GEDIGTE UIT RIGTERS

Rigters oorsig

Die boek is soos volg verdeel:
Finale oorwinning was ‘n miete.
Kompromie: Leef met Kanaäniete.
Konflik: Oorlog met Kanaäniete.
Gevolg: Leef soos Kanaäniete.
Ja, moenie met sonde speel!

Finale oorwinning was ‘n miete:
Israel is wel die beloofde land in,
maar al die volke is nie oorwin.
As toets is van die vyand gelaat:
Sou hul God vertrou of verlaat?

Kompromie: Leef met Kanaaniete.
Die volk het hul gevegte verloor:
“Ons kort ‘n leier om aan te spoor.”
Maar wat hulle nie meer onthou:
Is dat hulle net op God moet vertrou.

Ons sal maar tussen hulle moet bly
ons moet net hul gewoontes vermy…
Die gevolg was afval en afgodery.
Die oordeel van God sal hul kry.

As straf stuur Hy ‘n invallende nasie.
Die volk is onderdruk sonder grasie.
Na verloop van tyd kry hul berou.
God bevry sodra hul weer vertrou.

Konflik: Oorlog met Kanaäniete.
Hierdie siklus herhaal in die boek:
Omgang, afval, oordeel, soek.
Telkens, deur rigters, weer bevry
so, God se geduld met jou en my!

Hierdie siklus was wyd verspreid:
Otniël, Ehud en Samgar – Suid.
Debora en Barak in die Noord.
Ja, dieselfde siklus in elke oord.

Abimelek, Tola en Jaïr – sentraal,
daar ook Gideon se unieke verhaal.
Jefta, het daar in die Ooste kom red
maar daar sy dogter se lewe verwed.

Teen die magtige Fillistyne in die weste,
het Simson gedink hy weet die beste.
Delila, die heidense vrou, knip sy haar
en so eindig sy lewe met die pilaar…

Gevolg: Leef soos Kanaäniete.
Miga, het vir homself ‘n tempel gebou.
Sy verval, het die hele volk Dan geknou.
Toe hulle godsdiens begin verval,
was hulle sosiaal en moreel ook mal!

Dit het toe nog verder versprei
en die hele volk na oorlog gelei…
God se wil was heeltemal weg –
almal gedoen volgens eie reg.

Ja, moenie met sonde speel!
As jy dink jy kan met sonde meng,
is jy, soos Israel, in jou denke eng.
Al wat jou op die regte pad kan hou:
Jy moet op God alleen vertrou.

Jesus, die enigste ware Rigter.
Die rigters het maar swak gelyk
en tog het God hul so gebruik.
Dit wys verlossing kom van Hom –
Jesus Christus is die volle som!

Die rigters kon net red vir ‘n ruk,
dan is hulle weer in sonde vertsrik.
Rigter, Jesus, maak jou silwer skoon
dat jy vir ewig by Hom kan woon!

Het jý My opdragte verstaan?

Here, wie moet eerste gaan veg?
Juda is eerste – maak julle reg.
Ek gee die land in jou mag
en so wen Israel die eerste slag. (Rig 1:1-4)

Hulle het Adoni-Besek se duime en tone afgesny.
“Ek het dit met sewentig konings gedoen,” sê hy.
God het dit alles gesien
en my die straf gegee wat ek verdien. (Rig 1:5-7)

Met Juda se aanvalle het dit goed gegaan,
hulle het verskeie stede verslaan. (Rig 1:8-11)
Maar toe hulle Simeon saam laat gaan,
kon hulle die inwoners van die Vlakte nie verslaan. (Rig 1:17-18)

Die Benjaminiete het die Jebusiete nie verslaan,
saam het hulle in Jerusalem bestaan. (Rig 1:21)
Vir die Josefstam het God Bet-El afgemerk,
maar hulle het met ‘n perverse saamgewerk.

Ook Efraim en Manasse wen nie die stryd
en volg liewer ‘n saambly beleid. (Rig 1:27-29).
Simeon, Aser en Naftali se halwe stryd
dwing die vyand na dwangarbeid. (Rig 1:30-32)

Sonder om hom vreeslik in te span
verdryf die Amoriete die stam Dan. (Rig 1:33-34)
Tussen al die slegte berigte deur,
nie veel om mens op te beur…

Tog staan daar geskryf:
Kaleb het Enakiete uitgedryf. (Rig 1:20)
Om die krag van die stelling te verstaan,
moet ons terug in geskiedenis gaan:

Die verkenners het kom verklaar:
“Ons moenie veg nie daar is reuse daar!
Die Enakiete is reuse met groot vemoë
ons was soos sprinkane in hulle oë!” (Num 13:26-33)

Net Josua en Kaleb het vas gestaan
met die wete dat God kán verslaan.
Die volk se geloof was so klein
Die straf: Veertig jaar in die woestyn.

Vyf en veertig swaar jare later
het Kaleb se geloof nie afgewater.
Toe Josua die land verdeel,
kies Kaleb die Enakiete se deel. (Jos 14:10-13)

Met God aan sy kant
word Hebron sy land. (Jos 14:15)
Hier is Abraham as God se vriend begrawe. (Jak 2:23)
As asielstad word hierde ‘n veilige hawe. (Jos 20:2,3,7)

Het jy wat My opdragte mooi verstaan
ook net halfpad met die uitvoering gegaan?
Of ontvang jy in geloof
alles wat Ek jou beloof?
Dink jy jy het dit vir jouself gekry?
Ek wil dat jy ander daarmee bevry!

Die Engel van die Heer
is van Gilgal na Bokim om te leer:
Ek het julle uit Egipte gelei
by My het julle ‘n verbond gekry. (Rig 2:1-2)

Ek sal my verbond met julle nie verbreek,
maar julle moet die vyand se altare afbreek.
Waarom het julle nie na My geluister?
Julle toekoms lyk nou duister! (Rig 2:3-5)

Die volk van Josua se geslag het gesterf
sonder om kennis van die Heer te erf.
Hulle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer
deur die Baäls en Astartes te dien en eer. (Rig 2:10-13)

God het vir die volk straf gebring
en roofbendes het hul ingedring.
Hulle moes dit eintlik weet,
God het dit voorheen bevestig met ‘n eed. (Rig 2:14-15)

In hul nood roep hul na Hom
dan laat Hy leiers na vore kom,
wat hul red uit die vyand se mag
as Hy in medelye sy straf versag. (Rig 2:16-18)

Maar as die leier dan sterf,
sit hul net meer sonde op die kerf.
Dan begin die siklus weer van voor,
want hulle het God se wil nie gehoor. (Rig 2:19-23)

Het jý My opdragte mooi verstaan
of het jy ook in dié siklus gegaan?
Bid dat jy staande kan bly
met alle vertroue net in My.
Staan vas in jou geloof
en kry wat Ek jou beloof!

 

Otniël

Die Here het van die nasies met rus gelaat
sodat die volk in oorlogservaring kon baat.
Hy wou ook kyk of hul gehoorsaam sou wees
in wat sy gebooie en voorskrifte lees. (Rig 3:1-5)

Die Israeliete het met die ander nasies begin trou –
dit het gelei dat hulle hul afgode begin vertrou…
God het hulle deur die vyand laat verslaan
vir agt jaar was hulle hul onderdaan. (Rig 3:6-8)

In hul nood roep hul na Hom
en laat hy ‘n redder na vore kom.
Otniël ontvang so die Here se Gees:
Vir veertig jaar was daar vrede gewees. (Rig 3:9-11).

Otniël se naam beteken God se krag
Hierin sit ‘n boodskap vir jou vandag:
God het vir jou ‘n Verlosser gestuur
Hy het alle mag, ja ook in hierdie uur! (II Pet 1:3, Kol 2:15)

God is regverdig en getrou:
As jy jou sonde opreg berou
en voor God jou sonde bely,
sal jy reiniging en vergifnis kry. (1 Joh 1:9).

 

Ehud

Toe die Israeliete weer afdwaal,
begin die siklus hom herhaal.
Eglon het die Palmstad verslaan
en die volk word sy onderdaan. (Rig 3:12-14)

In nood het gebede weer opgeskiet
en God stuur Ehud die Benjaminiet.
Hy was sterker in sy linkerhand
met ‘n swaard aan die ander kant. (Rig 3:15-18)

Ehud het aan Eglon belasting betaal
maar by Gilgal draai die verhaal.
Afgodsbeelde het daar gestaan, (Rig 3:19-23)
maar Josua se klippe het vermaan… (Jos 4:20-24)

Van voorspoed was Eglon baie vet.
Dis hoekom sy naam ook betekenis het:
“Jong kalf”, vetgemaak om te slag
en so eindig sy lewe dié dag. (Rig 3:24-26)

Ehud het die ramshoring geblaas:
Ons moet ons na Moab toe haas.
God gee die vyand in ons mag
en so kry hul weer vrede deur Sy krag. (Rig 3:27-31)

Het jy hierin die boodskap vir jou gekry?
Moenie oor jou andersheid skaam kry.
Hou My tweesnydende swaard aan jou sy,
want met My Woord kan ander genesing kry. (Heb 4:12)

 

Debora en Barak

Na Ehud se dood het die Israeliete weer
gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer.
God het hulle oorgegee in Jabin se mag.
Nege honderd strydwaens was Sisera se krag.
Twintig jaar het hulle onderdrukkend gely,
daarom het hulle gebid dat God hul bevry. (Rig 4:1-3)

Debora, die vrou van Lappidot
is as leier gekies deur God.
Sy was ook regter en profetes:
Vir afwesige manne ‘n les. (Rig 4:5-6)

Sy het Barak as leier na die vyand gebring
en na die oorwinning saam ‘n loflied gesing:

Julle moet die Here prys:
Hy is almagtig en wys!
Leiers het weer opgetree
en tot die stryd toegetree. (Rig 5:1-2)

Luister konings wat regeer:
Ek sing tot my God se eer!
Toe U optrek het die berge gebewe.
Met reën gee U ons lewe. (Rig 5:3-5)

In die dae van Jael was die hoofpaaie stil.
Die volk was onderdrukkend met vrees gevul.
Nie een van Israel se soldate het verskyn.
Die lewe buite die stede in Israel het gekwyn. (Rig 5:6-8)

‘n Moeder in Israel het tevore gekom –
Debora was gekies as rigter deur Hom. Rig 5:7)

Oral waar julle donkies reis
moet julle God se dade prys.
Praat by die drinkbakke daaroor:
Almal moet die boodskap hoor! (Rig 5:10-11)
Maak klaar Barak, wees nie bang:
God sal jou die vyande laat vang. (Rig 4:6-7, 5:12)

Die volk van die Here het kom veg
Efraim, Manasse en Benjamin was reg.
Sebulon met die heerser septer voor
selfs uit Amalek gee hulle gehoor.
Issaskar en Barak kry die laagte in hul hand.
Naftali trotseer die dood in die hoë land. (Rig 5:13-15,18)

Maar Ruben het net baie gepraat
en nie oorgegaan tot enige daad.
By die veetroppe het julle met fluite gespeel…
Gilead het hom ook nie aan die oproep geskeel.

Waarom het Dan by sy skepe gebly
en kon jy Aser op die seestrand kry? (Rig 5:15-17)
Vervloek is Meros: Vat sy genade weg,
want hy het nie vir die Here kom veg. (Rig 5:23)

Vyandige konings het kom veg
maar buit van silwer bly net weg.
Toe sterre uit die hemel veg is dít wat gebeur:
Die Kisonrivier het die vyand meegesleur! (Rig 5:19-22)

Geseënd is Jael, vrou so beeldskoon,
meer geseënd as alle vroue wat in tente woon.
Sy gee vir Sisera die koningsbeker aan,
maar het hom met ‘n tentpen doodgeslaan. (Rig 5:24-27)

Sisera se ma het gestaan en kla
waarom talm my seun se strydwa?
Haar slimste hofsame gee die raad:
‘n Meisie of twee vir elke soldaat… (Rig 5:28-30)

Mag al U vyande so omkom, o Heer.
Vir die wat U liefhet skyn die son weer.
God gee die vyande in ons hand,
daarom is daar weer vrede in die land. (Rig 5:31)

Besef jy ons doen alweer
wat verkeerd is in die oë van die Heer?
Dat sonde weer die oorhand het?
Bely innig tot God in gebed.

Jy wat soos Ruben so baie praat,
wanneer gaan jy oorgaan in daad?
Jy met die luuksheid by die see,
wanneer begin jy iets gee?
Manne hoe lank gaan julle nog weier
terwyl God julle roep as geestelike leier?

Vroue in hierdie tyd ook vir jul ‘n les:
God roep julle – party as profetes.
Vir ander het Hy ‘n tentpen gegee
om tot die stryd toe te tree.

As ons tog weer na Hom luister,
maak Hy ‘n einde aan die duister.
Deur die almag van Sy hand
gee Hy vrede bo menslike verstand.

 

Gideon

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer
Weer moes hulle die les met onderdrukking leer:
Hulle moes langs bergstroompies in grotte bly
en het niks van hul lande se opbrengs gekry. (Rig 6:1-5)

In Egipte was julle gedompel in slawerny,
Ek het julle uit daardie verdrukking bevry.
Julle het hierdie land gekry sonder om dit te verdien
met die opdrag: Julle mag nie ander gode dien.
Julle het nie na My geluister
en moet om hulp smeek met ‘n fluister… (Rig 6:6-10)

Gideon het binne ‘n parskuip gestaan
en wegkruipend koring uitgeslaan.
Die Engel van die Here het aan hom verskyn:
Dapper man, Ek is by jou in jou pyn! (Rig 6:11-12)

Ekskuus, Meneer, was die Here by my
sou ons nie nou so swaar kon kry.
Ons is vertel van die verlede se magtige daad,
maar nou het die Here ons in die steek gelaat. (Rig 6:11-13)

Voel jy ook God het jou in die steek gelaat?
Kry dan weer prespektief oor Sy daad:

In alles word ons verdruk,
maar is nie terneergedruk;
ons is oor raad verleë,
maar sal nie radeloos opgee;
ons word vervolg deur wrede daad,
maar word nie deur God verlaat. (II Kor 4:8-9)

Met die krag wat jy het
moet jy die volk gaan red!

Ekskuus, Meneer, ek dink nie U verstaan
wie ek is en waarmee moet ek gaan?
Manasse, die armste familie, kan niks verdien
en van die kinders het ek die minste aansien. (Rig 6:14-15)

Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan
asof daar nie meer as een van hulle bestaan. (Rig 6:14-16)

Gee my ‘n teken dat ek kan weet U is die Heer.
‘n Vuur uit die rots het die vleis en brood verteer. (Rig 6:17-21)
Ek het die Here van aangesig tot aangesig gesien!
My altaar se naam is: Die Here gee rus wat ek nie verdien. (Rig 6:22-24)

Breek af die altaar vir Baäl
en bou my altaar soos Ek bepaal,
sodat jy jou met my versoen.
Gideon het dit in die nag gedoen… (Rig 6:25-27)

Die Gees van die Here het Gideon gevul
en hy het hom met vegters omhul. (Rig 6:34)
Twee en dertig duisend aan sy sy (Rig 7:1-7)
moes honderd vyf en dertig duisend onderkry. (Rig 8:10)

Ek sal weet dat U ons wil red
as die vlieswol dou op het…
Word asseblief nie vir my kwaad,
maar doen ook die omgekeerde daad.
God het die wol droog gehou
maar op die grond was daar dou! (Rig 6:36-40)

Gideon en al sy manne het kamp opgeslaan,
maar God sê jy moet die volgende verstaan:
As jy so baie manne by jou het
gaan jy sê: Ek het myself gered. (Rig 7:1-2)

Die manskappe wat van vrees bewe
kan terugdraai na hul huislike lewe.
Twee en twintig duisend het gegaan,
tien duisend het bly staan. (Rig 7:2-3)

Net driehonderd manne het gedink
en nie haastig gekniel om te drink.
Met hulle sal Ek jou vyand verslaan –
laat die ander huis toe gaan! (Rig 7:4-7)

Gaan die vyand se kamp in te voet,
luister wat hulle sê en kry moed. (Rig 7:9-12)

Ek het gedroom van ‘n ronde brood:
God gee Midian vir Gideon om te dood!
My slaaf, Pura, het jy dit gehoor?
God gee die vyand in ons mag oor. (Rig 7:13-15)

Toe leë erdekruike breek
en fakkels word aangesteek,
toe ramshorings die stilte versteur,
skreeu hul: Vir Gideon en vir die Heer! (Rig 7:16-20)


Ook ons is kleipotte wat maklik breek,
maar God het ‘n lig in ons harte aangesteek.
Hy wil dat ons die stilte versteur
en skreeu: Ek veg vir die Heer! (II Kor 4:6-7,10)

Die kamp het geskreeu en op vlug geslaan
God het dit bewerk dat hul mekaar verslaan. (Rig 7:16-20)

Sebag en Salmunna het Gideon gedaag
“Lê ‘n man se krag in homself?”, was hul vraag.
Gideon het opgestaan en hulle doodgemaak
en die kamele se maanversierings syne gemaak… (Rig 8:18-21)

Die Israeliete het vir Gideon gesê:
“Jy moet oor ons regeer.”
Dis verkeerd wat julle wil hê:
Die een wat regeer is onse Heer! (Rig 8:22-23)

Ek vra julle egter net een ding
van jul buit gee my elke oorring.
Gideon het ‘n efodbeeld van die goud gemaak
en dit het vir hom en sy mense ‘n valstrik geraak. (Rig 8:24-27)

Swakke leser, God roep jou om vir Hom te werk.
Wees bly, want juis as jy swak is, is jy sterk. (II Kor 12:9-10)
Maar as jy deur God se krag dan slaag,
pasop – dis juis dan wanneer versoekings knaag…

Ook ons is kleipotte wat maklik breek,
maar God het ‘n lig in ons harte aangesteek.
Hy wil dat ons die stilte versteur
en skreeu: Aan Hom die eer! (II Kor 4:6-7,10)

 

Jefta

Die Ammoniete het by Gilead kamp opgeslaan
Wie sal as leier teen hulle op kan staan? (Rig 10:17-18)

Jefta was ‘n seun van Gilead.
Hy was ‘n dapper soldaat.
As prosituut was sy ma onguur,
sy broers het hom weggestuur… (Rig 11:1-3)

As hulle God in gebed sou vra,
sou hulle hulle anders gedra?

Die Ammoniete was tot oorlog oorgehaal,
so die leiers het toe weer vir Jefta laat haal.

“Dis julle wat my weggejaag het:
Hoekom moet ek julle nou kom red?
Ek sal dit doen as julle my leier maak.”
En voor God bekragtig hulle die saak. (Rig 11:4-11)

Hulle het God in gebed gevra,
daarom sou Hy hulle hierdeur dra.

Jefta het in onderhandeling ingegaan
om die rede vir die oorlog te verstaan.
Dit het alles oor grond besit gegaan:
Hulle eis van Arnon tot by die Jordaan. (Rig 11:12-13)

Jefta het hulle weer die geskiedenis vertel,
van die trek deur die woestyn van Israel. (Rig 11:14-18)
Israel wou destyds net deur julle land trek,
maar julle het toe vir oorlog opgetrek.

Die God van Israel het julle toe verslaan:
Ons besit kom daarvandaan. (Rig 11:19-24)
Die voorval was driehonderd jaar gelede,
ons het niks teen jou gedoen in die hede.

God sal uitspraak gee oor wie is reg
as ons dan vandag hieroor moet veg. (Rig 11:25-28)

Jefta ontvang toe die Gees
en weet dat God by hom sou wees.
Tog het hy ‘n gelofte afgelê
en die volgende gesê: (Rig 11:29-30)

“As U die Ammoniete oorgee in my mag,
sal ek die eerste wat by my huis vir my wag
aan U wy en as offer en vir U verbrand.”
Die Here gee toe die vyand in Sy hand. (Rig 11:29-33)

As hy God in gebed sou vra,
sou hy hom anders gedra?

Sy dogter het hom tegemoet gedans met tamboeryn.
“Ag, my enigste dogter, ek is nou in ellende en pyn –
Ek het my woord aan die Here gegee…”
“Pa moet my asseblief nog twee maande gee.” (Rig 11:34-37)

Afgryslike woorde word hier gesê:
Hy het met haar gehandel volgengs sy gelofte afgelê…
Sy het die gemeenskap met ‘n man verbeur
en meisies het elke jaar oor haar getreur. (Rig 11:38-40)

Efraim voel toe vreeslik verontreg:
“Waarom het jy sonder ons gaan veg?”
“Ek het gevra, maar die antwoord was nee,
God het die vyand in my mag oorgegee.” (Rig 12:1-3)

As hulle God in gebed sou vra,
sou hulle hulle anders gedra?

Maar niks kon Efraim se woede stuit –
‘n burgeroorlog breek toe uit.
By die Jordaan is die dood uitgespreek
oor die wat nie Sjibbolet uit kon spreek. (Rig 12:4-6)

Jefta het Efraim verslaan in die vreeslike euwel:
Twee en veertig duisend man het gesneuwel.
Die hartseer agtergrond om te verstaan:
Beide die stamme het uit Josef ontstaan… (Rig 12:7)

Onverdraagsaam teenoor hulle broer.
Onbillike vyand kom in oproer.
Gelofte om iemand te verbrand.
Burgeroorlog in die land.

As jy terugkyk oor jou lewe,
hoeveel ander moes voor jou bewe?
As jy God in gebed sou vra,
sou jy jou anders gedra?

As die krisisse jou laat kla,
mag Jesus se gebed jou dra:
O Vader, ek het U kinders van U geleer
en so U Naam verheerlik en geëer. (Joh 17:1,4)

Hulle wat U Naam werklik ken,
sal wel die ewige lewe wen! (Joh 17:2-3)
Maak hulle werklik aan U toegewy
as hulle in hierdie wêreld vir U stry. (Joh 17:23)

 

Simson se geboorte

Die Israeliete het nog ‘n keer
gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer.
Hy het hulle oorgegee in Filistynse mag
maar ook in dié verhaal wys God Sy krag… (Rig 13:1)

Manoag se vrou het in kinderloosheid gekwyn.
Die Engel van die Here het aan haar verskyn:
“Jy sal ‘n seun in die wêreld bring,
jy mag niks onrein oor jou lippe bring.” (Rig 13:2-4)

Sy hare mag jy glad nie sny
en jy moet Hom aan God wy.
Hy sal die Israeliete begin red
uit die greep wat die Filistyne oor julle het.” (Rig 13:4-5)

Die vrou doen toe aan haar man verslag
oor die engel van God, ‘n man met gesag.
“O God, stuur die man van God tog weer
om ons oor die seun se opvoeding te leer.” (Rig 13:6-8)

Die Engel van God verskyn toe weer aan die vrou.
Sy hardloop na haar man toe: “Kom tog gou!”
“Wat moet die kind doen en hoe moet hy hom gedra?”
“Jou vrou moet leef soos ‘n Nasireër se ma.” (Rig 13:9-14)

“Wag tog net ‘n rukkie daar
dan maak ek ‘n bokkie gaar.”
“Bring eerder ‘n brandoffer aan jou Heer.”
“Wat is u naam sodat ons u kan eer?”

“My Naam kan mense nie verklaar:
Dit is vir julle te wonderbaar.”
Die vlam van die offer het hemel toe gegaan
en die Engel van die Here daarmee saam. (Rig 13:15-20)

Manoag: “Ons gaan sterf want ons het God gesien.”
Die vrou: “Ons kry genade wat ons nie verdien!”
Die vrou het toe die seun gekry.
Die Gees van die Here het hom gelei. (Rig 13:21-25)

 

Simson se troue

“Ek gaan met ‘n Filistynse meisie trou.”
“Kry eerder onder jou eie volk ‘n vrou?”
Sy ouers het nie besef alles kom van die Here af.
Hy wou ‘n geleentheid skep om die Filistyne te straf. (Rig 14:1-4)

Met die sterkte van die Heer
het Simson ‘n leeu verskeur.
Later oppad troue toe het hy
heuning in daardie karkas gekry. (Rig 14:5-9).

Simson het ‘n feesmaal laat hou
Dertig Filistynse “vriende” het ‘n ogie gehou…
As julle die raaisel kan vertaal,
sal ek met dertig stelle klere betaal:
“Uit ‘n eter kon ek my voed,
uit ‘n sterke was die smaak soet.” (Rig 14:10-14)

“As jy ons nie jou man se raaisel leer,
sal ons dat vuur jou en jou familie verteer!”
Simson se vrou het by hom bly neul
tot hy die antwoord met haar deel. (Rig13:15-17)

Hulle kon hom toe die antwoord gee:
“Wat is sterker as ‘n wilde leeu?
Soeter as heuning as honger skreeu?”
“Julle vat my kalf en ploeg daarmee!” (Rig13:18)

Met die Gees se krag het hy gegaan
en dertig man doodgeslaan.
Dertig Filistynse lyke lê toe kaal,
want hy het met hulle klere betaal…(Rig13:19-20)

Simson se optrede is maar verdag?
Tog lees ons dis met die Gees se krag.
Die gedeelte wil ons leer,
ongeag bly God in beheer:

Die duiwel loop leeu-brullend rond
om ons te verslind en te verwond. (I Pet 5:8)
Maar die Leeu uit Juda se stam
behaal die oorwinning as Lam. (Op 5:5, 21:23)

Daarom is Sy klere is ook verdeel
om die wêreld se sonde te heel:
“Vader, vergeef hulle hulle weet nie wat hul doen!”
En so is ons met God ons Vader versoen! (Luk 23:34)

So ons weet dat met hierdie daad
ons Bruidegom ons nie sal verlaat. (Joh 3:29)
So, Simson se gebroke troue verhaal,
laat ons uitsien na die Lam se bruilofsmaal! (Op 19:9)

 

Waar kom jou krag vandaan?

Drie honderd jakkalse aan hul sterte gebind,
het die Filistyne se koring en boorde verslind. (Rig 15:1-8)
Ons sal moet verstaan
waar kom sy krag vandaan…

Met die kakebeen van ‘n donkie in sy hande
maak hy ‘n hoop van duisend lyke van vyande. (Rig 15:14-17)
Ons moet dringend verstaan
waar kom sy krag vandaan…

Hy het die stadspoort, kosyne en al uitgeruk
en oor die berg gedra. Die vyand was verskrik. (Rig 16:1-3)
Niemand kon verstaan
waar kom sy krag vandaan.

Simson het op Delila verlief geraak,
maar met omkoopgeld is sy getaak
om uit te vind waar lê Simson se groot krag,
om hom so uit te lewer in die Filistyne se mag. (Rig 16:4-5)

“Simson ek wil verstaan:
Waar kom jou krag vandaan?”
Dit was nie in boogsnare,
toue was swakker as gare,
materiaal en pen kon hom nie hou…

“Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou?” (Rig 16:4-16)
“Dis van my hare waarvan ek my krag kry.”
En so het hulle sy sewe haarlokke afgesny.
Die Here het hom verlaat – sy krag het verdwyn.
In kettings geboei het die leë oogholtes gepyn… (Rig 16:17-21)

Terwyl hulle juigend vir Dagon fees vier
roep hulle: Bring vir Simson gou hier.
Duidelik het hulle nog nie verstaan
waar kom Simson se krag vandaan… (Rig 16:22-26)

“Here my God, dink tog weer aan my,
laat ek nog een keer weer krag kan kry.”
Hy het die tempel op die Filistyne laat val
en so sterf die vyand duisende in getal. (Rig 16:27-31)

Die Hebreërs boek het Simson geloof
as ‘n held wat glo in wat God beloof.
Juis toe hy swak was in eie krag,
wys God deur Hom Sy groot mag. (Heb 11:32-34)

Jou krag is nie in snare,
selfs ook nie in lang hare.
Jy kry krag deur te glo
in jou Verlosser daarbo!

 

Reg in eie oë

Miga se ma het haar silwer gesoek
en die man wat dit gesteel het vervloek.
Toe Miga, haar seun, sy sonde teen haar bely,
het sy die silwer aan die Here gewy. (Rig 18:1-3)

Maar hulle het die ware God versaak
en ‘n afgodsbeeld daarvan gemaak.
In daardie tyd het Israel nie ‘n koning gehad:
Wat reg is en eie oë – so was elkeen se daad. (Rig18:4-6)

‘n Jong Leviet het weggegaan
op soek na ‘n beter bestaan.
“Ek sal jou betaal as jy by my bly
en ek sal jou dan as priester wy.” (Rig 16:7-13)

Die stam Dan het hulle grondgebied verbeur.
Hulle stuur toe vyf manne: “Gaan kyk die land deur.”
Hulle vra na God se wil vir die afgodspriester by Miga se huis.
“Gaan gerus! Die Here is by julle op julle reis.” (Rig 17:5-7)

“Optrek moet ons gewis –
daardie volk is houtgerus.
Die Here gee ons ‘n plek van waarde
waar daar niks kortkom op aarde!” (Rig 17:8-12)

Oppad wou hulle die afgodsbeelde van Miga vat.
Toe die jong priester hulle probeer keer:
“Kom wees ons priester om ons te leer.”
Die priester was tevrede het die beelde saamgevat. (Rig 17:13-21)

Hulle het die stad Lajis verbrand:
Dit word toe Dan – húlle land.
Hulle het die afgodsbeelde opgestel
en hier teen die einde word vertel:

Jonatan die priester, ja, Moses se kleinseun!,
lei Dan in afgodsdiens, maar verwag God se seën…
In daardie tyd het Israel nie ‘n koning gehad:
Wat reg is en eie oë – so was elkeen se daad. (Rig 17:27-31)

Meet jy met jou eie oë
of is hulle neergeboë?
Wees soekend na God se weg
in Sy Woord wat wys wat is reg!

In die nuwe stad was duisende in getal,
maar die stam van Dan het weggeval. (Op 7:4-8)
Ons verdien dieselfde straf
as God skei die koring en kaf…

Maar ons redding kom van God op die troon:
Deur die Lam se bloed is ons klere wit en skoon! (Op 7:10-17)
Die lof en die heerlikheid, wysheid, dank en die eer,
die mag en die sterkte behoort aan God, ons Heer! (Op 7:11-12)

 

DIGBUNDEL: RIGTERS

Jy kan hierdie gedigte in PDF aflaai.

Mens ontrou, God getrou

Byvrou
ontrou.
Haar gaan kry
oorgebly.

Gibea veilig?
Onheilig…
Verkrag.
Doodsnag.

Opgesny.
Versprei.
Gruweldaad:
Ons moet praat!

God gehoor.
Geveg verloor!
Berou.
Vertrou.

Vyf en twintig duisend lewens verloor.
Net ses honderd by die rots oor.
Geen vroue.
behoue.

Bet-El berou.
Altaar gebou.
Jabes ontrou
vat hul vrou.

Meisies dans.
Gebruik die kans.
Gryp ‘n vrou
om stam te bou…

Geen koning.
Eie woning.
Waaroor die betoog?
Reg in my oog!

Mens sonde.
Jesus wonde.
Mens ontrou.
God getrou.

 

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading