OU TESTAMENT GEDIGTE

Genesis – begin

Die ewige God het alles gemaak,
Hy spreek net – hoe groot en magtig!
Die nietige mens, meteens so naak
met sonde die dood bekragtig…
“Tussen jou en die vrou,
is daar vyandskap nou…” (Gen 3:15)

Die ewige God begin ‘n verbond,
Abram kry seën uit Sy mond:
‘n groot nageslag en eie land.
Eensydig kom alles van Sy kant (Gen 12:3)!

Eksodus – verlos

Verlos uit Egipte se slawerny,
droogvoets deur die Rooi See bevry.
Ek neem julle aan as My volk,
voor julle trek Ek uit, met ‘n wolk (Eks 6:6).

By Sinai kry die volk die wet,
sodat hulle Sy voorwaardes het (Eks 19:5-6).

Levitikus – heilig

Die grote God is heilig, heilig, heilig.
Hoe sou die volk hul teen Sy straf beveilig?
Deur die offer van ‘n lam se bloed,
kry hul ‘n weg om vir sonde te vergoed (Lev 17:11).

Die hoëpriester kon een keer per jaar
in die Allerheiligste versoening bewaar.
Dit alles was ‘n skadu van wat sou kom:
‘n boodskap van vergifnis deur Hom (Lev 20:7-8)!

Numeri – swerf

Die volk het nie volkome vertrou
dat God sy belofte sou hou.
Hulle moes toe veertig jaar swerf
tot die laaste van dié geslag sterf (Num 14:22-23).

Hy was deur alles steeds getrou.
Sy beloftes sal Hy vir ewig hou (Num 20:12)!

Deuteronomium – onthou

Moses het die volk laat onthou:
God was in al die swaar, steeds getrou.
Gehoorsaamheid eis Hy van jou… (Deut 10:12-13)

Die ewige God hernu sy verbond –
dien Hom met hart, en met siel en met mond
(Deut 30:19-20)!

Josua – vervul

“Maak hierdie wetboek jou rigsnoer
Alles daarin geskryf moet jy uitvoer.”
Israel gaan die beloofde land in,
volk na volk het God vir hulle oorwin (Jos 1:8).

Die Here se opdrag was baie streng:
ware en valse godsdiens mag glad nie meng.
Die getroue God se beloftes is vervul.
Die verbond is beseël met bloed van ‘n bul (Jos 11:23).

Rigters – siklus

Die spiraal in Rigters begin by sonde,
dan stuur God die vyand vir wonde.
In die swaar kom die volk tot berou.
Rigters word gestuur, want God is getrou.
(Rig 2:20,21)

Elkeen het gedoen: reg in eie oog.
‘n Ewige Verlosser is dié boek se betoog.
(Rig 21:25)

Rut – voorsien

God is oral en altyd in beheer.
Niks kan ooit Sy planne keer:
Hy stuur Rut na ‘n vreemde veld,
waar haar losser se regte geld.
(Rut 1:16)

So word ‘n heidense vrou
deel van Sy geslagslyn se trou. Kern verse
(Rut 3:11)

I Samuel – oorgang

Die volk wou ‘n aardse koning hê,
Samuel het dit vir God gaan sê.
God het hul egter laat begaan –
deur Christus sou Sy troon bly staan.
(I Sam 8:5)

“Saul, gehoorsaamheid is beter as ‘n offerlam.
Om te luister, beter as die vet van ‘n ram!”
(I Sam 15:12)

II Samuel en I Kronieke – Dawid

Jou huis sal bestendig wees voor My
jou troon sal vir altyd in stand bly.
(II Sam 7:12-16, I Kron 17:11-14)

Al word konings telkens teen Dawid gemeet,
het hy ook met Batseba van God vergeet.
Die boek wil hê jy moet nou weet:
Jesus sal eendag die perfekte Koning heet.
(II Sam 22:21, I Kron 29:11)

II Kronieke en I Konings- Salomo

Bou vir My ‘n tempel en hou My wet,
by hierdie plek verhoor Ek elke gebed.
(II Kron 7:14, I Kon 9:4,5)

Omdat jy My verbond en voorskrif nie hou,
gee ek ‘n deel vir ‘n onderdaan van jou.
(II Kron 16:9, I Kon 11:11)

I Konings – verdeel

Verdeel Hier verdeel die koninkryk finaal in twee,
maar Elia en Elisa leer hul God se weë.
(1 Kon 12:28)

Jerobeam het nie geleef volgens God se wil.
en koning na koning het Hom telkens verkul.
(1 Kon 17:1)

Hosea – Godsliefde

Hosea, jy moet met ‘n prostituut gaan trou –
So demonstreer jy die volk se groot ontrou.
Hoewel haar liefde en toewyding ontbreek,
bly dit van God se liefde spreek.
(Hos 4:1)

Oordeel, slawejuk, swaarkry onbeperk…
Jou prysgee? Nee, My liefde brand te sterk! Kern verse
(Hos 11:7-9)

Jona – bekeer

God het hom na die vyand gestuur.
Drie dae moes hy in ‘n vis verduur,
(Jona 2:8,9)
om so die lewensles te leer
dat heidene hulle kan bekeer.
(Jona 4:2)

Joël – Geesbelofte

Alles is deur die sprinkaanplaag opgevreet.
So is God se oordeelsdag, moet jy weet.
(Joël 2:11)

Kom met jou hart terug na My
dan sal jy genade van My kry.
Oor alle mense laat kom Ek my Gees –
drome en visioene sal die teken wees!
(Joël 2:28,29)

Amos – geregtigheid

Ek verafsku jul offer maaltyd.
Ek soek golwe van geregtigheid.
(Amos 3:1,2)

Dawid se vervalle hut
sal ek herbou en beskut!
Die rampe in die land,
kom alles uit God se hand!
Daar kom dae met geen honger na kos,
maar ‘n soeke na die Woord wat ewig verlos!
(Amos 8:11,12)

II Konings – val

Profete het geroep tot die laaste uur –
pyn sal hul nou in Assirië verduur.
Tien stamme het ophou bestaan
Sal die ander twee die boodskap verstaan?
(II Kon 17:22,23)

“Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid vat,
Ek verwerp Jerusalem, My uitverkore stad
en verlaat die tempel met sy waardevolle skat.”
(II Kon 23:27)

II Kronieke – beloftes

As julle by die Here is,
sal Hy by julle wees – gewis!
As julle na Hom vra, soos ‘n kind,
sal Hy Hom deur julle laat vind.
(II Kron 15:2)

Die Here het sy oë op jou,
Hy help dié wat op Hom vertrou. Kern verse
(II Kron 16:9)

Jesaja – Redder

Israel jy moet jou van koalisies weerhou.
Die verbondsvolk moet op die Here vertrou.
Vormgodsdiens en onreg lei na die dood.
tog spruit uit die afgekapte stomp, ‘n loot…
(Jes 8:17, 10:21)

Redder Vir ons is ’n Seun gebore: Raadsman, Vredevors,
Magtige God, Ewige Vader: Hy les jou dors!
Die Skepper en Verlosser bly regeer.
Uit die ballingskap red Hy weer!
(Jes 9:6-7, Jes 53:6)

Miga – Bethlehem

Ellende sal vir julle wag,
wat sonde bedink in die nag.
God wil jou liefde en trou sien.
Wysheid is om die Here te dien.
(Miga 6:8)

Betlehem – Efrata uit jou sal Iemand kom,
God sal die wêreld regeer deur Hom!
U bly nie vir altyd vir ons kwaad,
verbondstrou vervul U ewige raad. Kern verse
(Miga 7:18)

Sefanja – oordeelsdag

Naby is die Here se oordeelsdag:
benoudheid, storms, verwoesting, nag!
Jy moet na die wil van die Here vra,
miskien hoef jy dan nie die straf te dra.
(Sef 1:14-15)

Jerusalem, ellende wag vir jou,
omdat jy nie op die Here vertrou.
Ek maak volke se lippe rein.
Ek laat oorbly: nederig en klein.
(Sef 2:3)

Jeremia – laaste uur

Die volk Juda is in hul laaste uur –
sou hulle die juk van ballingskap verduur?
Die heilige, geduldige Pottebakker,
vertraag die oordeel – Juda word wakker!
(Jer 7:23-24, 8:11-12)

Die verbond is verbreek – o die smart…
Jeremia voorspel ‘n nuwe – nou in die hart!
(Jer 31:31)

I, II Kronieke – beheer

Jerusalem het ook in ballingskap gegaan,
die geskiedenis probeer dit verstaan.

God was steeds deur alles in beheer
Dié geskiedenis wil van Hom as Koning leer.
(II Kron 15:2, 15)

Klaagliedere – Kla en hoop

Ag, hoe is Jerusalem: verwoes en verlate.
God het gestraf – bloed loop in die strate.
Dit is goed om te hoop op die Heer,
geduldig bid en wag, genees die seer.
(Klaag 2:5-6)

Priesters, profete en konings het hulself vertrou.
Vermoor, verkrag, kind, man en vrou.
Maar U, Here, U heers vir altyd.
U troon staan vas in elke stryd!
(Klaag 3:22-23)

Esegiël – besef

Dat Ek die Here is, sal jy besef
as afskuwelike dade en dood jou tref!
(Eseg 7:9, 11:19-21)

God sal oordeel oor heidene fel,
en Sy eie volk eendag weer herstel.
‘n Vallei vol droë bene bewe
en voorwaar daar kom weer lewe! Kern verse
(Eseg 36:24-26)

Nahum – straf. Obadja – oordeel.

Ellende wag vir jou, bloedbevlekte stad.
Ninevé geplunder, leeggedra, verniel en plat.
Juda, vir jou feeste, betaal jou gelofte –
jou verdrukker is verslaan volgens belofte.
(Nah 1:7,8)

Edom – Esau se nageslag,
kan God se oordeel maar verwag.
Al het Israel dit nie verdien,
word God’s verbondstrou hierin gesien.
Ob :10,11)

Habakuk – nogtans

Habakuk: “Here, hoe lank moet ek nog wag?”
Here: “Kyk na die nasies en sien My krag.”
Habakuk: “Here, waarom bly U so stil?”
Here: “Doen geduldig net My wil.
Die regverdige moet My loof,
want hy lewe uit sy geloof.”
(Hab 2:4)

Habakuk: “Al sou die vyeboom nie bot,
nogtans juig ek in my God!” Kern verse
(Hab 3:17-19)

Daniël – plan

God het sy engel gestuur
en red die manne uit die vuur.
Met gereelde volgehoue gebed,
word ook Daniël uit die leeukuil gered.
(Dan 2:20-22)

Volk in ballingskap, jul kan weet:
God het sewentig jaar afgemeet.
In krisistye is Hy steeds in beheer,
vir ewig en altyd sal die Messias regeer!

Esra – verby

Na die voorspelde sewentig jaar,
was die ballingskap verby verklaar.
(Esra 1:3)

Esra het die tempel weer herbou
soos altyd is die Verbondsgod getrou.
Esra het hom toegewy aan die wet,
die volk geleer met volgehoue gebed.
(Esra 7:10)

Haggai – herstel

Prioriteite: herstel eers die tempel na prag,
en nie jou eie huis – dan kan jy seën verwag.
(Hag 1:7,8)

Hoe jy dit alles reg sal kan kry?
Al die silwer en goud behoort aan My.
My Gees sal ook altyd by jou bly. Kern verse
(Hag 2:7-9)

Sagaria – voorberei

Met agt gesigte moedig hy aan
en wys so die kerk sal altyd bestaan.
Hy moedig hul aan om die tempel te voltooi
vir die komende Messias: heilig en mooi.
(Sag 8:3)

Nederig, op ‘n donkie sal Hy kom.
Vrede en verlossing kom van Hom.
(Sag 9:9)

Nehemia – mure

In ‘n rekord aantal ure
herbou Nehemia die mure.
(Neh 6:15,16)

Hulle herbevestig die verbond,
deur elke volkslid se mond.
(Neh 8:8)

Ester – voorsien

Juis vir hierdie dag en uur
moes Ester koninginskap verduur.
(Ester 4:14)

Al was die volk in ‘n vreemde land
God laat hul nimmer uit sy hand!
(Ester 8:17)

Maleagi – boksping

Priesters, jul moet Sy Naam eer.
Leviete, jul moet van Hom leer.
Bring vir My een uit elke tien,
toets My: voorspoed sal julle sien!
(Mal 2:17-3:1)

Jou naam lê opgeskryf in ‘n boek en wag…
Brand of vry bokspring op oordeelsdag! Kern verse
(Mal 4:5,6)

Psalms – lof

Die hemel getuig van die mag van God.
Soos heuning is die Here se gebod.
Soos ‘n ribbok maak Hy my voet,
Hy omgord my met krag – dit gaan goed.
(Ps 19. 42)

Prys God in Sy heiligdom,
alles wat asem haal – prys Hom! Kern verse
(Ps 150)

Hooglied – huweliksliefde

Soen my, soen my weer en weer –
dis wat ek meer as wyn begeer…
(Hoog 7:10)

Ek smeek julle vroue,
luister voor julle troue:
Moenie die liefde wakker maak
voor die tyd ryp daarvoor raak! Kern verse
(Hoog 8:7)

Spreuke – wysheid

Kennis begin deur die Here te dien.
Dit help om in alles die waarheid te sien.
(Spr 1:5-7)

Jy moet in alles op die Here vertrou –
op die regte pad laat loop Hy jou.
(Spr 3:5-6)

Prediker – perspektief

Kyk jy met jou aardse bril:
alles kom tot niks – ‘n ronde nul!
Kyk jy deur die bril van geloof:
met dié perspektief kan jy Hom loof!
(Pred 2:24)

Die slotsom is dit: dien God
en gehoorsaam Sy gebod! Kern verse
(Pred 12:13,14)

Job – soewerein

Wie het die aarde afgemeet?
Kan jy vir ‘n leeu iets vang om te eet?
Gee jy vir die perd sy krag?
Verstaan jy die sterre se prag?
(Job 37:23,24)

Job leer nie oor die waaroms van sy pyn.
Hy leer: God is soewerein!
(Job 13:15)