GEDIGTE UIT LEVITIKUS

Tabernakel

Die volk het ‘n tabernakel gebou.
By voltooing het God daarvan gehou.
‘n Wolk het die Allerheiligste omhul,
so is dit met Sy teenwoordihgeid gevul.

Jare later was die tempel voltooi.
Binne was dit rein, heilig en mooi.
Weer het die wolk die tempel omhul
en met God se teenwoordigheid gevul.

Jesus se doop bewys Hy is rein:
Gereed vir God’s werk, al was dit pyn.
Daarom het God se stem Hom omhul
en is Hy ook met die Gees vervul.

Jesus het die voorhangsel laat skeur
en nou kan ek ook daardeur
toegang kry tot die Heiligdom
en toetree in gebed tot Hom.

Deur sy offer in die heiligdom
is my sonde vergeef deur Hom.
Hy het my met Sy heiligheid omhul
en daarom kan die Gees my vervul.

Ek is dus ‘n tempel van die Gees
en so kan God elke dag by my wees,
totdat Hy weer op die wolke kom,
om my te neem na Sy heiligdom!

Offers

Sondeloon bring die dood mee, (Rom 5:12)
daarom moes offers versoening gee:

Kom deur die tent van onmoeting se hek
met ‘n dier sonder liggaamsgebrek.
Voor die priesters die dier verbrand,
dra jou sonde na hom oor met jou hand. (Lev 17:1-4)

Die dier sal vir jou sonde vergoed
en reinig jou met sy bloed. (Lev 17:1)
As jy dit alles so doen,
word jy met God versoen. (Lev 17:5-9)

Offers met ongeregtigheid daarmee saam,
verafsku God en dit verwyder nie die blaam.
Hy verwag ‘n gesindheid van ware berou
van mense wat op Hom vir genade vertrou. (Amos 5:21-25, Jes 1:11-13)

Ons is sondig en vol venyn,
maar deur Sy finale offer en pyn,
het Hy vir ons voor God verskyn
en is ons nou innerlik rein.

Christus se bloed is vir ons vergiet
en so kry ons vergifnis verniet.
Deur Hom het ons vergifnis verdien
en daarom kan ons Hom nou dien! (Heb 9:12-15)

Die versoendag

Dis hoekom ek priesters aangestel het:
Ek het jou eersgeborenes in Egipte gered. (Num 3:41)
Die Leviete moet in My diens staan,
offers bring en die volk My laat verstaan.

Niemand mag in die Allerheiligste gaan
Net die hoëpriester kan daar staan.
Versoeningsdag is net een keer per jaar
om daar die volk se sonde te verklaar. (Lev 16:2,34)

Sy drag moet gewyde linneklere wees
en daarmee saam offer hy ‘n bees.
As hy inloop moet Ek klokkies hoor
en die stene met die stamname voor. (Eks 28:12,29,31-35)

Aäron moet oor twee bokke loot
Vir God sterf een met ‘n offerdood.
Die sonde word op die ander oorgedraag
en hy word in die woestyn ingejaag. (Lev 16:20-22)

Gooi wierook op die kole bak
sodat ‘n wolk oor die ark kan sak.
Reinig die Allerheiligste met bloed
om so vir die volk se sondes te vergoed. (Lev 16:11-16)

Ons het ook ‘n Hoëpriester wat ons red:
Een sonder sonde en sonder smet!
Hy het net een offer gebring
en so die Allerheiligste binne gedring. (Heb 7:23-28, Heb 9:7-12))

Die voorhangsel is geskeur
en ek kan nou ook daardeur!
Ek kan nou toetree in gebed
Om God te dank vir wat ek het.

‘n Nuwe lewe

Die water loop in die Dooie see,
maar dis water wat nie lewe gee:
Vrugtebome groei gulsig,
maar gee vir niemand van hul vrug…

Here as ek my in hierdie beeld so sien,
weet ek dat ek U straf verdien…
Wat kan ek tog dan doen
om my weer met U te versoen?

My seun, die tempel is die begin –
daar moet jy oor alles gaan besin.

Ek sal self moet sien om te verstaan,
maar net die hoëpriester mag ingaan?

Sien jy die voorhangsel is geskeur?
Ek nooi jou in: Stap daardeur!
Wat hier in die Allerheiligste staan,
is lewensbelangrik om te verstaan.

O God, hier is net een ding hier –
die ark, met prysende serafs versier?

Dis al wat jy nodig het vir jou kuur:
Die Verbondsgod self is hier!

O God, ek sal U graag self wil sien
en gee My U Naam dat ek U kan dien?

Moses het My dit ook gevra:
“Ek is”, is die Naam wat ek dra.
Jy sal My beter sien en verstaan
as jy die ark se deksel oopslaan.

Aäron se staf met die blom,
kliptafels geskryf deur Hom
en manna bewaar in ‘n kom.
Ek sien U nog nie, is ek dom?

Die kliptafels is My Woord,
Soek daarin die “Ek is” antwoord.
Dié Woord het op aarde kom woon – mens geword.
“Ek is die wingerdstok, wat wyn as bloed kom stort”

Aäron, as hoëpriester, se toegang is uitgedaag –
die bloeisel aan sy staf wys wat Ek behaag.
Een Hoëpriester het gekom om die gordyn te skeur,
aanvaar Hom as “Ek is die weg na God, die deur.”

Manna het Ek uit die hemel laat reën
vir die uitgedor en honger volk tot seën.
Ek is die Brood van die Vader daarbo,
vir jou gebreek: Neem, eet gedenk en glo.

Kan jy My Seun se woorde onthou:
As jy hierdie tempel op die grond afbreek,
sal Ek dit in drie dae weer bou.
Met die bedoeling Ek sal die graf oopbreek.

As jy My Seun, as die tempel, só sien,
kry jy My, die Ark, se genade onverdien:
Die drie dinge in die Ark vertel: Jy is vergewe,
want Ek is die weg, die waarheid en die lewe.

Jou ou hart van klip gaan nou wees
‘n warm hart van liefdesvlees.
Ja, ‘n tempel van die Heilige Gees
om stromende lewende water te wees.

In die Allerheiligste van die tempel val ek neer,
dit was gevul met die teenwoordigheid van die Heer!
Hierdie is die plek van U troon,
waar U tussen U mense woon!

Eers toe ek ek uitloop het ek gewaar:
In die Heiligste hang ‘n kandelaar
met sewe altyd brandende ligte daar.
“Ek is die Lig” wat duisternis opklaar.

Die offer altaar, wat na ou bloed ruik,
staan nutteloos, ongebruik.
Ek is die Lam, vir jou geslag,
jy kan nou vlekkeloos vir My wag!

By die tempeldrumpel se oostekant
het water gesyfer uit die sand.
Vyfonderd meter weg was dit enkeldiep.
Nog vyfhonderd meter verder kniediep.
Nog vyfhonderd verder was dit by my heup.
Vyfhonderd verder en dit het my weggesleep.

Die water het alles laat lewe,
die Dooie see van vis laat bewe!
Bome so vol vrugte, hul takke kraak
met blare wat mense gesond maak.
Elke maand begin die die bome weer bot,
want die water se oorsprong is van God.

Aanvaar die Weg, die Waarheid en die Lewe
So kan jy weet: Jou sonde is vergewe!
Deur Hom kan jy leer hoe om God te eer
en van dankbaarheidsvrugte te floreer.

Leef heilig

Ek het alles in die heelal gemaak
en is verhewe, uniek en volmaak.
Ek, die heilige God, het jou bevry:
Jy is nou afgesonder vir my. (Lev 19:2)

Wat heiligheid van jou vra,
is eerbied vir jou ma en pa.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:3)

As jy my as enigste God sien,
mag jy nie ander gode dien.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:4)

Wanneer julle oes op die land,
los korrels vir die arme se hand.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:9-10)

‘n Valse eed ontheilig my Naam,
lieg en bedrieg gaan daarmee saam.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:11-14)

Wees onpartydig in elke saak
en nie onregverdig in regs se praak.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:15-16)

Jy moet jou naaste vergewe
en hul liefhê soos jou lewe.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:17-18)

Die eerste opbrengs van jou boord
is vrugte wat aan My behoort.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:24-25)

Jy moet heidense gebruike vermy.
en nie jou liggaam met hul merke sny.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:26-28)

Jy moet die tempel heilig hou
en ook die Sabbatswette hou.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:26-28)

As jy besef dis ek wat jou dra,
sal jy nie hulp by waarseêrs vra.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:31)

As jy eerbied en respek het vir My,
sal jy respek vir oumense ook kry.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:32)

Wanneer ‘n vreemdeling by julle woon
moet julle hom soos ‘n medeburger beloon.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:33-34)

Gebruik ‘n betroubare skaal
as julle weeg en inhoud bepaal.
Ek is die Here julle God,
leef heilig volgens My gebod. (Lev 19:33-34)

Ek is die Here wat bevry.
Ek heilig julle aan My.
Julle moet My voorskrifte leef
en so na heiligheid streef. (Lev 20:7,8).

Levitikus

Vrees God, Hy is heilig.
Voor Hom is jy onveilig.
Jou sonde sal Hy straf-
jy sal brand ná jou graf!

Is daar ‘n pad na Hom?
Kan jy na Hom toe kom?
Hy het diere offers gegee
om alle sonde weg te vee.

Dis ‘n skaduwee van Hom –
Sy kruis was die volle som.
Sy offer was so volmaak
dat almal vry kon raak.

Pleit vir die mens, so onvolmaak
was die Hoëpriester se jaarlikse taak.
Hy het die Allerheiligste ingegaan
om verootmoediging’s weg te baan.

Jesus, as mens, só volmaak
Hy was die Enigste vir die taak
Die voorhangsel is geskeur
Ons het nou toegang daardeur.

Afgesonder vir God,
leef ons na Sy gebod
Ja, ons is nou geheilig
voor God is ons nou veilig!

Wees gerus, na jou graf,
gaan Hy jou nie meer straf.
Jesus het vir jou betaal
en Hy gaan jou kom haal!

PDF DIGBUNDEL: LEVITIKUS

Jy kan hierdie gedigte in ‘n PDF aflaai.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading