GEDIGTE UIT NUMERI

Opstand of God se hand?

My verbonsluiting met julle is nou verby,
begin die trek om die beloofde land te kry.

Die Here sal julle seën
en aan julle beskerming verleen.
Hy sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees in pyn.
Die Here sal julle gebede verhoor
en julle sal nie Sy vrede verloor. (Num 6:24-27).

Die wolk kolom het op die tabernakel gerus,
snags daaroor ‘n vuur wat jy nie kan blus. (Num 9:15-17).

Die volk het opstandig geword en onderling baklei,
toe hulle ‘n onweerstaanbare lus vir vleis begin kry.
Sesonderd duisend mense! Wat ek by U wil weet:
Waar gaan ek vleis kry dat hierdie massas kan eet?
Ons het nie genoeg skape beeste of vee,
daar is nie eers genoeg visse in die see! (Num 11:21-22)

Dink jy nie ek het die mag?
Julle kan ‘n maand se vleis verwag! (Num 11:19-23)

Die Here het met ‘n wind gestuur
‘n swerm kwartels soos ‘n muur!
Hy het dit ‘n meter diep om die kamp laat val,
vir ‘n dagreis ver – miljoene in getal!
Hulle het opgetel en gulsig begin eet,
maar God se hand hierin vergeet. (Num 11:31-32)

Toe ontvlam die toorn van die Heer
en hulle kon die sterftes nie keer. (Num 11:33)

Ook vir jou beloof die Here sy seën,
aan jou sal Hy beskerming verleen.
Dink mooi voor jy weer opstandig raak
oor elke onbenullige aardse saak…
Jy kan regtig God se redding verwag,
of dink jy dalk Hy het nie die mag?

Jou keuse: Kom jy teen My in opstand
of gaan jy glo in die mag van My hand?

Jy gaan dit berou as jy nie vertrou

God het alles in ses dae gemaak
en op die sewende dag gerus. (Gen 2:2)
En toe Adam die eerste keer ontwaak,
het sy lewe begin met ‘n rus!

Adam het hom nie aan die opdrag gesteur
en so is die rus vir ewig versteur…

Uit Egipte se slawerny
het God sy volk uitgelei.
In die woestyn van sy wonders bewus, (Heb 3:11)
was hulle oppad na ‘n land van rus. (Deut 12:10)

Die Israeliete kon die rus nie binnegaan.
Die boodskap om hier te verstaan:
Hulle het God se almag nie vertrou (Heb 3:18, Ps 95, Num 14:11)
en moes dit vir veertig jaar berou!

In die woestyn moes hulle weer
van vooraf rus se lesse leer:

Die tien gebooie se sabbatswet (Ex 20, Deut 5)
het werk op die rusdag belet.
Prakties was hierdie les
dubbeld die manna op dag ses.

Elke sewe jaar moes die lande rus
en die volk van hul afhanklikheid bewus. (Lev 25:21-24)
Die sesde jaar se oes so groot,
dat daar genoeg was vir jaar sewe se brood.

Na veertig jaar was die straf verby
en Josua het die volk in rus ingelei. (Heb 4:8, Jos 14:15 Jos 11:23 21:44)

Van al ons sonde so bewus,
het Hy by ons in ‘n krip kom rus.

Die boodskap wat in jou kop moet draai:
Kom na my toe jy wat uitgeput is en oorlaai!
Ek sal jou rus gee dat jy kan begeer,
my sagte juk en om van My te leer!
Jy sal rus kry vir jou gemoed,
want ek sal vir jou sondes boet! (Mat 11:25-29).

Op die Sabbat is hy gekruisig vir elke daad.
My God, my God, waarom het U my verlaat?
Ek kry hier geen rus, (Ps 22:2,3)
Ek word met asyn gesus!

Jesus het so vooruit gegaan
en op die eerste dag opgestaan.
Hy het daarna opgevaar
en werk aan ons rusplek daar.

Bedags nie ‘n lig soos die son.
Snags die maan nie ‘n bron.
Jou son en maan is die Heer,
‘n ewige rus om Hom te eer! (Jes 60:19-20 en Op 21:23)

… maar as jy nie op Sy almag vertrou,
gaan jy dit vir ewig berou!

Die drumpelwagter

Here, ek smag om in te gaan,
maar ek moet op die drumpel staan. (Ps 84:11)
Hoe lief het ek U woning Heer,
met alles wat ek het, wil ek U eer! (Ps 84:2-3)

Selfs die mossies het ‘n nes by U altaar.
Tot die swaeltjie bring haar kind
om rus en vrede in U huis te vind.
Ai, hoe wens ek ek was ook daar. (Ps 84:4)

As Koragiet is ek ‘n drumpelwagter – (I Kron 9:19)
daar is hartseer geskiedenis daaragter:
My voorgeslagte het ‘n opstand gelei
om die hoëpriester rol vir hul te kry. (Num 16:1-3, 9)

God self het hierdie saak geskik
en Korag is deur die aarde ingesluk. (Num 16:32)
Die ander opstandiges is met vuur verteer (Num 16:35)
Dis duidelik – U is die Heer!

Met kieries is ‘n teken van God gevra.
Aäron sin het bloeisels en ryp amandels gedra! (Num 17:8)
Die kierie is nou nog in die ark wat hier binne staan
om opstandiges te herinner en vermaan. (Num 17:10)

Ek was in trane, dag en nag.
Ek het so getwyfel in die nag. (Ps 42:6,12)
Soos ‘n wildsbok wat na water smag
was my dors na die lewende God se krag! (Ps 42:2-3)

Toe ek deur die dorre laagtes trek
gaan fonteine oop om my te versterk.
Keer op keer ontvang ek nuwe krag
en vroeë reëns se seënende mag. (Ps 84:7-8)

Nou gaan dit goed met U kind,
want ek het my krag in U gevind.
Noudat ek U almag verstaan,
is dit ‘n voorreg om hier staan! (Ps 84:4b-6)

En jy, liewe leser, wat ook op die drumpel staan
wat jy meer as die Koragiet kan verstaan:
Met Jesus se sterwe het die voorhangsel geskeur. (Mat 27:51)
Nou word niemand se toegang meer gekeer. (Heb 10:19)

Die laaste hoëpriester, Jesus, is volmaak
met ons verlossing Sy aardse taak. (Heb 7:25-28)
Hy het een maal die heiligdom binnegegaan (Heb 9:13)
sodat jy nie meer op die drumpel hoef te staan!

Maar jy moet ook die waarskuwing sien
anders gaan jy Korag se straf verdien…
Geen onsedelikheid – lewe tot Sy eer:
Jou liggaam is die tempel van die Heer. (I Kor 6:15-20, Jud 1:4, 10-11)

Kyk op in geloof

Ons is sat vir die slegte kos wat U ons gee…
Hy stuur toe giftige slange en straf hul daarmee. (Num 21:5-6)

Ons bely ons het sonde teen God gedoen,
bid tot God om ons met Hom te versoen. (Num 21:7)

Kyk na die koperslang op die paal:
Redding word deur geloof bepaal. (Num 21:8-9; Joh 3:14-15)

God het vir die wêreld in liefde omgegee,
daarom het Hy Sy enigste Seun gegee,
sodat die wat glo nie verlore sal gaan,
maar vir ewig by Hom sal lewe en bestaan. (Joh 3:16)

Ook ek is in sonde verstrik,
deur Satan in die hakskeen gepik…

O God, ek bely ek is verrot
en sondig teen elke gebod!

Kyk op na My Seun op die kruis:
Geloof bring jou na My huis!

Bileam

Die leiers van Moab het Bileam gaan soek.
Hy moes die Israeliete vir hulle kom vervloek. (Num 22:6-7)
God: Staan hulle versoek teen,
want daardie volk is geseën. (Num 22:12)

Balak stuur hulle weer na waar Bileam woon.
Jy moet kom – ek sal jou goed beloon!
Gaan saam soos hulle wil hê,
maar jy mag net doen wat Ek sê.

Bileam het toe agteraf oorweeg
om vir geld hierdie onreg te pleeg. (II Pet 2:15-16)
Die Here het kwaad geword to Bileam gaan.
Die Engel van die Here het voor hom gaan staan. (Num 22:22).

Toe die donkie voor die Engel gaan staan
het Bileam hom drie keer hard geslaan.
Die donkie het toe met Bileam gepraat:
Hoekom slaan jy my en word jy kwaad? (Num 22:27-28)

Die Here het Bileam se oë oopgemaak,
toe sien hy die Engel van die Here raak.
Ek het drie keer voor jou kom staan,
want jy het op ‘n gevaarlike pad gegaan. (Num 22:32-33)

Ek het sewe altare gebou,
vervloek die volk dan nou!
Ek sien ‘n volk – afgesonder vir Hom,
met getalle wat elke mond verstom. (Num 23:9-10)

God hou sy beloftes, moet jy besef:
Geen ramp sal vir Israel tref!
Deur hierdie woorde moet jy leer:
soos ‘n leeu sal hulle jou verskeur! (Num 23:18-24)

Ek sien God is aan Israel se kant:
Hulle sal tuine langs riviere plant.
Die waterkruike loop van oorvloed oor.
Al die nasies wat teen hom veg verloor. (Num 24:6-9)

Ek sien hom,
maar hy kom nog nie nou.
Ek kyk na hom,
‘n Ster sal uit Jakob ontvou. (Num 24:17)

‘n Heerser staan uit Israel op
en verpletter Moab se kop.
Hy vernietig die wat teen hom opstaan.
Edom en Seïr sal hy ook verslaan. (Num 24:17-18)

Barak, as jy hierdie volk wil verslaan,
moet jy hulle sterkpunt verstaan
Hulle God het ‘n streng gebod:
Hulle moet in afsondering leef vir hul God. (Op 2:14).

Die Moabitiese vrouens was mooi
en het die Israelitiese mans genooi
om saam offers te bring vir hul gode,
al was dit deur God streng verbode. (Num 25:1-2)

Hulle het daar onsedelik opgetree
en dit bring toe God se toorn mee. (Num 25:3)
Die volk het by die tent van ontmoeting staan en treur.
Vier en twintig duisend het hul lewens verbeur. (Num 25:9)

En jy leser, as jy dalk wonder:
Ook jý is vir God afgesonder.
Jy moet daarom Sy boodskap verkondig:
Jy is uit duisternis geroep, moenie sondig! (I Pet 2:9)

Jy moenie eers oorweeg
om Bileam se bedrog te pleeg. (Jud 1:11)
Die wêreld sal jou haat
vir elke goeie daad. (Joh 15:19).

Ek sal vir julle die Gees stuur
sodat julle dit kan verduur.
Omdat julle aan My behoort
getuig dan van My Woord. (Joh 15:19; 15:26)

PDF DIGBUNEL: NUMERI

Jy kan hierdie gedigte in ‘n PDF aflaai.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading