe dié dag. (Rig 3:24-26)

Ehud het die ramshoring geblaas:
Ons moet ons na Moab toe haas.
God gee die vyand in ons mag
en so kry hul weer vrede deur Sy krag. (Rig 3:27-31)

Het jy hierin die boodskap vir jou gekry?
Moenie oor jou andersheid skaam kry.
Hou My tweesnydende swaard aan jou sy,
want met My Woord kan ander genesing kry. (Heb 4:12)

Otniël

with No Comments

Die Here het van die nasies met rus gelaat
sodat die volk in oorlogservaring kon baat.
Hy wou ook kyk of hul gehoorsaam sou wees
in wat sy gebooie en voorskrifte lees. (Rig 3:1-5)

Die Israeliete het met die ander nasies begin trou –
dit het gelei dat hulle hul afgode begin vertrou…
God het hulle deur die vyand laat verslaan
vir agt jaar was hulle hul onderdaan. (Rig 3:6-8)

In hul nood roep hul na Hom
en laat hy ‘n redder na vore kom.
Otniël ontvang so die Here se Gees:
Vir veertig jaar was daar vrede gewees. (Rig 3:9-11).

Otniël se naam beteken God se krag
Hierin sit ‘n boodskap vir jou vandag:
God het vir jou ‘n Verlosser gestuur
Hy het alle mag, ja ook in hierdie uur! (II Pet 1:3, Kol 2:15)

God is regverdig en getrou:
As jy jou sonde opreg berou
en voor God jou sonde bely,
sal jy reiniging en vergifnis kry. (1 Joh 1:9).

Het jý My opdragte verstaan?

with No Comments

Here, wie moet eerste gaan veg?
Juda is eerste – maak julle reg.
Ek gee die land in jou mag
en so wen Israel die eerste slag. (Rig 1:1-4)

Hulle het Adoni-Besek se duime en tone afgesny.
“Ek het dit met sewentig konings gedoen,” sê hy.
God het dit alles gesien
en my die straf gegee wat ek verdien. (Rig 1:5-7)

Met Juda se aanvalle het dit goed gegaan,
hulle het verskeie stede verslaan. (Rig 1:8-11)
Maar toe hulle Simeon saam laat gaan,
kon hulle die inwoners van die Vlakte nie verslaan. (Rig 1:17-18)

Die Benjaminiete het die Jebusiete nie verslaan,
saam het hulle in Jerusalem bestaan. (Rig 1:21)
Vir die Josefstam het God Bet-El afgemerk,
maar hulle het met ‘n perverse saamgewerk.

Ook Efraim en Manasse wen nie die stryd
en volg liewer ‘n saambly beleid. (Rig 1:27-29).
Simeon, Aser en Naftali se halwe stryd
dwing die vyand na dwangarbeid. (Rig 1:30-32)

Sonder om hom vreeslik in te span
verdryf die Amoriete die stam Dan. (Rig 1:33-34)
Tussen al die slegte berigte deur,
nie veel om mens op te beur…

Tog staan daar geskryf:
Kaleb het Enakiete uitgedryf. (Rig 1:20)
Om die krag van die stelling te verstaan,
moet ons terug in geskiedenis gaan:

Die verkenners het kom verklaar:
“Ons moenie veg nie daar is reuse daar!
Die Enakiete is reuse met groot vemoë
ons was soos sprinkane in hulle oë!” (Num 13:26-33)

Net Josua en Kaleb het vas gestaan
met die wete dat God kán verslaan.
Die volk se geloof was so klein
Die straf: Veertig jaar in die woestyn.

Vyf en veertig swaar jare later
het Kaleb se geloof nie afgewater.
Toe Josua die land verdeel,
kies Kaleb die Enakiete se deel. (Jos 14:10-13)

Met God aan sy kant
word Hebron sy land. (Jos 14:15)
Hier is Abraham as God se vriend begrawe. (Jak 2:23)
As asielstad word hierde ‘n veilige hawe. (Jos 20:2,3,7)

Het jy wat My opdragte mooi verstaan
ook net halfpad met die uitvoering gegaan?
Of ontvang jy in geloof
alles wat Ek jou beloof?
Dink jy jy het dit vir jouself gekry?
Ek wil dat jy ander daarmee bevry!

Die Engel van die Heer
is van Gilgal na Bokim om te leer:
Ek het julle uit Egipte gelei
by My het julle ‘n verbond gekry. (Rig 2:1-2)

Ek sal my verbond met julle nie verbreek,
maar julle moet die vyand se altare afbreek.
Waarom het julle nie na My geluister?
Julle toekoms lyk nou duister! (Rig 2:3-5)

Die volk van Josua se geslag het gesterf
sonder om kennis van die Heer te erf.
Hulle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer
deur die Baäls en Astartes te dien en eer. (Rig 2:10-13)

God het vir die volk straf gebring
en roofbendes het hul ingedring.
Hulle moes dit eintlik weet,
God het dit voorheen bevestig met ‘n eed. (Rig 2:14-15)

In hul nood roep hul na Hom
dan laat Hy leiers na vore kom,
wat hul red uit die vyand se mag
as Hy in medelye sy straf versag. (Rig 2:16-18)

Maar as die leier dan sterf,
sit hul net meer sonde op die kerf.
Dan begin die siklus weer van voor,
want hulle het God se wil nie gehoor. (Rig 2:19-23)

Het jý My opdragte mooi verstaan
of het jy ook in dié siklus gegaan?
Bid dat jy staande kan bly
met alle vertroue net in My.
Staan vas in jou geloof
en kry wat Ek jou beloof!

Rigters oorsig

with No Comments

Die boek is soos volg verdeel:
Finale oorwinning was ‘n miete.
Kompromie: Leef met Kanaäniete.
Konflik: Oorlog met Kanaäniete.
Gevolg: Leef soos Kanaäniete.
Ja, moenie met sonde speel!

Finale oorwinning was ‘n miete:
Israel is wel die beloofde land in,
maar al die volke is nie oorwin.
As toets is van die vyand gelaat:
Sou hul God vertrou of verlaat?

Kompromie: Leef met Kanaaniete.
Die volk het hul gevegte verloor:
“Ons kort ‘n leier om aan te spoor.”
Maar wat hulle nie meer onthou:
Is dat hulle net op God moet vertrou.

Ons sal maar tussen hulle moet bly
ons moet net hul gewoontes vermy…
Die gevolg was afval en afgodery.
Die oordeel van God sal hul kry.

As straf stuur Hy ‘n invallende nasie.
Die volk is onderdruk sonder grasie.
Na verloop van tyd kry hul berou.
God bevry sodra hul weer vertrou.

Konflik: Oorlog met Kanaäniete.
Hierdie siklus herhaal in die boek:
Omgang, afval, oordeel, soek.
Telkens, deur rigters, weer bevry
so, God se geduld met jou en my!

Hierdie siklus was wyd verspreid:
Otniël, Ehud en Samgar – Suid.
Debora en Barak in die Noord.
Ja, dieselfde siklus in elke oord.

Abimelek, Tola en Jaïr – sentraal,
daar ook Gideon se unieke verhaal.
Jefta, het daar in die Ooste kom red
maar daar sy dogter se lewe verwed.

Teen die magtige Fillistyne in die weste,
het Simson gedink hy weet die beste.
Delila, die heidense vrou, knip sy haar
en so eindig sy lewe met die pilaar…

Gevolg: Leef soos Kanaäniete.
Miga, het vir homself ‘n tempel gebou.
Sy verval, het die hele volk Dan geknou.
Toe hulle godsdiens begin verval,
was hulle sosiaal en moreel ook mal!

Dit het toe nog verder versprei
en die hele volk na oorlog gelei…
God se wil was heeltemal weg –
almal gedoen volgens eie reg.

Ja, moenie met sonde speel!
As jy dink jy kan met sonde meng,
is jy, soos Israel, in jou denke eng.
Al wat jou op die regte pad kan hou:
Jy moet op God alleen vertrou.

Jesus, die enigste ware Rigter.
Die rigters het maar swak gelyk
en tog het God hul so gebruik.
Dit wys verlossing kom van Hom –
Jesus Christus is die volle som!

Die rigters kon net red vir ‘n ruk,
dan is hulle weer in sonde vertsrik.
Rigter, Jesus, maak jou silwer skoon
dat jy vir ewig by Hom kan woon!

Paasfees (Saterdag)

with No Comments

Op die Saterdag
het Satan gewag:
Jesus is die graf in
het ek oorwin?

Die gesig van die boekrol is met my gedeel:
Beide kant vol geskryf en met sewe seëls verseël.
Ek het bitterlik gehuil en baie hartseer geraak,
want niemand was waardig om die boek oop te maak! (Op 5:1-3)

Die ouderling het vir my geskreeu:
“Hou op huil! Kyk na Juda se leeu!”
Soos Een wat geslag is het ek ‘n Lam sien staan.
Hy het oorwin – gee vir Hom die boek aan!

Die ouderlinge het in aanbidding na Hom toe uitgehou
‘n goue bak vol wierook met die gebede van my en jou…
Hulle het toe ‘n nuwe lied
aan Hom aangebied:

U is waardig – breek die boekrol oop:
Met U bloed het U mense vrygekoop.
Uit elke geslag, taal en volk was U taak:
U het hulle konings en priesters gemaak. (Op 5:9-10)

Miljoene der miljoene hemelwesens sing toe weer:
Aan die Lam kom toe heerlikheid lofprysing en eer!
Die hele skepping, in die hemel en aarde roep toe uit:
Aan Hom die heerlikheid en krag vir altyd en altyd! (Op 5:11-13)

Die Lam het die eerste seël oopgemaak:
“Gaan met die wit perd na waar hulle woon
en skiet met jou boog oorwinning raak.
Hier is vir jou die Oorwinnaarskroon!” (Op 6:1-2)

Toe Hy die tweede seël oopbreek,
het ‘n vuurrooi perd het uitgegaan
om vrede weg te neem en moord te steek.
“Met die groot swaard moet jy verslaan.” (Op 6:3-4)

Die derde seël is oopgemaak.
Dit het hongersnood geraak.
‘n Swart perd met ‘n skaal,
het een skeppie koring gaan haal. (Op 6:5-6)

Die vierde seël se perd was vaal.
Die naam van die ruiter was Dood…
Hy het ‘n kwart van die aarde kom haal
met wilde diere, pes en hongersnood. (Op 6:7-8)

Toe die Lam die vyfde seël oopmaak,
het ek onder die altaar die siele gesien:
Die getroue martelare het die dood nie verdien!
Wanneer gaan U ordeel die skuldiges raak? (Op 6:9-10)

Die sesde seël laat ‘n aardbewing vry:
Die son het swart rouklere gekry.
Die maan was ‘n bloedrooi bal.
Die sterre het op die aarde geval.

Die berge en eilande het plekke geruil.
Die konings het in grotte gaan skuil.
Bedek ons van Hom wat wil wreek:
Die oordeelsdag het aangebreek! (Op 6:12-17)

Die met die wit kleresal nie weer dors kry,
want die Lam wat by die troon staan
sal hulle na waterfonteine van lewe lei
en daar droog God vir hulle elke traan! (Op 7:15-17)

Die sewende seël het na stilte in die hemel gelei.
Die sewe engele het sewe trompette gekry.
Die wierookbak met gebede is geoffer daar:
Ja, na God het dié gebede opgevaar!

Daarna is die bak met altaar vuur gevul
en brandend op die aarde uitgegooi.
Die lug is in donderslae en weerlig getooi.
‘n Dreundende aarbewing het alles omhul. (Op 8:1-5)

Die boodskap vir jou is: Tydens elke seël
se swaarkry moet jy dit in gebede deel.
Die oordeelsdag kom:
Hou vas aan Hom!

Op die Saterdag
het Satan gewag.
God het vir Hom gelag:
More is nog ‘n dag…

Paasfees (Sondag)

with No Comments

Wat jy nog van Paasfees moet verstaan,
Jesus het die Sondag uit die graf opgestaan! (Mark 16:9)
Hy het die dood oorwin
en opgevaar die hemele in. (Rom 8:34)

Hoe vertroostend vir ons Sy taak:
“Ek het reeds vir julle sonde betaal –
Ek gaan om vir julle plek gereed te maak,
dan sal ek julle na My toe kom haal. (Joh 14:3, I Tes 4:14)

Die geluid van die skare was soos donderweer
Hulle het uitgeroep: As koning heers ons Heer!
Laat ons juig en jubel, weer en weer:
Aan die Almagtige betoon ons alle eer! (Op 19:6-7)

Die tyd vir die bruilof van die Lam is hier.
Die bruid is met helder skoon linne versier.
Die klere is regverdige dade aan God toegewy.
Geseënd is hulle wat ‘n bruilofsuitnodiging kry. (Op 19:8-9)

“Kom, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”
Hy wys my die heilige stad met twaalf poorte – een vir elke stam. (op 21:13-14)
As tempel was God en die Lam self daar,
sonder son was Hy ook die kandelaar. (Op 21:22-23)

Die rivier met lewegewende water het my geboei:
Soos helder kristal het dit uit die troon gevloei.
Daar langsaan staan die boom van die lewe
wat twaalf maande per jaar sy vrugte gewe. (Op 22:1-2)

Die troon van God en die Lam sal in die stad staan.
Geen vervloeking van enigiets sal langer bestaan.
Op hulle voorkoppe is die Naam van hul Heer
en hulle sal vir altyd as konings regeer. (Op 22:2-5)

Op Paas Vrydag het die volk ongesuurde brood geëet
Vir geslagte daarna weer met Pasga om nie te vergeet.
Met Nagmaal doen ons dit tot Sy gedagtenis
om ook ons gebrekkige geheue te verfris.

Maar Paasfees gaan nie net oor onthou.
Paas Sondag sê: Kyk vorentoe en vertrou!
Jy is uitgenooi as bruid na die bruilofsmaal.
Die Lam, jou bruidegom, gaan jou self kom haal!

Paasfees (Vrydag)

with No Comments

Toe Johannes Jesus sien, sê hy van Hom:
“Dáár is die Lam – Hy het vir sonde gekom!” (Joh 1:29)
So maak hy seker dat jy nie mis lees
dat sy verhaal opbou na die paasfees:

Voor die viering van Paasfees het Jesus reeds verstaan
Sy tyd het gekom het om na Sy Vader toe te gaan. (Joh 13:1)
En so kom die verhaal
by hulle laaste maal.
Hy het hulle nie van Egipte se verlossing vertel,
maar by hierdie Paasmaal begin ‘n nuwe bestel:

Jesus het nederig Sy disssipels se voete gewas.
“Petrus, om in My te deel moet ek jou sonde afwas.” (Joh 13:4-10)
Om die tafel was hulle geseën en hoor toe saam:
“Die gebreekte bood: Neem, eet; dit is My liggaam.”

Met die beker het Hy ‘n dankgebed uitgespreek:
“Drink almal van die bloed uit My liggaam vir jul gebreek.
Deur hierdie bloed word die verbond beseël
en word vergewing van sondes julle deel” (Mat 26:26-28)

“Op paasfees laat ek altyd iemand vry
Ek vind Hom onskuldig moet Hy dit kry?”
“Vat hom weg! Kruisig Hom! Laat Hom ly!” (Joh 18:37-40, 19:14-16)
En so word Hy die Lam vir jou en my…

Soos die lam se bloed in Egipte op die kosyn,
so was die Lam se bloed op die kruis deur pyn
Dit is dan waarvoor die nagmaal is
‘n maaltyd tot Sy gedagtenis.

Elke keer as jy van hierdie brood eet
en uit die beker drink, moet jy weet:
Jy verkondig die dood van die Heer
totdat Hy kom, op die wolke weer! (I Kor 11:23-26)

Ons paaslam is geslag: dit is Christus.
Dis juis hoekom die oproep vir jou weer is:
Verwyder uit jou die suurdeeg van die sonde
en word gereinigde brood deur Sy wonde. (I Kor 5:6-8)

1 2 3 4 5 6 24