Die oorgangs tydperk
Eli, die priester, het swak regeer.
Samuel weer tot God se eer.
Die volk het ‘n koning verlang.
Rigters na konings, die oorgang.
Saul gesalf, maar later gefaal.
Dawid, ‘n suksesvolle verhaal.
As ons hieruit die les wil leer:
Laat God jou lewe regeer.
Ja, Hy is en bly in beheer.
maar kom ons kyk dieper deur:
Eli, die priester, het swak regeer.
Die woord van God was skaars.
Eli se seuns: Bedrog, barbaars.
In die oorlog op die ark vertrou
Die verlies sou hul swaar berou.
Samuel weer tot God se eer.
Hanna se kinderlose hartsgebed
bring Samuel wat die volk kom red.
“Spreek, Here u dienskneg luister”
Hy herstel die volk se duister.
Die volk het ‘n koning verlang.
Van rigter na koning – oorgang
‘n Eie koning is die volk se bede.
Hul motief is die verkeerde rede:
Hul verwerp die God wat regeer
“Soos ander volke” is wat hul begeer.
Saul gesalf, maar later gefaal.
Die donkie soektog – God in beheer.
Saul gesalf om as koning te regeer.
Aanvanklik het hy oorwinnings behaal.
Later, deur ongehoorsaamheid, gefaal.
Dawid, ‘n suksesvolle verhaal.
Dawid sou later die nuwe koning wees.
Vir Goliat, die reus, het hy geen vrees.
Saul wil hom doodmaak, hy kruip weg.
Saul se uiteinde: Selfmoord in ‘n geveg…
Hanna se gebed maak dat sy Samuel het
Elkana se vrou Hana was kinderloos,
maar sy ander vrou Peninna, was daar kroos.
Elke jaar het hy uit sy stad na Silo gegaan
om voor die Here met sy offers te staan. (I Sam 1:1-3)
Elke jaar het Peninna haar daar gespot
en Hanna het gehuil en vas oor haar lot.
Waarom is jy harsteer en wil jy ween?
Jy is vir my meer werd as ‘n tiende seun. (I Sam 1:4-8)
Op ‘n keer het sy ‘n gelofte afgelê
“Here, Almagtige,” het sy gesê,
“as U tog op u dienares wou let
en ‘n seun uit U hand nie belet,
sal ek hom sy lewe lank aan u wy
en as teken nooit sy hare sny.” (I Sam 1:9-13)
Eli het haar lank so sien prewel
en gedink sy in met drank benewel. (I sam 1:12-14)
“Nee Meneer, ek is net diep terneergedruk.
Ek soek nie in wyn of bier my geluk.
Ek het my hart uitgestort en dit voor die Here gelaat,
dis oor my smart en leed dat ek so lank praat.” (I Sam 1:15-19)
Met haar seun se geboorte het sy in vreugde uitgebreek:
“Sy naam is Samuel: van die Here het ek kom afgesmeek!” (I Sam 1:20-23)
Hanna het haar kind gevoed en gespeen
en toe gaan sy tempel toe met die seun.
Ek het hierdie seun met smeking gekry,
hy word nou sy lewe lank aan die Here gewy. (I Sam 1:24;27)
Hanna bid weer en gee God die eer
Ek jubel in die Here se werk,
in die Here is ek sterk.
Ek lag my vyande uit en is nie bang,
ek is bly oor die uitkoms van U ontvang. (I Sam 2:1)
U, Here, is die heilige alleen,
buiten U is daar nie nog een.
Anders as God is daar geen rots,
Hy maak nederiges weer trots. (I Sam 2:2)
Julle moenie in hoogmoed bly praat,
moenie aanmatigende dinge kwytraak,
want die Here is ‘n God wat diep ken,
dade word getoets en deur God geken. (I Sam 2:3)
Die boog van die magtiges is verbreek,
die wat gestruikel het, het nuwe krag gekry.
Wie versadig was, is as slaaf in die werk gesteek,
wie honger was, is deur oorvloed bevry.
Die een met baie kinders voel verlore,
vir die onvrugbare word sewe kinders gebore. (I Sam 2:4-5)
Die Here laat na die doderyk afdaal,
Hy is ook die een wat hul daaruit haal.
Die Here maak arm en ryk,
Hy verneder en laat in aansien pryk. (I Sam 2:6-7)
Hy laat geringes uit die stof opstaan,
Hy laat die armes van die ashoop gaan
om te sit by die vername mense.
Hy skenk ‘n ereplek en vervul wense.
Die pilare van die aarde behoort aan die Heer
Hy grondves die aarde en sit dit daarop neer. (Sam 2:8)
Op die pad kan getroues op Hom staat maak,
maar die goddeloses word stil gemaak
in die duisternis van die graf se skag.
‘n Mens oorwin nie in eie krag! (I Sam 2:9)
Die wat teen die Here in opstand kom –
van bo uit die hemel vernietig Hy hom.
Hy spreek reg, oor alles van waarde,
tot aan die eindes van die hele aarde.
Die Here verleen krag aan sy koning,
Hy gee sterkte aan sy gesalfde in sy woning. (I Sam 2:10)
Spreek Here
Onder toesig van Eli het Samuel die Here gedien.
Eli se oë was al swak en kon nie meer goed sien.
Die woord van die Here is min gehoor
gereelde openbarings is verloor… (I Sam 3:1-2)
Vroeg een môre het Eli nog gelê,
die lamp van God het helder gebrand,
Samuel het gelê aan die ark se kant,
hy het ‘n stem gehoor en “Ek kom!” gesê. (I Sam 3:2-3)
Hy het hardlopend na Eli gegaan:
“U het my geroep, dis hoekom ek hier staan.”
“Ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”
Hy het toe na sy bed toe teruggekeer. (I Sam 3:4-5)
Na ‘n tweede roep het hy opgestaan
en weer haastig na Eli toe gegaan.
“My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”
Maar Samuel moes nog van Godsopenbaring leer. (I Sam 3:6-7)
Eli besef toe, na die derde keer,
dis die roepstem van die Heer.
“As die stem weer roep, fluister:
Praat, Here, u dienaar luister!” (I Sam 3:8-9)
Hy hoor toe weer “Samuel, Samuel!” in die duister
en Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”
Die volk kon sien Samuel was betroubaar in elke daad,
die Here het nie een van sy woorde onvervuld gelaat. (I Sam 3:19-20)
Die ark van die HERE
Die Filistyne en Israeliete het teen mekaar kamp opgeslaan,
maar in die geveg is Israel deur die Filistyne verslaan.
Toe die manskappe teug in die laer kom, het die leiers gesug:
“Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug?
Gaan haal die verbondsark – as ons dit by ons het
kan dit ons uit die greep van die vyande red.” ( I Sam 4:1-3)
Met die ark se aankoms het die geskreeu weergalm.
Die Filistyne het uit vrees vir God, eers getalm,
maar toe dertigduisend Israeliete laat val
en is weg met die ark en al! (I Sam 4:4-11)
Eli se twee seuns het omgekom,
toe die boodskapper by hom kom,
val hy agteroor – oud en swaar,
breek sy nek en sterf hy daar. (I Sam 4:12-18)
Sy skoondogter het in kraam gegaan.
Sy sê toe vir die vroue wat by haar staan:
Ikabod is sy naam, want dit vertel:
Die eer is weggevat uit Israel. (I Sam 4:19-22)
In Asdod het die Filistyne die ark langs Dagon neergesit
Die volgende môre het Dagon voor die ark gelê.
Hulle het vir Dagon opgetel en op sy plek teruggesit.
Die volgende dag het sy kop op die drumpel gelê. (I Sam 5:1-4)
Die Here het die Asdodiete swaar gekasty:
Die hele gebied het pes swere gekry.
Waarnatoe kan ons die ark vat?
Vat die ark van God na die stad Gat. (I Sam 5:6-8)
Die Here het die stad in beroering gebring
‘n Plaag het by elke huis ingedring.
Ook in Ekron is die mense geraak
Hierdie ark sal ons en ons mense doodmaak! (I Sam 5:9-10)
Die Filistyne het die ark op ‘n wa gelaai
die koeie het sonder om af te draai
reguit na Bet-Semes toe gegaan.
Geen toeval – het die Filistyne verstaan. (I Sam 5:11-12)
Die inwoners van Bet-Semes het die ark bekyk,
en het bitter gerou, want om hule sewentig dooie lyk.
So moes hulle van die heilige God leer:
Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Heer? (I Sam 6:17-21)
Die ark het in Kirjat-Jearim staanplek gekry.
Eleaser wat dit moes oppas is gewy.
en so gaan toe twintig jaar verby,
maar die volk het baie swaar gekry. (I Sam 7:1-2)
As julle met julle hele hart na die Here terugkom,
moet julle al die vreemde gode verwyder voor Hom.
Rig julle harte op die Here en Hom alleen dien soos in sy wet,
dan sal Hy julle uit die mag van die Filistyne red.” (I Sam 7:3)
Samuel het die volk by Mispa bymekaar gekry.
Daar het die volk biddend hulle sonde bely.
Die Here het hulle gebede verhoor
en met donderweer het die Filistyne verloor. ( I Sam 7:4-10)
Die volk vra ‘n koning
Samuel se seuns het hulself verryk
in vir omkoopgeskenke van die reg afgewyk.
Samuel, jy is oud, dit is wat ons nou begeer:
Stel vir ons ‘n koning aan om oor ons te regeer. (I Sam 8:1-5)
Samuel het dit aan die Here in gebed opgedra.
“Gee toe aan alles wat die volk jou vra.
Hulle wil my nie meer as hulle Koning sien,
soos in Egipte het hulle My verlaat en afgode gedien. (I Sam 8:6-8)
Jy moet hulle die reg van die koning leer.”
“Dis die reg van die koning wat oor julle sal regeer:
Julle seuns sal hy vat en by sy wa aanstel.
Party sal hy sit in geveg afdelings se bevel. (I Sam 8:9-12)
Julle dogters sal vir hom te bak en kook.
Julle beste lande en wingerde vat hy ook.
‘n Tiende van jou opbrengs sal hy vir sy amptenare gee
Hy sal ook jou beste slawe en donkies vat daarmee. (I Sam 8:13-17)
Daardie dag sal julle vir hulp vra,
oor julle uitgekose koning kom kla.
Maar by die Here sal julle nie antwoord kry.”
Maar die volk het Samuel se raad vermy. (I Sam 8:18-19)
Nee, daar moet ‘n koning oor ons wees.
Ons wil ook soos die ander nasies wees.
Samuel het toe weer biddend voor God gaan staan
Die Here antwoord: Stel ‘n koning oor hulle aan! (I Sam 8:20-22)
En jy wat hier lees,
wil jy ook soos almal om jou wees?
Of het jy al klaar jou Koning verlaat?
Bekeer jou, dis amper te laat!
Die eerste koning in die plek van die Koning (I Sam 12)
Samuel het vir die hele Israel vertel
Kyk ek het ‘n koning oor julle aangestel.
Ek het julle gelei in my jeug as kind
en tot nou toe het hullle niks teen my gevind. (I Sam 12:1-5)
Kom staan nou dat ek julle onderrig
wat die Here gedoen het lank terug:
Die Here het toe vir Moses en Aäron gestuur,
en die volk gebring na ons land toe hier. (I Sam 12:6-8)
Maar julle voorvaders, moet julle weet,
het die Here hulle God vergeet.
Hy het hulle oorgegee in die mag van die Filistyne
en gedompel in oorlog met gepaardgaande pyne. (I Sam 12:9)
Hulle het na die Here geroep om hulp en het bely:
Ons het gesondig en vir ons Baäls en die Astarte gekry.
Red ons tog uit die mag van ons vyande in die uur.
Die Here het Gideon, Barak, Jefta en Samuel gestuur. (I Sam 12:10-11)
Nou, toe die Ammoniete optrek teen jul woning,
het julle gevra: Gee vir ons ‘n koning!
Hier het ek dan nou vir julle ‘n koning gebring,
want julle het teen God, daarop aangedring. (I Sam 12:12-13)
As julle die Here dien en eer
en luister na die stem van die Heer,
julle, sowel as die koning wat julle nou kry,
dan sal die Here julle God by julle bly. (I Sam 12:14)
Hoor nou wat deel ek julle mee
Ek gaan bid dat die Here donderslae gee.
As julle in vrees en bewing kyk daarna,
besef jul sonde om vir ‘n koning te vra. (I Sam 12:16-17)
Die Here het donderslae en ‘n stortreën gegee
en die volk met ontsag vir Hom gevul daarmee.
Bid tot die Here u God dat ons bly lewe
en dat Hy ons sonde teen Hom vergewe! (I Sam 12:18-19)
Moenie bang wees nie, het hy gepaai
moet net nie van die Here wegdraai.
Dien die Here met julle hele hart.
Nikswerd afgode bring met smart. (I Sam 12:21)
Die Here het besluit om julle Sy volk te maak,
ter wille van Sy Naam sal Hy julle nie versaak.
Ek sal vir julle bid en wys wat die waarheid is,
maar oor opsetlike sonde sal Hy julle uitwis. (I Sam 12:22-25)
Dwaas handel of volgens bevele wandel (I Sam 13)
Saul se oorrompeling van die Filistynse wagpos bring toe mee
dat die Filistyne bymekaargekom het om teen Israel te veg.
Baie afdelings strydwaens en perderuiters was reg,
en manskappe so baie soos die sand van die see. (I Sam 13:1-5)
Die volk was in ‘n hoek vasgekeer.
Hulle het weggekruip in grotte en hol kranse.
Gate en droë putte was hulle skanse.
Saul was nog in Gilgal met sy leer. (I Sam 13:6-7)
Saul het sewe dae vir Samuel gewag.
Om sy manskappe se gedros te vermy,
sê hy: “Bring die maaltydoffer na my!”
Hy het self die brandoffer gebring die dag. (I Sam 13:8-9)
Net toe kom Samuel daar aan.
Samuel vra hom toe: “Wat het jy aangevang?”
En Saul het gesê: “My manskappe was te bang!
Jy moet die situasie verstaan.” (I Sam 13:10-12)
Maar Samuel sê vir Saul: “Jy het dwaas gehandel.
Jy het nou die bestendigheid van jou koningskap verbeur:
Die Here sal iemand na Sy hart aanstel om te regeer,
want jy het nie volgens die Here se bevele gewandel. (I Sam 13:13-14)
Jonatan vertrou (I Sam 14:1-23)
Op ‘n dag sê Jonatan seun van Saul toe vir sy wapendraer:
“Kom ons gaan oor na die patrollie van die Filistyne toe daar.”
Saul het toe onder ‘n granaatboom gestaan.
Hy het nie geweet Jonatan het gegaan. (I Sam 14:1-2)
Jonatan het vir sy wapendraer gesê:
“Kom ons stap in die rigting van die patrollie in.
Die Here kan red, deur baie of deur min.”
“Ek is tot u diens, ek maak net soos u wil hê” (I Sam 14:3-8)
As hulle vir ons sê: ‘Staan stil totdat ons by julle kom,’
bly ons hier onder staan, in afhanklikheid van Hom,
maar as hulle sê: ‘Julle moet na ons toe kom,’
is dit ‘n aanval opdrag van Hom,
want dit sal die teken wees wat God gee,
dat Hy die Filistyne in ons mag gee.” (I Sam 14:9-10)
Toe die Filistynse patrollie Jonatan en sy wapendraer sien,
roep hul uit: “Kyk daar! Die Hebreërs het vanuit hul gate opgedaag.”
Die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag:
“Kom op na ons toe dat ons julle die les kan leer wat julle verdien.”
Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Klim agter my aan!
Die Here se teken is dat Hy die Filistyne gaan verslaan! (I Sam 14:11-12)
Die vyand het voor Jonatan geval,
omtrent twintig in getal,
God het die hele leër paniekbevange gemaak,
en deur ‘n aardbewing het almal nog banger geraak. (I Sam 14:13-16)
Saul en sy manskappe kom toe daar
en sien hoe die vyand veg onder mekaar.
Die Here het Israel daardie dag gered.
Besef jy wat kan gebeur as jy Jonatan se geloof het? (I Sam 14:17-23)
Heuning (I Sam 14:24-46)
Saul het die manskappe ‘n eed opgelê:
“’n Ramp tref dié een wat voor vanaand iets eet,” het hy gesê.
“Ek wil my op my vyande wreek.”
Die manskappe het niks in hul mond gesteek. (I Sam 14:24)
Die gebied was bosagtig en daar was heuning in die veld.
Al het die heuning so gedrup, het die koning se bevel gegeld.
Jonatan het nie van sy pa se bevel geweet
en sy sy kierie in ‘n heuningkoek gesteek en daarvan geëet. (I Sam 14:25-27)
“Jou pa het gesê ons mag nie kos in ons mond sit
nou is die manne regtig uitgeput.”
“My pa se bevel het ‘n ramp oor ons land gebring,
want net hierdie bietjie heuning het my krag teruggebring.” (I Sam 24:28-30)
Die volk was so honger, al het hulle van beter geweet
het hulle gesondig en net daar by die bloed geëet.
Saul keer toe: “Kom slag hier, bring ‘n groot klip daarvoor, gou!”
Hy het later die klip gebruik om ‘n altaar vir die Here te bou. (I Sam 24:31-35)
Daarna het Saul gesê: “Laat ons die Filistyne vannag nog uitveeg!”
Maar die priester antwoord: “Laat ons God hier raadpleeg!”
“Sal U die Filistyne in Israel se mag oorgee?”
Maar God antwoord toe nie “ja” of “nee.” (I Sam 14:36-37)
Saul sê toe vir die volk: “Julle moet eenkant toe staan.
Ek en my seun Jonatan sal anderkant toe gaan.
Laat ons met die loot bepaal
wie het vandag met sonde gefaal.” (I Sam 14:38-40)
Die manskappe is toe van blaam bevry,
want Jonatan en Saul het die skuld gekry.
Met loot is Jonatan aangewys.
“Wat jy gedoen het, moet jy wys!”
“Ek het ‘n klein bietjie heuning geëet.”
“Jy sal moet sterf, want dit was ‘n eed.” (I Sam 14:41-44)
Maar die manne het voor Saul gaan staan:
“So seker as die Here leef,
u moet vandag u seun vergeef.
met God se hulp het hy die Filistyne verslaan.” (I Sam 14:45)
So het die manne Jonatan los gekry
en is hy van die doodstraf bevry.
Saul het die vervolging laat staan
en die Filistyne het na hulle gebied teruggegaan. (I Sam 14:45-46)
As die leiers bo jou en die mikpunte van jou werk,
jou keer om jou met die heuning van die Woord versterk, (Ps 119:103)
weet so seker as die Here leef, (Ps 18:47)
alles moet maar bietjie wag,
want net daar kry jy jou krag, (Ps 119:28, Hand 19:20)
ja, daar sien jy, jy is vergeef! (Ps 103:3, Rom 4:7)
Saul as koning verwerp (I Sam 15)
Die Here het my jou as koning laat salf
Hy sê nou jy moet Amalek gaan verslaan.
want hy het my volk destyds teengestaan.
Bring alles om die lewe: Man en vrou, koei en kalf. (I Sam 15:1-3)
Twee honderd afdelings voetsoldate kom toe uit
en neem stelling in by die Amalakiete se spruit.
Sal het die Keniete ‘n waarskuwing gegee
en hulle het uit die Amalakiete padgegee. (I Sam 15:4-6)
Saul het daarna die Amalakiete verslaan
van Gawila to by Sur wat teenoor Egipte staan.
Die hele volk en al die diere is dood gemaak,
maar Agag en die mooiste diere is laat staan. (I Sam 15:7-9)
Toe het die woord van die Here Samuel geraak:
“Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak,
want hy het van My af weggedraai en my opdragte verbreek.”
Samuel het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek. (I Sam 15:10-11)
Die oggend het Samuel na Saul vertrek sonder om te sloer.
Saul het ‘n gedenkteken opgerig omdat hyself die eer wou hê.
Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê:
“Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.” (I Sam 15:12-13)
“Wat vir ‘n geblêr van kleinvee is daar dan in my oor?
En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?”
“Dit is die goed deur die manskappe gespaar,
dis vir offers aan die Here u God bewaar.” (I Sam 15:14-15)
“Laat ek die Here se boodskap aan jou vertel
Al is jy klein in jou eie oë, jy is hoof van Israel.
Die Here se opdrag alles moet hulle lewe verbeur.
Hoekom het jy jou nie aan sy bevel gesteur?” (I Sam 15:16-19)
“Maar ek hét die bevel van die Here gehoor!
Ek het gegaan, geveg en almal vermoor.
Amalek het ek gebring o te wys ons het oorwin
en die beste diere is deur offers die Here sin.” (I Sam 15:20-21)
“Is brandoffers en ander diereoffers tot Sy eer
net so aanneemlik as gehoorsaamheid vir die Heer?
Nee, gehoorsaamheid is beter as enige offerand,
om te luister is beter as die vet van ramme uit jou hand. (I Sam 15:22)
Weerspannigheid is net so erg as waarsêery,
eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.
Omdat jy die woord van die Here verwerp,
het Hy jou as koning verwerp.” (I Sam 15:23)
Is jy nog gehoorsaam aan God se bevel?
Of wil jy jouself regverdig en vertel
en jou eie planne vir ander so inkleur,
dat dit oor jouself gaan en nie God se eer?


Leave a Reply