HOOGLIED – DIE MOOISTE LIED.

with No Comments

Die eerste ontmoeting (Hooglied 1:1 -2:7).

Soen my, soen my weer en weer
dis wat ek meer as wyn begeer…

Kom ons juig, ja kom
wees vrolik, om en om.

Ek is bruin gebrand
soos tente in die land.
Maar ek is mooi
sag, soos leer gelooi.

Jy wat ek liefhet, sê vir my
waar laat jy jou lammers wei?

As jy dit nie weet
mooiste van alle vroue,
volg die spore van hul kloue
en laat jou bokkies eet.

Soos ‘n spogperd, ja
in Farao se wa
so is jy vir my,
liefling aan my sy.

Jou lieflike rooi wang;
jou oorbelle hang;
kettinkies om jou nek;
nog meer maak, sal ek.

My nardusparfuum se geur versprei.
Hy wat ek liefhet is vir my
soos mirre wat tussen my borste lê-
hennablomme hy wat ek liefhê.

My liefling, jy is mooi.
Jou oë soos duiwe, mooi.
Man wat ek liefhet, mooi.
Jy is aantreklik, baie mooi.

Ons bed is van blaar,
seders, die balke klaar,
sipresse die daklatte daar…

‘n Lelie tussen dorings, sy,
so is my liefling vir my.
‘n Appelboom tussen ander, hy,
die man wat ek liefhet vir my.

Graag sit ek in sy skaduwee rond.
Sy vrugte so soet in my mond.

Die liefde gaan my verteer:
Met appels moet jul my verfris
met rosyne moet jul my versterk.

Sy linkerarm onder my
met regterarm omhels hy.

REFREIN
Ek smeek julle vroue
luister voor julle troue:
Moenie die liefde wakker maak
voor die tyd ryp daarvoor raak!

Voorbereiding vir die huwelik (Hooglied 2:8-3:5).

Sy sing ‘n lentelied:
Die man wat ek liefhet:
Oor die berge spring hy.
Wip oor die rante na my.

Die man wat ek liefhet:
Soos ‘n ribbok spring hy.
Soos ‘n takboklam na my.

Die man wat ek liefhet:
By die venster kyk hy.
Loer deur die latwerk na my.

Die man wat ek liefhet:
Staan op my liefling sê hy.
“Kom” roep hy na my.

Hy ervaar ook die lente…
Die reëntyd is verby.
Die bloeisels lok die by.
Dit het tyd geword om te sing.
Die tortelduif het klanke gebring.
Die bome is vol vye.
Die druiwe staan in rye.

Staan op my liefling sê hy.
“Kom” roep hy na my.
Die broers hou haar terug:
Jy moet klein jakkalsie kom vang
wingerde verniel – daarvoor is ons bang.

Sy droom:
Op my bed het ek na hom gesoek:
In die stad, in die strate, om elke hoek,
skaars was ek by die wagte verby,
of ek het hom wat ek liefhet gekry.

REFREIN
Ek smeek julle vroue,
luister voor julle troue:
Moenie die liefde wakker maak
voor die tyd ryp daarvoor raak!

Huweliksklokke (Hooglied 3:6 – 5:1).

Wie is dit wat soos ‘n rookwolk kom?
Met die geur van mirre rondom hom?
Op sy drastoel begelei deur sestig man-
elk met ‘n swaard wat oorlog kan.

Die drastoel is van Libanonhout,
die pote silwer, die leuning goud.
Op sy kop die troon bo al sy deugde,
Op die dag van sy huweliksvreugde.

Jy is mooi, my liefling.
Jou oë is soos ‘n duiwekring.
Jou hare se lang lokke
huppel soos ‘n trop bokke.

Jou tande in ‘n ry so wit
soos tweelingskape in gelid.
Jou lippe is skarlakenrooi,
bekoorlik jou mond so mooi.

Die versiersels op jou kop
is soos granaat uitgedop.
Die aan jou nek vermeld
is soos die skild van Dawidsheld.

Jou borste is soos ‘n tweeling takboklam
wat wei tussen lelies by die dam.
Liefling, mooi is alles aan jou.
Niks aan jou verkeerd, my vrou.

Kom saam met my van die berg
waar lans en luiperd terg.
Een kyk het ons gedeel
en sy het my hart gesteel.

Jou liefkosings en samesyn
is beter as ‘n beker wyn.
Lekkerder jou parfuum se ruik
as al die kruie in die kruik.

Jou lippe proe soos heuningstroop,
jou tong soos dikmelkdoop.

My bruid is ‘n tuin,
‘n afgekampte fontein.
Jou liggaam ‘n lushof dig,
granaatbome met keurig vrug.

Hennastruik en ander krui,
nardus, safraan en kaneel daarby.
Borrelende put in my tuin,
waterstrome uit die fontein.

Kom wind, waai my tuin deur.
Versprei suidewind die geur.
Die man wat ek liefhet arriveer,
hy kom die vrugte keur.

Ek is in die tuin van my bruid.
Ek pluk van die mirre en kruid.
Ek eet vars heuning uit die kelk.
Ek drink my wyn en my melk…

Ware liefde vrees verwydering (Hooglied 5:2 – 6:3).

Sy droom…
Vas en diep geslaap het sy.
Haar hart het wakker gebly.

Maak vir my oop my duif.
My kop is nat en so my kuif.
My klere is al uitgetrek.
Waarom weer my voete vlek?

Hy steek sy hand deur die opening
en veroorsaak in my hart ‘n skommeling
ek staan op om oop te maak
mirre drup van my vingers naak.

Vir my liefling open ek die deur…
Hy’s weg – my kanse is verbeur!

Ek soek hom, maar hy kom nie.
Ek roep hom, maar hoor hom nie.
Die wagte wat die stad patrolleer
slaan my, hulle maak my seer.

Vroue, as julle hom sien, moet jul keer:
Sê hom die liefde gaan my verteer.

Vroue:
Is dié man dan anders as ander,
mooiste van al die vroue?
Is die man dan anders as ander,
dat jy so smeek vir behoue?

Hy is blakend gesond
en blosend van kleur.
Jy sal hom kan keur
tussen tienduisend rond.
Sy kop is soos suiwer goud,
sy haarlokke soos dadeltrosse.
Kraaiswart soos die bosse
van ‘n digte sederwoud.

Soos duiwe is sy oog,
melkwit gewas by die spruit.
Sy wange soos beddings kruid –
‘n lekkerruik kruie boog.

Soos lelie is sy lip –
mirre vloei oor hulle kant.
Soos stawe goud sy hand,
met edelsteen ingeklip.

‘n Blok ivoor is sy lyf,
met safier in al klaar.
Sy bobeen ‘n marmerpilaar
op goue voetstukskyf.

Libanon-mooi my heer,
soos seders in morestond.
Soet die smaak sy mond.
Hom wil ek begeer!

So lyk die man van my troue.
So lyk my lewensmaat, vroue.

Vroue:
Waarheen is die man wat jy liefhet,
mooiste van al die vroue?
Waarheen is die man wat jy liefhet?
Ons sal help soek vir behoue.

Dan onthou sy die huweliksnag…
My man is na die tuin van sy bruid,
om te pluk van die mirre en kruid,
om sy skape in tuine te laat wei.
en om lelies te pluk en vreugde te kry.
Ek behoort aan die man in my tuine
die man wat ek liefhet is myne!

Die bruidspaar is tot die ore verlief (Hooglied 6:4 – 8:4).

My liefling soos Tarsis so mooi.
soos Jerusalem aantreklik getooi.
Jou hare se lang lokke
huppel soos ‘n trop bokke.

Jou tande in ‘n ry so wit
soos tweelingskape in gelid.
Die versiersels op jou kop
is soos granaat uitgedop.

Baie konininginne en byvroue, daar
maar sy, my duif, volmaak gebaar.
Haar ma se enigste oogappel klaar.
Die jongmeisie staan en staar,
hulle praat met bewondering oor haar.
Koninginne lofsing haar aanmekaar.

Wie verskyn soos dae?
So pragtig soos die maan?
So helder soos die son?
Soos draers van die vlae?

Ek gaan af na die neuteboord
en kyk na die boompies by die spruit
en kyk hoe loop wingerd lote uit
en kyk na granaatboom soort.

Ek ken nie meer vir my,
dis asof sy my laat ry
op die wa gekeur vir stry.

Vroue:
Kom terug, Sulamitiese vrou!
Kom terug,
Dan kyk ons na jou!
Wat wil julle sien aan die vrou
In die soldatekamp dans sy nou.

Jou voete –
edel dogter, mooi in skoen
Jou heupe –
juwele deur kunstenaar gedoen.
Jou naeltjie –
ronde kom vol kruiewyn
Jou maag –
koring met lelies omlyn
Jou borste –
takboklam se tweeling
Jou nek –
ivoorgeboude toring
Jou oë –
stadspoortdamme by Gesbon.
Jou neus –
Damaskustoring op Libanon
Jou kop –
Karmel, die ere berg
Jou hare –
rooi wol wat terg.

My liefste bekoorlik so mooi,
met soveel te geniet – ‘n droom.
Slanke gestalte soos palmboom.
Borste soos druiwetrosse getooi.

Ek gaan op die palmboom kruip
en sy trosse blomme gryp.
Laat jou borste wees – druiwetros,
die reuk van jou neus – appelblos.
Jou mond se goeie wyn gly in
die lippe van hom wat jou bemin.

Ek behoort aan hom wat ek liefhê.
Hy smag na my om by te lê.
Kom laat ons na die veld toe gaan.
Kom ons gaan slaap in die dorpies saam.

Ons gaan vroeg na die wingerd mee.
Ons kyk of wingerd bot waar gesnoei.
en of die granaatblomme bloei.
Daar sal ek my liefde gee.

Die liefdesappels versprei hul geur.
Daar is keurige vrugte by ons deur.
Ek het hulle vir jou gestoor
oud en jonk – om jou te bekoor!

(In die antieke tyd kon jy slegs liefde in die openbaar betoon aan familie…)

Was jy tog maar my broer,
dan sou niemand na my loer
as ek nie net met jou praat,
maar ook sommer soen op straat!

Dan het ek jou geneem na my huis
en jy leer my die liefdeskuns bruis.
Dan het ek jou laat drink in samesyn
granaatsap en van my kruiewyn!

Sy linkerarm onder my
met regterarm omhels hy.

REFREIN
Ek smeek julle vroue
luister voor jul troue:
Moenie die liefde wakker maak
voor die tyd ryp daarvoor raak!

Liefde tot die dood (Hooglied 8:5-14).

Vroue:
Wie kom uit die woestyn met ‘n steun
terwyl sy op hom wat sy liefhet leun?

Onder die appelboom het ek jou gewek.
Daar waar jou ma jou het verwek.
Hou my teen jou bors so warm,
soos die seëlring aan jou arm.

Die liefde is sterker as die dood.
Die hartstog magtiger, so groot
as selfs die doderyk se laaste noot.
Dit brand en vlam soos vuur,
strome water kan dit nie kuur,
afkoel nie eers met ‘n rivier!

As iemand vir liefde met rykdom betaal,
sal hy ‘n spottende gelag op hom haal.

Sy onthou haar broers toe sy jonk was:
Ons suster is nog klein,
haar borste is nog klein.
Wat kan ons vir haar doen
as hulle wil begin soen.

Was sy maar soos ‘n muur,
het ons met torings gesekuur.
Was sy maar soos ‘n deur,
is toegang met seder verbeur.

Ek is ‘n soliede muur
met toringborste wat tuur.
Daarom is ek vir hom
geluk wat na hom kom.

Salomo het ‘n wingerd gehad.
Hy het dit by wagte gelaat –
iemand sou vir die opbrengs gee
ja, elfduisend gram silwer bestee.

My wingerd is net alleen vir my
al sit jy twee duisend gram daarby.
Jy wat in die tuin woon en luister:
Laat ek jou stem sag hoor fluister.

Hardloop, maak soos ‘n ribbok
ja, soos die lam van ‘n takbok.