GEDIGTE UIT DIE OERGESKIEDENIS

Genesis

In Genesis een tot elf,
kan jy gerus maar delf.

Daar was vier oer gebeure:
Skepping, sondeval,
vloed en toringmal.

In die res van die boek
kan jy ook maar soek.

Daar was vier groot here:
Abraham, as volksvader geag.
Isak amper as lam geslag.
Jakob van bedrieg na eer.
Josef leer God in beheer.

Maar as jy die kern soek
van hierdie eerste boek:

Die God wat alles maak,
het betrokke geraak
en ‘n verbond gegee,
met beloftes daarmee:

Hy het beloof ‘n land
en kinders soos sand.
Vir die nasies tot seën,
deur Christus alleen!

Die Oergeskiedenis

God het alles in ses dae gemaak:
deur Sy stem, die skeppingstaak. (Gen 1,2)
  Adam en Eva het van die boom geëet
  en straf word vir die mensdom afgemeet. (Gen 3).
   Buite die paradys word nuut begin
   ‘n geslagsregister lei die tydperk in. (Gen 4,5).
    Die mens se verval was nie goed,
    daarom straf God met ‘n vloed. (Gen 6).
   Daar is weer nuut begin
   deur Noag en sy gesin. (Gen 8-10).
  Hul dink die toring kan die hemel haal,
  maar God straf hul en verwar hul taal. (Gen 11:1-9).
Met Abraham het God weer nuut begin,
dit lei die oorsprong van die volk Israel in. (Gen 12 en verder).

God het jou ook gemaak
met ‘n spesefieke taak.
  Jou verval is glad nie goed:
  Jy gaan nog daarvoor boet…
Deur Christus se kruis is jy vergeef.
Deur hierdie begin kan jy nou leef!

Die skepping

Toe het God gesê:
“Laat daar lig wees!”
En dag het gebreek.

Toe het God gebulder:
“Laat daar gewelf wees!”
En die hemel is geskilder.

Toe het God gepraat:
“Skei water en grond.”
En aarde en see gelaat.

Toe het God gemaan:
“Laat daar ligte wees!”
En son het opgegaan.

Toe het God gesê:
“Gee visse en voëls.”
En eiers is gelê.

Toe het God beveel:
“Skep diere en mens.”
En lam en leeu speel.

Toe het God gesus:
“Dit is dag sewe.”
En almal het gerus.

Skepping en herskepping tot My eer

God se magtige skeppingsdaad
kom bloot deur net te praat (Gen 1)
Die hemel getuig van Sy mag,
die uitspandel besing Sy krag (Psalm 19:1-3)
Hy het die mens geskep tot Sy eer. (Gen 1:25-26, Jes 43:7)
Ja, alles is geskep vir en deur Jesus, ons Heer. (Kol 1:16)

  Satan het kom leer:
  Soek jou eie eer… (Rom 3:1-5)
  In die plek van die heerlike onverganklike God,
  stel die mens homself en beelde wat verrot… (Rom 1:21-23)
  Die dood het deur een mens, Adam, gekom
  en ons sterf ook weens ons vebondenheid aan hom.

Die opstanding het deur een Mens, Jesus, gekom
en so kry ek die ewige lewe deur Hom. (I Kor 15:20-22, Rom 5:15-19, I Pet 3:18)
Met dieselfde krag van Sy skeppingsdaad,
is niks na my wedergeboorte diesefde gelaat.
Die Heilige Gees het my kliphart omgekeer:
Nou wil ek uit dankbaarheid God prys en eer! (II Kor 3:18, 4:6)

Skepper Heer, alle eer

God het die hemel en aarde geskep
deur net eenvoudig woorde te rep.
Die Gees het op die waters gesweef.
God het gesê en toe begin dit leef. (Gen 1:1-3)

In die begin was die Woord daar
Self is Hy God, word daar verklaar.
Alles het deur Hom tot stand gekom,
ja, alles het ontstaan deur Hom. (Joh 1:1-3, 1953)

Hy is die Eersgeborene van alles gemaak.
In Hom is alles geskape, al sien ons dit nie raak. (Kol 1:15-17, Heb 1:1-2, Kol 1:16)
Die hemele vertel die eer van God.
Die uitspansel verkondig: liefdesgebod! (Ps 19:2,1953)

Met God se skeppingskrag,
bring God se woorde die dag.
Net so het Hy ‘n lig in ons harte geskyn
en so het die heerlikheid van God verskyn. (II Kor 4:6)

Ek sal sê aan die noorde: Gee!
Elkeen wat My naam beklee,
want Ek het hulle geformeer
ja, geskape tot My eer! (Jes 43:6-7, 1953)

Die beeld van God

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens
as ons verteenwoordiger, ons beeld, is My wens,
sodat hy kan heers oor die vis in die see,
die voëls in die lug, en die diere daarmee.” (Gen 1:26-27, Ps 8:4-9)

As Sy beeld moet ons reflekteer
hoe lyk God se heerlikheid en eer.
Sodat ander mense Hom kan sien
en lus word om Hom ook te dien… (Ps 8:4-10)

Die mens bly verbode vrug begeer
en wil van alle kennis leer. (Gen 3:4-5)
So sondig hulle teen hul Heer.
en reflekteer Sy beeld nie meer. (Rom 3:23)

Hy moes sy Seun toe stuur,
om pyn en smart te verduur.
Ja, Hy, die ware beeld van die Heer,
om sondaar mense te bekeer. (Kol 1:15, Fil 2:6-8)

O God, ek bly ook die verkeerde begeer
ja, ek vertoon U beeld glad nie meer… (II Kor 4:4)
Here werk so in my, deur U Gees,
dat ek meer en meer soos U kan wees! (Rom 8:28-30, II Kor 3:15-18)

God regeer

U hou alle dinge in stand.
Ja, alles is in U hand. (Heb 1:3)
Nie eers ‘n haar val van my hoof
sonder U wil, het U beloof. (Luk 21:18)

U is ten volle in beheer.
U is die een wat regeer. (Heb 1:4)
Al voel dit soms U moes keer,
selfs dan was dit U wil, o Heer. (Gen 50:20)

Dis U manier om my te smee
en so werk alles ten goede mee. (Rom 8:28)
U gebruik elke aardse daad
as deel van U ewige raad. (Ef 1:3-6)

Selfs deur die seer
is U besig om my te leer. (I Pet 1:6-7)
Daarom wil ek U eer
vir alles wat gebeur. (Ef 1:6)

Sondeval

Adam was alleen.
Eva uit ribbebeen. (Gen 2:22-24)
Die slang was listig.
Eva eet rustig. (Gen 3:1-6)

Adam eet saam,
Eva is skaam.
Klere van blaar,
God weet klaar. (Gen 3:7-11)

God jaag uit.
Slang wil byt.
Eva ‘n onderdaan.
Adam werksbestaan. (Gen 3:14-19)

Ek eet saam:
o, so skaam!
Ek wil skuil,
my klere vuil…

Tweede Adam kom:
Alle straf op Hom!
Ek van sonde vry:
Wit klere gekry! (I Kor 15:20-22, Rom 5:15-19)

Die Boom van die lewe

Vir die vrou het God gesê:
Jy sal met pyn kinders hê.
Na jou man sal jy smag,
maar oor jou het hy mag. (Gen 3:16)

Adam, omdat jy jou eie eer soek,
is die aarde deur jou toedoen vervloek.
Net deur harde werk sal jy eet,
jou einde is stof, moet jy weet. (Gen 3:17-18)

God het vir hulle velklere gemaak
en die toegang tot Eden bewaak.
Hulle is weggehou van die boom van die lewe…
Sou God, uit genade, hulle vergewe? (Gen 3:20-24)

Kain en Abel:
Dood is nie meer ‘n fabel.
Set:
Wys dat God genade het!

Deur Lasarus se siekte sal julle God se heerlikheid sien
en Jesus sal daardeur die eer van die mense verdien. (Joh 11:4)
Wie in My glo, sal lewe, selfs as hy sterwe.
As jy dit glo sal jy die ewige lewe beërwe: (Joh 11:25-26)

Die wat glo sien die heerlikheid van die Heer, (Joh 11:40)
Lasarus kom uit! En hy lewe toe weer…
Ek is die weg na die boom van die lewe,
net deur My sal die Vader jou vergewe. (Joh 14:6)

Efese kry ‘n waarskuwing wat my laat bewe,
met ‘n belofte: Kom na die Boom van die lewe. (Op 2:1-7)
Skoon wit klere wys ek is vergewe.
en mag eet van die boom van die lewe! (Op 22:14)

Die paradys

Adam was alleen
Eva uit ribbebeen.
Die slang was listig
Eva eet rustig.

Adam eet saam
Eva is skaam
Klere van blaar
God weet klaar

God jaag uit
Slang skeen byt
Eva ‘n onderdaan
Adam werksbestaan

Simmetrie in die Noag verhaal

Noag het naby GOD geleef
en na regverdigheid gestreef.
–Korrup was die AARDE,
–vrede het nie meer waarde.
—- “Ek gaan alle mense VERDELG,
—-die wêreld met water verswelg”
——Gehoorsaam het hy ark ‘n geBOU
——om twee van alle diere te hou.
——–Noag en sy hele gesin
——–en die diere gaan toe IN.
———-Die weer het opgesteek
———-en FONTEINE het oopgebreek.
————WATERS het oor berge GESTYG.
————Drenkelinge het na asem gehyg.
————–GOD HET AAN NOAG GEDINK
————–en die wind nader gewink.
————God het die vensters toegemaak
————en die WATER het MINDER geraak.
———-Die duif vlieg jublend hoog
———-en Noag weet – als is DROOG!
——–Noag, sy kinders en bruid
——–en die diere gaan toe UIT.
——Dadelik BOU hy ‘n altaar
——en dank God: die vloed is klaar.
—-“So lank die aarde nog bestaan
—-sal dit nie weer met water VERGAAN”
–Die AARDE word geseën,
–dier word aan mens geleen.
GOD sluit ‘n verbond vir elke oog
en in die wolke verskyn sy boog.

Wat bou jy?

Dit het die Here bedroef gemaak
om te sien hoe sleg het die mens geraak.
“Ek sal die mens van die aarde af vee
en so ook die diere daarmee.” (Gen 6:5-8)

God het eers gewaarsku en geduld gehad (II Pet 2:5)
maar daarna sy donderstem losgelaat. (Job 36:22-3, 37:1-5, 11-13)
Maar God het Noag genade bewys
en in geloof bou hy ‘n drywende huis. (Gen 6:8,17-20, Heb 11:7, II Tes 2:13-14)

Het jy nog nie die waarskuwing gehoor?
God se finale oordeel lê nog voor! (Matt 24:37-40, II Pet 3:7)?
Aan jou het Hy genade bewys,
waarom bou jy dan nie aan Sy huis?

Noag se boodskap vandag

Noag is gered deur geloof
in dit wat God vir hom beloof. (Heb 11:7)

Die ander het geëet en gedrink en getrou
en nie op God se beloftes vertrou.
Noag was veilig agter die ark se deur
die ander is deur die vloed weggesleur.

Niemand weet wanneer is die uur,
wat God sy Seun weer aarde toe stuur.
Vir party is Hy die Ingang, die deur.
Ander het die kans op redding verbeur! (Mat 24:36-42)

Tydens jare se bou van die ark is God se genade verset.
Die gevolg was dat net agt mense is deur water gered.
Jy is met water gedoop sodat jy kan onthou:
Christus het die dood oorwin en so red Hy jou! (1 Pet 3:18-22)

Jy word gered deur jou geloof:
Hou vas aan wat God jou beloof! (Heb 11:7)

Die reënboog

Toe Noag en sy gesin die ark verlaat,
was ‘n offer aan God hul eerste daad. (Gen 8:20)

Seisoene, dag en nag, sal altyd bly bestaan:
julle sal nie weer met ‘n vloed vergaan.
En wanneer die reënboog verskyn in prag,
onthou dan My belofte bly altyd van krag. (Gen 9:9-11)

Maar ook vir joú is die reënboog boodskap nog van pas.
Ja, jy liewe leser, jy is ook van jou sonde skoon gewas. (I Pet 3:21-22)
So seker as wat die reënboog in die wolke verskyn,
so seker sal My liefde vir jou nooit verdwyn. (Jes 54:9,10)

O God, dag en nag laat my weer besin,
ja, U seun kleur selfs die herfsblare in.
Laat ander die vreugde in my oë bespeur,
want U het my hart met ‘n reënboog ingekleur.

Die toring

Die mens dink hy is kragtig
en bou Babel – hoe pragtig…
Maar God is hoog almagtig,
met taal word verwarring bekragtig. (Gen 11)

O God, ek probeer my eie toring bou
in plaas van om op U te vertrou.
Laat U Gees ook op my daal,
dan verstaan ek U liefdestaal! (Hand 2)

BUNDEL: OERGESKIEDENIS

Jy kan al hierdie gedigte in ‘n PDF aflaai.

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading