GEDIGTE OOR DIE AARTSVADERS

Abraham

A. Die twee beloftes: nageslag en land (Gen 12:1-9).
“Trek ver weg uit jou land
en weg van jou familieverband.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak
en jy sal van groot betekenis raak.

Jou nageslag sal die land erf
waarna jy en Sarai sal swerf.”
Abraham bou uit klip ‘n altaar
om God te wys hy is dankbaar.

  B. Twyfel en geloof by Abram (Gen 12:10-14:24)
  Abram sê Sara is sy suster.
  Waar is die groot geloof van gister?
  Maar God het Farao met plae getref
  en hom die waarheid laat besef.

  Die veewagters het begin twis,
  Abram het by Lot se besluit berus:
  Lot vat die waterryke Jordaanstreek
  al lyk Abram se deel maar bleek.

  C. Die bevestiging van God se belofte (Gen 15:1-18)
   Abram besluit om maar self te begin
   en Ismael word gebore uit sy slavin.
   God beveel ‘n teken om op te steun:
   Ek bevestig die verbond – besny elke seun!

   Op hoë ouderdom van nege en negentig,
   het Sara oor ‘n moontlike geboorte gelag.
   Maar ‘n jaar later is Isak gebore
   en die verbond was nie verlore!

    D. Sodom en Gomorra (Gen 18:16-19:38)
    Al was die regverdiges net tien,
    sou God van sy plan afsien.
    Maar in Sodom en Gomorra te vind
    was regverdig – net Lot en sy twee kind.

    Lot het gevlug in die oggend uur,
    die stede verwoes met swaelvuur.
    Lot se vrou het na agter gestaar,
    sy is vandag nog ‘n soutpilaar.

   C. Die vervulling van God se belofte (Gen 20:1-21:34)
   Abraham sê weer sy vrou is sy suster.
   Alweer is die groot geloof ligter.
   Maar God verskyn aan Abimelek in ‘n droom
   en hy gee sy vrou sonder om te skroom.

   God het Hom aan sy belofte verbind:
   Isak is gebore – Abraham se eerste kind!
   Ismael is na die woestyn gestuur,
   maar God het gehelp dat hul dit verduur.

B. Geloof sonder twyfel by Abraham (Gen 22:1-24)
  God beveel: “Gaan offer jou enigste seun.”
  Op groot geloof moes Abraham toe steun.
  “Pa, die lam wat ons moet slag kan ek nie sien?”
  “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien…”

  Abraham vat die mes om sy seun te slag…
  “Abraham! Nou weet ek dat jy my dien. Wag!”
  Agter hom was ‘n ram om te brand
  En God beloof so baie kinders soos die sand.

A. Die twee beloftes: ‘n stukkie land en tekens van ‘n groot nageslag (Gen 23:1-25:18)
Op honderd sewe en twintig jaar het Sara gesterf.
En Abraham koop ‘n graf as eerste erf.
‘n Slaaf gaan soek vir Isak ‘n vrou –
Rebekka, stem toe in om met hom te trou.

Aan die einde van sy lewe dink hy terug.
Hy het ‘n vol geloofslewe agter die rug.
Hulle begrawe hom ook in Makpela grot
met die wete – beloftes word gehou deur God!

Abram se roeping

Die Here het vir Abram gesê:
“Trek na die land wat ek wil hê.
Jou nageslag sal Ek ’n groot nasie laat raak.
Ek sal jou ’n man van groot betekenis maak.” (Gen 12:1-3)

Abram was gehoorsaam aan die Heer (Gen 12:14)
en in die beloofde land geoffer tot Sy eer. (Gen 12:8)

Ook jy het deel aan Sy belofte vir ’n land
en beloftes van seëninge uit God se hand.
Is jy in gehoorsaamheid oppad na jou Heer?
Is jy besig om Hom elke dag met offers te eer? (Ps 105:1-8)

God wou jou ongehoorsaamheid wreek
maar deur Christus is jy vrygespreek! (Rom 5:19)
As jy Sy beloftes verstaan:
Loof die Here, roep Hom aan! (Ps 105:1)

Abraham glo God se beloftes

Here ek gaan kinderloos sterf,
’n slaaf gaan my besittings erf. (Gen 15:2,3)
Die Here het hom buitentoe laat gaan
Abraham, dít is wat jy moet verstaan:

Jou nageslag so baie soos die sterre daarbo,
dit is die belofte waarin jy moet glo. (Gen 15:5)
Abraham glo toe daardie teken
en dis hom tot geregtigheid gereken. (Gen 15:6, Rom 4:3, 1953, Heb 11:11-12)

Abraham se vryspraak is ook vir jou opgeteken
sodat jy verstaan wat Jesus se opstanding beteken:
As jy ook heelhartig in God se beloftes glo,
is jy een van Sy kinders, soos sterre daarbo! (Rom 4:23-25)

God sluit ‘n genadeverbond met Abraham

Jy moet ’n dier middeldeur sny
vir die verbondsluiting met My. (Gen 15:10)
Hierdie land sal eendag aan jou behoort
oor vier geslagte pluk jul druiwe van ’n boord.

Die fakkel het, toe die son ondergaan,
alleen tussen die vleis deurgegaan. (Gen 15:17)
Die verbond is eensydig gesluit
en het ook sy nageslag ingesluit. (Gen 17:7)

Hierdie verbond was net ’n skaduwee
totdat Christus daarin sou tree. (Heb 8:5)
Die verbond se wette is nou
in elkeen se hart toegevou. (Heb 8:10)

God bevestig sy verbond met ‘n teken

Abraham, al is jy al nege en negentig,
moet jy nou besef: Ek is God almagtig. (Gen 17:1)
Ek sluit ’n verbond met jou wat ewig bly.
Jy sal ’n groot nageslag van my kry.
Jou nageslag sal hierdie land besit.
Besny as teken, elke manlike lid. (Gen 17:7-11)

Hierdie verbond wat ewig bly,
geld ook nog vir jou en my.
Ja, met bloed is ons gekoop
en die teken daarvan is die doop. (Kol 2:9-15)
Jou lewe kan nou anders wees,
want jy is gedoop met die Gees. (Mat 3:11, Rom 6:3-4)

Lewenskeuses

Abraham en Lot kon nie genoeg kos vir hul vee kry
en daarom het hulle besluit dat hul paaie moet skei. (Gen 13:6)

Lot, as jy links kies sal ek regs gaan.
Lot kies toe die vrugbare Jordaan.
Hy het by Sodom sy tent opgeslaan,
die stad met die sondige bestaan… (Gen 13:9-13)

Abraham was aan die verbond getrou
en het in Hebron vir God ’n altaar gebou. (Gen 13:18)

’n Jaar of wat later kom die uur
wat God Sodom wil straf met vuur.
Lot se vrou het terug gestaar
en verander in ’n soutpilaar. (Gen 19:24-26)

God se keuse oor my is ‘n wonder:
Deur Sy Gees het Hy my afgesonder! (II Tes 2:13, I Pet 1:2)
Jesus word in Getsemane stil
Sy lewenskeuse: Na God se wil! (Mat 26:42, Luk 22:42)

Wat bring jou van stryk
as jy na die opsies kyk?
Maak God se wil jou leuse
in elke lewenskeuse. (Ps 119:30, Jos 24:15, Mat 6:10)

Abraham glo, maak jy ook so

Abraham het in die onmoontlike geboorte geglo (Gen 18)
en kry toe ‘n nageslag soos die sterre daarbo. (Heb 11:11-12)
As jy glo aan Jesus se onmoontlike geboorte, (Luk 1:34-37)?
skenk Hy aan jou die wedergeboorte! (II Kor 4:6, Joh 3:3-6)

Uit geloof hou Abraham ‘n mes teen sy seun se nek, (Gen 22)
want hy was oortuig dat God hom uit die dood op sou wek. (Heb 11:17-19)
As jy glo Jesus het uit die dood opgestaan
sal die Lam vir jou sondes na God toe gaan. (I Pet 1:19, Joh 1:36, Op 13:8)?

Abraham het van ‘n land net Sara se graf ontvang, (Gen 23)
maar in geloof eerder na die hemelse vaderland verlang. (Heb 11:13-16)
As jy glo die belofte van ‘n nuwe land sal in vervulling gaan, (II Pet 3:8-10)
sal jy saam met almal in lof en eer voor Hom gaan staan. (Op 19:5-7, II Tes 1:9-10)

Onmoontlik?

Jy sal beslis volgende jaar,
dié tyd, jou eersteling baar.
Sara het stil agteraf gelag:
Om op haar jare te verwag! (Gen 18:10-14)

Sara, jy moet ook nog leer:
Niks is te buitengewoon vir die Heer…
So het Sara vir Isak gekry
en hom op agt dae laat besny. (Gen 21:1-4)

Ek sal my enigste seun offer, o Heer,
want U kan die onmoontlike laat gebeur.
Ek weet dat U krag selfs so ver strek,
dat U my seun uit die dood kan wek. (Heb 11:18-19)

En jy wat so maklik nie vertrou,
weet dat God sy beloftes hou?
Ja, wanneer gaan jy leer:
Niks is te buitengewoon vir die Heer?! (Gen 18:14, Jes 51:2)?

Onmoontlik? Deur ’n maagd die wêreld in… (Luk 1:34-37)
Onmoontlik? Die dood het Hy oorwin!
Onmoontlik? Ek is weer gebore…
Onmoontlik? Ek is nie verlore! (Luk 18:24-27)

Tien kon Ek nie kry

Sê nou U kry vyftig gelowiges daar,
sal U Sodom en Gomorra dan spaar?
As Ek vyftig kry
gaan Ek verby…

Kan ek nog ’n keer waag:
Is vyf en veertig te laag?
As Ek vyf en veertig kry
gaan Ek ook verby…

Miskien sal U veertig vind:
Wees hul dan goedgesind?
As Ek veertig kry
gaan Ek verby…

Word tog nie vir my kwaad:
Weerhou vir dertig die daad…
As Ek dertig kry
gaan Ek verby…

Ek bly nog waag:
Is twintig te laag?
As Ek twintig kry
gaan Ek verby…

Word nie kwaad vir my:
Wat as U tien daar kry?
Ook al is daar net tien
sal Ek van die straf afsien.

Ek kon in die stad nie kry
eers tien wat glo in My.
Daarom gaan Ek nie verby
die straf kan jy nie vermy.

Ek het die engel daarheen gestuur
om Lot te begenadig in die uur.
Vir Lot het ek gespaar,
maar sy vrou het na agter gestaar…

Here as u vyftig sondelose dae in my lewe kry
Sal ek dan die ewige lewe kry?
As ek vyftig dae kry
gaan Ek by jou verby.

As U veertig, dertig, twintig kry?
Dan gaan Ek verby!

Word nie kwaad vir my:
Wat as U tien dae kry?
Ook al is daar net tien
sal Ek van die straf afsien.

Ek kon in jou lewe nie kry
eers tien dae net vir My.
Daarom gaan Ek nie verby
die straf kan jy nie vermy.

Ek het Christus na die aarde gestuur
om jou te begenadig in die uur,
As Ek oordeel gaan Ek jou spaar:
Jy hoef nie na jou verlede te staar!

Isak en die offer

Jy moet jou seun gaan offer is wat Ek vra. (Gen 22:2)
En Isak het self die offerhout gedra… (Gen 22:6)
Pa, ek kan nie ’n offerlam hier sien?
Seun, God sal self die lam voorsien. (Gen 22:7-8)

Net toe Abraham die mes vat om te slag
Roep God: “Abraham, Abraham, wag!
Nou kon ek duidelik sien
dat jy My regtig dien.” (Gen 22:10-12)

Wat het by Isak se offer gebeur?
God gebruik dit om te leer:
Geloof sal jou nie baat
as dit nie oorgaan in ‘n daad. (Jak 2:21-22).

Abraham was vir die dood nie bang
hy het geweet hy kan Isak terug ontvang. (Heb 11:18-19).
Alhoewel hy geweet het dat hy dit nie verdien
het hy geglo dat Hy God eendag sal sien. (Joh 8:56).

Wat het by Jesus se offer gebeur?
God gebruik dit hierdie keer:
Dis ’n volkome verlossingsdaad
van al jou sonde en kwaad.

As God die onmoontlike van jou vra,
weet ook Hy het sy eie kruishout gedra.
Die plaasvervangende ram
wys heen na Christus, die Lam. (Gen 22:18)

Daarom is ek vir die dood nie bang
want ek weet ek gaan die lewe ontvang.
En al het ek dit nie verdien,
maar ek gaan God eendag sien!

Die getroue slaaf

Abraham:
Sit onder my heup jou hand,
en gaan na my geboorteland:
Gaan haal vir Isak ‘n vrou,
waarmee hy kan trou. (Gen 24:1-4)

Slaaf:
Ek hoop die vraag klink nie dom –
Maar wat as sy nie saam wil kom?
Moet Isak dan daarheen gaan?
En bly my opdrag dan nog staan? (Gen 24:5)

Abraham:
As die vrou nie saam wil ry,
is jy van hierdie opdrag vry.
Maar terug moet Isak nie gaan:
Die beloofde land is Kanaän! (Gen 24:6-8)

Slaaf:
Here, betoon tog aan my trou,
en laat kom na die fontein ‘n vrou.
As ek haar vra vir iets te drink,
sal sy vir my kamele ook skink. (Gen 24:12-14)

Rebekka:
Ja, drink gerus my kruik, meneer.
Ek skink ook vir u kamele weer.
Betuel is my liewe vader,
U kan hom vir slaapplek nader. (Gen 24:15-25)

Slaaf:
Ek wil die Here dank en loof,
Hy het gedoen soos Hy beloof.
Ek is Abraham se getroue slaaf,
en U laat sy broer se dogter my laaf! (Gen 24:26-27)

Betuel:
Jy is die man deur God geseën,
waarom staan jy hier alleen?
Jou eienaar se planne is duister,
kom na ons huis dat ons kan luister. (Gen 24:29-31)

Slaaf:
… dit was dan die verhaal
van hoe ek ‘n vrou kom haal.
Die Here het my hierheen gelei,
om u dogter vir Isak te kry. (Gen 24:34-49)

Betuel:
Wat hier gebeur is van die Heer:
Ons kan dit nie probeer keer!
Rebekka moet saam met jou gaan,
maar laat sy nog tien dae staan. (Gen 24:50-55)

Slaaf:
Julle moet my nie ophou,
die Here was aan sy woord getrou.
Laat my na my eienaar gaan:
Die weg is deur die Here gebaan. (Gen 24:56-57)

Rebekka:
Wie is die man daar oorkant?
Wat aangestap kom oor die rant?
Ek trek die sluier oor my gesig,
ek sal dit eers weer na die troue lig! (Gen 24:62-65

God:
Ek het my Seun as slaaf gestuur,
op soek na ‘n bruid vir die uur
wanneer ons die bruilof gaan vier.
Dis waarvoor ek gereed maak hier. (Op 19:7; Op 21:2)

Wat jy moet sien, is dat jy die nie verdien…

Isak het gebid vir sy kinderlose vrou. (Gen 25:22)
Rebekka, daar is twee nasies in jou:
Die oudste sal die jongste dien
al sal hy dit eintlik nie verdien. (Gen 25:23)

So moet jy ook jou verlossing sien:
Jy het dit nie self verdien.
Dis nie dit wat jý doen
wat jou met God versoen. (Rom 9:11-13)

Reeds voor die skepping is die loskoping bestem
deur die Lam, sonder gebrek, maar bloedig gelem.
Deur Sy opwekking het God hom heerlikheid gegee.
Dit bring troos, geloof en hoop op God vir jou mee. (I Pet 1:19-20)

Hoe moet ons dan hieroor dink
as dit dan so onregverdig klink? (Rom 9:14)
God ontferm Hom oor wie Hy wil –
maak wat ek doen dan ’n verskil? (Rom 9:18-19)

Wie is jy wat met God redeneer?
Wanneer gaan jy dan leer?
Hy is die Pottebakker wat maak
en self besluit watter voorwerpe kraak… (Rom 9:20-21)

Wees daarom dankbaar en bly,
want jy het wel genade gekry. (Ef 1:6,12)
Ja, wie in Hom bly glo,
deel in die genade van bo. (Rom 9:33)

Verkul na God se wil

Van vroeg af in sy wieg,
was Jakob aan’t bedrieg.
Esau se eersgeboorte reg
gee hy vir lensiesop weg… (Gen 25:32-34)

Al was hy nie die oudste seun,
verkul hy en kry die seën. (Gen 27:27)
Esau neem hom voor
om Jakob te vermoor… (Gen 27:41)

Wat mens hier moet sien
is dat beide net straf verdien.
Wat dan so verbasend bly,
is dat Jakob net seën verkry:

Aan die einde van die leer
hoor Jakob die Heer:
“Ek sal jou beskerming verleen
en jou nageslag seën.
Ek hou my verbond in stand
en sal jou terugbring na die land.” (Gen 28:12-14)

As iemand homself belangrik ag
bedrieg hy homself nog ‘n slag.
Wat Christus se wet wil hê,
is dat ander se las op joú skouers lê. (Gal 6:2-3)

Judas het Jesus uitgewys,
so sterf Hy aan die kruis. (Mat 26:47).
God gebruik selfs die wat verkul
tot uitvoering van Sy wil.

God is lig, is die boodskap aan ons gedeel.
As jy in duisternis lewe het jy aan Hom nie deel!
Bely dat jy bedrieg en en nie in waarheid lewe,
dan word jy deur Jesus se bloed vergewe (I Joh 1:5-8)

By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig.
Hy vernietig, verdroog en hou water terug.
By Hom is daar mag en oorwinning van pyne,
wie bedrieg en wie bedrieg word, is albei Syne. (Job 12:13-16)

Lea en Tamar

Na sewe jaar sou Jakob Ragel kry,
maar dis toe Lea aan sy sy.
Sy was nie die mooiste vrou
maar deur haar loop God se trou. (Gen 29)

Juda is nie die oudste seun,
maar Hy kry die die beste seën. (Gen 49)
Tamar vermom haar soos ’n prostituut
maar deur hulle nageslag word alles nuut. (Gen 38)

Deur hulle geslag se lyn
het alle sonde verdwyn.
Nou is ons nie meer verlore
want deur hulle is Jesus gebore! (Gen 49:8, Mat 1:3)

As mens aan die kruis het Sy krag hom begewe…
Deur God se krag het Hy weer begin lewe. (II Kor 13:4)
Sy krag begin eers in jou werk
as jy besef jy is nie sterk. (II Kor 12:9-10)

Al is jy nie so mooi
en van jou dade rooi,
deur jou wil God ook werk
in die opbou van sy kerk!

‘n Volk deur jaloesie

Jakob:
U het gesê ek kan met Ragel trou
toe gee u Lea as my vrou?! (Gen 30:25)

Laban:
Die jongste mag nie voor die oudste trou.
Wag ‘n week dan kry jy Ragel ook as vrou. (Gen 30:26)

Ragel:
Ek is harsteer en broos
want ek is kinderloos. (Gen 29:31)

Jakob:
Ragel is my hart se punt
maar Lea baar my eerste kind… (Gen 29:30,32)

Lea:
Ruben, want God het my smart gesien.
Nou kan ek Jakob se liefde verdien.
Simeon, want die Here hoor:
Jakob trek vir Ragel voor.
Levi is my derde kind:
Dit sal Jakob aan my bind.
Juda, ‘n seun die vierde keer,
daarom prys ek die Heer! (Gen 29:32-35)

Ragel:
Vat Bilha, my slavin as vrou
deur haar gee ek ‘n seun vir jou.
U seuns Naftali en Dan
kom nou van hierdie plan. (Gen 30:3-8)

Lea:
U het my slavin Silpa as vrou gevat
en so kry u die seuns Aser en Gad. (Gen 29:9-13)

Lea:
Vanaand moet u my kom haal
want ek het met appels betaal. (Gen 30:16)
Ek het Isaskar en Sebulon gekry:
Nou sal my man by my bly?

Ragel:
Uiteindelik verwyder God my skande.
Hier lê Josef in my hande. (Gen 30:22-24)
Die twaalfde seun Benjamin oplaas,
nou kan ek die laaste asem uitblaas… (Gen 35:18)

Deur jaloesie en stryd kry Jakob ‘n gesin,
maar God gebruik dit om die volk te begin.
Vir onderlinge liefde was daar nie spasie,
maar die seuns word stamme van die nasie.

Israel het hul rug op God gekeer
maar heidene het hulle bekeer.
Deur jaloesie laat God Israel besin
en kon hulle weer nuut begin. (Rom 11:11-14)

Ons sien in God se gebod
Hy is ‘n jaloerse God,
met die boodskap daarin vir jou:
Hy verwag onverdeelde trou. (Eks 34:14 1953 en 1983).

God het uit liefde jou kom red,
so, laat liefde jou hart kom beset
dat dit nie meer plek vir jaloesie het.
Liefde is die uitvoering van die wet. (Rom 13:10, I Kor 13:4-7, 1953).

Jaloesie maak jou ook soms seer,
maar onthou God is in beheer.
Hou die eindpunt in die oog:
Daar waar Hy die trane afdroog! (Op 21:4)

’n Nuwe naam

Oppad terug na sy land
op die Jabbok se rand,
het Jakob met God gestry
en Israel as naam verkry. (Gen 32)

Jakob, wat die betekenis van bedriër het,
verander na Israel wat beteken: God red!
Elke sondaar wat vir Sy Naam stry,
sal eendag ook ’n nuwe naam kry! (Op 2:17)

Hoe moet ons verstaan
dat ‘n mens God verslaan?
Maar wat jy moet onthou:
Jesus verneder Hom vir jou:

Dieselfde gesindheid moet in ons wees
wat ons van Jesus Christus lees:
Hy het sy verhewe Godgelyke bestaan
verlaat en is my spykers vasgeslaan. (Fil 2:5-8)

Daarom het God hom vereer
en is sy Naam: Jesus die Heer!
So moet jy ook jou knie buig
en tot eer van God die Vader juig. (Fil 2:9-11)

Van slaaf na koning

Die stamvaders het Josef as slaaf verkoop
met geboeide voete het hy na Egipte geloop.
Op daardie stadium het hy nog nie verstaan
dat dit oor die voortbestaan van God se volk sou gaan. (Ps 105:16-17, Hand 7:9)

In al die swaar was God altyd daar (Hand 7:9)
en so is Sy drome aan Josef bewaar.
Josef het die toets deurstaan
en so deur al die beproewings gegaan. (Ps 105:19)

Deur God gee Josef aan die Faroao raad.
As heerser oor baie volke is hy vrygelaat.
Hy het as hoof van die koninklike huis gesit
met gesag oor alles wat die koning besit. (Ps 105:20-21)

So het God Josef se geloof laat groei:
Van geliefde seun na slaaf geboei,
daarna om as koning te regeer
en deur dit alles God te eer. (Gen 41:16)

Kanaän spring toe ook nie die hongersnood vry
en die voorvaders kon nerens kos meer kry.
Vir hulp moes hulle na Egipte gaan
en voor Josef vir koring gaan staan. (Hand 7:11-12)

Moenie bang wees vir wat julle gedoen het:
God het my vooruitgestuur om lewens te red. (Gen 45:5)
God het met Sy volk ‘n verbond aangegaan
en deur hierdie gebeure sorg hy vir hul voortbestaan.

So het Israel na Egipte gekom,
ook daar het God se seën verstom:
Die Here het die volk vrugbaar gemaak
en hulle het meer as die Egiptenare geraak! (Ps 105:23-24)

Dieselfde siklus is weer deur God beskik:
Israel is as slawe in Egipte onderdruk.
Hy stuur toe Moses om hulle te red
omdat hy ‘n verbond met hulle het. (Ps 10:25-26, Hand 7:18-19)

Die siklus gebeur toe ‘n derde keer:
As slaaf het Jesus na die aarde gekeer
en dít vir sy volk se voortbestaan.
As koning het hy na die hemel opgegaan. (I Pet 1:11)

God wil ook dat ek die toets deurstaan
as ek deur al die beproewings gegaan. (I Pet 1:5-7)
Wat Hy wil hê ek moet verstaan,
is dit ek ook in hierdie verbond staan.

Deur Jesus Christus is ek ook bevry
uit die voetboeie van sondeslawerny. (I Pet 1:3-4)
Daarom leef ek nou dankbaar bly
sodat God alle eer in my lewe kry. (I Pet 1:8-9)

Josef, die seun

Josef het stories aangedra
en sy pa se mooi kleed gedra.
“Ek droom julle gerwe buig voor my.”
En so het hul ‘n afkeer in hom gekry. (Gen 37:3-7)

Eers wou hulle hom dood maak,
maar toe eerder ‘n slaaf laat raak.
“Pa, dis Jakob se bloedbevlekte kleed!”
“Vir ewig sal ek treur, moet jul weet.” (Gen 37:31-34)

Ek is die Koning van bo.
Sy broers het Hom nie geglo. (Joh 7:5-7)
In plaas van dat hulle daarby baat,
het Sy eie volk Hom gehaat. (Hand 7:51-52)

Dis My geliefde Seun, moet julle weet. (Mark 1:11)
Ek self het Hom ‘n slaaf laat heet. (Fil 2:7)
Hierdie is Sy bloedbevlekte kleed: (Luk 23:34)
Oor Sy dood treur Ek, moet jul weet. (Mark 12:6)

Ek het Hom egter verhef tot die hoogste eer
Elke tong sal erken: “Jesus Christus is die Heer!”
As Hy dus weer kom om ons te vergader,
is dit alles tot eer van God die vader. (Fil 2:9-11)

Josef die slaaf: God by ons

Potifar het hom oor God se teenwoordigheid verstom. (Gen 39:3).
Ook met Josef in die tronk kon almal sien: God is by hom. (Gen 39:21).
In die Ou Testament is dit ‘n goue draad:
God was by sy mense in elke daad. (Jos 1:9; II Sam 7:9; II Kon 6:16; II Kon 6:16)

Vir Josua: Neem in die land Kanaän
Wees sterk want Ek is by jou oral waar jy gaan (Jos 1:9)
Vir Dawid: Ek wil hê jy moet verstaan
Deur my teenwoordigheid het jy die vyand verslaan. (II Sam 7:9)

Benoud roep hy uit: Ons stad is beleër!
Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer…
Here, open sy oë dat kan sien in hierdie uur.
Die berge rondom was vol strydwaens van vuur!

Hoe kan ek wegvlug van Hom?
Hoe kan ek U teenwoordighed ontkom?
Al probeer ek vlug van oos na wes,
U teenwoordigheid gee nie bes. (Ps 139:7-10)

Imannuel is gebore:
Ek is nie meer verlore! (Mat 1:23)
Ek is gevul met U Gees:
U sal altyd by my wees. (Joh 14:16-17)

Aan My is alle mag in hemel en op aarde gegee
Doop en deel al die nasies dié vreugde mee
Maak dissipels wat getuig van Hom:
Hy is by julle tot die voleinding kom! (Mat 28:18-20)

Eendag sal daar nie meer ‘n son wees,
maar selfs dan hoef julle nie te vrees,
want Jesus se teenwoordigheid is die lig
en die heerlikheid van God sal alles verlig! (Op 21:22-23).

Josef die tronkvoël: Aan God die eer

In die tronk het God Josef sy troue liefde laat ondervind.
Die gevolg? Die tronkbewaarder was hom goedgesind. (Gen 39:20-22)

Skinker en bakker, hoekom lyk julle so bedruk?
Vreemde drome het ons vannag geruk…
Die drome beteken God gaan dinge laat gebeur:
Goed en sleg en julle kan dit nie keer! (Gen 40:6-7)

Ek het gedroom van sewe vet koeie wat wei
Sewe maer koeie het hulle kom vreet in die vlei! (Gen 40:18-20)
Geen raadgewer kon die droom uitlê,
want God wou deur Josef iets sê:

Deur u droom wil God hê u moet verstaan:
Na oorvleed breek ‘n sewe jaar droogte aan. (Gen 40:28-30)
Bêre in skure u graan,
dan sal u mense nie vergaan. (Gen 40:35-36)

Ek gaan jou die onderkoning maak,
my land se regering is nou jou taak.
Al my onderdane sal buig en jou eer! (Gen 41:39-44)
Nee, o koning, alle eer aan my Heer. (Gen 41:16)

Nie aan ons nie, o Heer,
maar aan U kom al die eer.
Wat U wil, dit doen U nou.
U bewys U liefde en trou: (Ps 115:1-3)

Nederig op ‘n donkie het Jesus gereis:
“Ons wil die Koningseun van Dawid prys!
Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!
Selfs in die hoogste hemel prys ons Hom!” (Mat 21:5-9)

Josef die koning: God se plan

Toe Josef sy broers se buiging gewaar,
het hy besef sy kinder drome word waar. (Gen 45,6-9)
As kind het hy ons om genade gesmeek
nou word sy dood op ons gewreek! (Gen 45:21-22)

Ek is julle broer wat julle as slaaf verkoop het
God het my vooruit gestuur om lewens te red! (Gen 45:5)
God het my aangestel om te regeer
om ons volk se uitwissing te keer. (Gen 45:7-8)

Julle moet nie voor my buig:
Ek is nie God, het hy getuig.
Moenie bang wees vir my:
God wou ons aan die lewe laat bly. (Gen 50:19-20)

Dankie dat U alles ten goede laat werk
Ja, dat hierdie swaarkry my versterk.
Dankie dat ek kan weet U sal my red.
Ja, dat U ‘n ewige verlossingsplan het!

PDF: GENESIS AARTSVADERS

Jy kan hierdie gedigte in ‘n PDF aflaai.

Jakob se seën (Gen 49)

Kom my seuns, ek wil julle leer
wat met julle nageslagte gaan gebeur. (:1)

Ruben, toonbeeld van my krag,
jy is die oudste en het gesag.
Jy verloor jou leierskap nou,
oor jou vergrype met my vrou. (:2-3)

Simeon en Levi altyd reg vir geweld.
Julle nageslag sal dit ontgeld!
Julle het koelbloedig vermoor,
vespreiding tussen die stamme lê voor. (:6-7)

Juda, jou broers sal jou eer.
Jy sal heers en aanhou regeer,
totdat die heerser, Silo, kom
met sy koningskleed rondom Hom! (:8-12)

Sebulon al is jy die tiende seun,
kom nou hier vir jou seën:
By die skepe op die strand,
dit is jou stukkie land. (:13)

Issaskar het tussen die saalsakke gaan lê
en wou graag die mooi landstreek hê.
Daarvoor was hy bereid
om in te gee vir dwangarbeid. (:14-15)

Dan sal die reg beheer,
maar is ‘n slang oppad daarheen.
Hy pik die perd in sy hak se skeen.
“Ek wag dat U red, o Heer!” (:16-18)

As ‘n bende Gad wil verslaan,
val hy hulle van agter af aan. (:19)

Aser eet ryk kos
Ja, hy eet koningskos. (:20)

Naftali het ‘n mooi nageslag,
soos ‘n takbok wat vry loop in die dag. (:21)

Josef is ‘n boom wat vrugte dra.
Die vyand se boog misluk elke keer,
want hy word beskerm deur die Heer.
Sy broers sal sy leierskap verdra. (:22-26)

Vir Benjamin is hulle bang
in die aand sal hy sy prooi vang.
Ja, soos ‘n wolf wat verskeur,
sal hy sy prooi soggens verteer. (:27)

God het die twaalf stamme gebruik
om sy evangelie my te laat bereik.
Daarom sal ek ook voor Sy troon staan
as deel van die volk met wit klere aan! (Op 7:9)

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading