Site icon Tot U eer

GEDIGTE UIT DIE KLEIN PROFETE

Jona

Van kindsdae sal jy onthou
hoe dié geskiedenis ontvou:
Jona weier God se genade:
“Ek wil nie gaan.”
Jona bid om God se genade:
“Ek sal gaan.”
Jona vertel van God se genade:
“Jul gaan vergaan.”
Jona leer van God se genade:
“Ek verstaan.”

Jona weier God se genade (Jona 1)

Jerobeam twee lê bekommerd en wag,
vir die aanval van die Assiriese mag,
Van Nineve is die vyand nou oppad,
na Jerusalem, Israel se heilige stad.

Jona, jy moet na Nineve gaan:
Hul moet my genade verstaan.

Jona vlug en gaan ‘n skip aan boord.
‘n Magtige storm bring God’s woord.
“My God het hierdie see gemaak,
gooi my oorboord om stil te raak.”

Op rys die manne se gebede.
dieper sink Jona na benede…
‘n Vis is deur God gestuur –
drie dae moes Jona verduur.

Jona bid om God se genade (Jona 2)

In my gebed het ek verlore gevoel.
Golf na golf het oor my gespoel.
Ek het geroep: “Help ek verloor –
Wees my genadig.” God verhoor.

Die waters het my afgemaai.
Seegras het om my kop gedraai.
Afgesak tot berge se fondament.
Gered van dood se verste ent.

Terwyl ek na benede sink.
Het ek in nood aan U gedink.
Net toe ek wou vergaan,
kom my gebed by U aan!

Wie op nuttelose afgode vertrou
Gaan dit verseker berou.
Hulp kom net van die Heer,
wat hierdie groot vis beheer.

Ek wil vir U ‘n loflied sing.
Ek wil vir U offers bring.
Wat ek beloof het sal ek doen.
Ek is weer met God versoen.

Jona vertel van God se genade (Jona 3)

Die opdrag weer: “Gaan na die stad.”
Hierdie keer vat Jona wel die pad.
“Sien van jul verkeerde dade af –
oor veertig dae gaan God jul straf!”

Die mense het toe in God geglo,
en in alle erns begin bid na bo.
In berou gevas: nie geëet of drink.
Selfs die koning het niks geskink.

Toe God sien dat hulle hul bekeer,
het Hy, genadig, die ramp gekeer.

Jona leer van God se genade.

Jona was ontevrede en kwaad.
Dit gaan Israel beslis nie baat.

Van U groot genade het ek geweet
dat U barmhartig en liefdevol heet.
U sien maklik af van die straf.
Ek gee nou eerder my lewe af.

Jona, hoekom word jy kwaad?
Bevraagteken jy My raad?

Die son het Jona geskroei.
God het ‘n plant laat groei.
Oor die skadu was Jona bly-
dit het hom van misnoeë bevry
God stuur ‘n wurm om te kou.
en die plant verdroog toe gou.

Jona, hoekom word jy kwaad?
Bevraagteken jy My raad?

Oordenking
Ook vir jou sal dit nie baat,
om te wonder oor God se raad.
Jy kan Sy genade nie keer.
Bly net roep dat hul bekeer.

Amos

Amos, die eenvoudige herder val in die pad
God het hom gestuur na die sondige stad…

God gaan straf (Amos 1-3).
Ek gaan hul strooi soos kaf
Ja, verseker gaan Ek straf!

Hule verkoop onskuldiges kaal,
arm mense vir ‘n paar sandaal.
hulle trap en gooi swakkes neer
en veronreg dié wat nie kan keer.

Pa en seun kuier by dieselfde vrou.
Waar is my heilige Naam dan nou?
Langs elke altaar strek hulle uit
op klere wat hul pand en buit.
In die tempel drink hul wyn
ingesamel uit ander se pyn.

Amos, die boereprofeet, spreek oordeel uit (Amos 4).
Ek stuur hongersnood,
julle was sonder brood.
Maar so, sê die Heer:
Julle het julle nie bekeer!

Ek het dit nie laat reën
en jul nie met ‘n oes geseën.
Maar so, sê die Heer:
Julle het julle nie bekeer!

Ek het brandkoring gestuur
en jul moes sprinkane verduur.
Maar so, sê die Heer:
Julle het julle nie bekeer!

Ek het die vyand gestuur te perd.
Julle lewens was niks meer werd.
Maar so, sê die Heer:
Julle het julle nie bekeer!

Ek het jul soos hout geruk,
ja, uit die vuur gepluk.
Maar so, sê die Heer:
Julle het julle nie bekeer!

Vol van hierdie pyn,
sal jy voor My verskyn.
Jy moet nog leer
wie is die Heer:

Hy wat berge vorm en die wind maak,
Hy deur wie gedagtes bekend raak,
Hy wat die dagbreek donker maak,
Hy wat alles bekragtig,
sy Naam is Here, almagtig!

Wat God eintlik wil hê (Amos 5-8)?
As julle nou voor My begin bewe
en vra na My wil, sal julle lewe!

Ek verafsku julle fees,
al bring julle My ‘n bees.
Ek verafsku jul gesing
en die valsheid wat jul bring.

Verander jul bose weg
en lewe eerder reg!

Hoopvolle beloftes (Amos 9).
Ek sal Dawid se vervalle hut
se murasies bou en beskut.
Sodra hul My weer onthou,
sal ek hul stede herbou.

Ek en jy?
Ook vir my en jou is die boodskap hier:
Godsdiens is nie ‘n gewoonte of kultuur.
Hou op om jouself met tradisie te verkul.
Ware godsdiens is ‘n soeke na Sý wil!

Hosea

Die ontroue vrou (Hos 1-3).
Gaan trou met ‘n prostituut
al het Ek dit streng verbied.
Die land is besig om te hoereer,
Ja, heeltemal ontrou aan die Heer.

Selfs Hosea se kinders se naam
het die volk gewys op hul blaam.

Sy is nie meer my vrou –
sy is te veel keer ontrou.
Ek maak haar soos woestyn,
sy sal omkom van dors en pyn!

Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak
en weer van voor af vir haar lief kan raak.

Die hofsaak (Hos 4-14).
Israeliete, die Heer se woord wil vermaan
want Hy kla die land se inwoners aan:
Omdat trou, liefde en toewyding verbleek
en die wil van God in die land ontbreek,
is dit vol vervloeking, valsheid en moord,
ja, diefstal en egbreuk só ongehoord.

Onskuldige bloed aan die orde van die dag.
Ja, dit is God, die Regter, se klag.

Hulle weet goed wat is reg.
Ek gaan na my woonplek weg
totdat hulle, hulle skuld bely
en vra na die wil van My.

My straf sal kom so seker soos die dag,
eerder as offers het ek liefde verwag.
Maar Efraim, hoe kan ek jou laat vaar
hoe kan my liefde vir jou bedaar?

Al is jou lewe so benard,
Ek kry dit nie oor my hart.
My liefde brand te sterk,
al ken Ek jou slegte werk.

Gloeiende toorn is nie my wens,
want Ek is God en nie ‘n mens!

Besef jy, jý is net so ontrou
maar God se liefde brand vir jou?

Miga, die hofsaak (Miga 6-7).

Kom om te getuig, vaste berg:
Die sonde van die volk is erg!
Die Here het ‘n hofsaak
teen sy eie volk gemaak. (Miga 6:1-2)

Jy meet met verkeerde maat
Dis die valsheid wat ek haat.
Ryk inwoners pleeg geweld.
Hul lieg en bedrieg vir geld! (Miga 6:10-12)

Jy kan duisend ramme gaan haal
Vir jou eie sonde kan jy nie betaal.

Jy is skuldig verklaar,
so ek straf jou al klaar.
Jy eet, maar kry nie genoeg.
Jy kry kinders met ‘n geswoeg.
Oor jou sonde gaan ek jou verwoes.
Jy kan maar saai – jy gaan nie oes! (Miga 6:13-14)

maar

Ek sal wag dat God my red.
Ek vertrou: Hy verhoor gebed. (Miga 7:7)

Anders as my sonde loon,
sal Hy weer genade toon.
Ek sal my God bly loof:
Hy doen wat Hy beloof! (Miga 7:18-20)

Sefanja

Die boodskap van Sefanja is vir my:
Die groot dag van die Here is naby!
God is regverdig en heilig,
as Hy straf is niemand veilig.

Luister hoe bitter, hoe skril
klink die soldate se gil…

Dié dag is ‘n dag van toorn en koudheid,
‘n dag van nood en benoudheid,
‘n dag van verwoesting en storm,
‘n dag in duister en donker gevorm,
‘n dag van swaar onweer en wolk,
teen die hoë hoektorings van die volk.
‘n dag waarop die ramshoring sal blaas
en die krygsgeskreeu sal klink en raas.

Streef na geregtigheid en nederigheid daar:
Miskien bly julle hierdie straf gespaar

Ellende kom op Jerusalem se pad,
die opstandige, besoedelde stad.
Hy laat hom nie wys waar die pad vernou
en wil nie op God alleen vertrou.

Die amptenare is leeus wat brul
sy regters is wolwe wat gil…
Sy profete is roekeloos ontrou,
sy priesters het nie die wet onthou.

Ek sal dié laat oorbly wat onthou
om nederig op My Naam te vertrou.

Ek maak dié bymekaar wat treur,
ver van die feestelikheid se geur.
Ek gaan die kreupeles help,
die vernederdes se eer vergeld.

Habakuk, lewe deur geloof.

Habakuk kla
en God wys die swaar.
Habakuk vra,
God leer: geloof bewaar.

Habakuk staar:
God het oordeel verklaar.
Habakuk verklaar:
Ek jubel ten spyte van swaar!

Die boek Habakuk wil beloof:
Jy word net gered deur geloof,
daarom kan jy in swaarkry loof!

Habakuk kla en God wys die swaar (Hab 1:1-11).

Hoe lank moet ek nog vra,
oor al die geweld by U kla?
Die wet het nie meer krag,
onskuldiges se reg word verkrag.

Jy gaan jou verstom en nie verstaan
want Ek gaan julle verder slaan.
Verwoesting saai die vyand se leër,
niemand kan hul perde keer!

Habakuk vra, God leer: geloof bewaar (Hab 1:12-17).

U, o Heilige, is tog van altyd daar?!!
Hoe kan mens die geweld verklaar?
Met nette en hoeke in ons bek gevang,
is ons soos visse, vasgekeer bang!
Kan U sien: ons bewe van angs?
Die Galdeërs juig oor hulle vangs!

Jy moet net geduldig bly wag,
hier is die boodskap se krag:
Die onregverdige moet bewe,
maar die wat glo sal ewig lewe!

Habakuk staar: God het oordeel verklaar (Hab 2:5-20).

God hét na die geweld gekyk:
Ellende wag vir die wat hul verryk.

Ellende wag vir die wat bou met moord,
dis God, die Almagtige se Woord.

Ellende jul wat drank met gif geskink:
Jul sal God se oordeelsbeker drink!

Ellende wag vir hom wat vir hout
‘n nuttelose afgod, bid vir sy behoud.

Almal moet die Here in Sy tempel vrees,
in sy teenwoordigheid net in stilte wees.

Habakuk verklaar: Ek jubel ten spyte van swaar! (Hab 3).
U het riviere en berge gemaak
Dit verkrummel as u daaraan raak.
Toe ek dit hoor het ek gebewe
Sal U my ongeduld vergewe?

Al sou die vyeboom nie bot,
die druiwe op die wingerd verrot.
Al is die olyf oeste kaal,
en geen beeste in die kraal.
Nogtans sal ek in die Here juig,
voor sy alwetendheid sal Ek buig.
Die Here gee vir my krag,
soos ‘n ribbok veilig vandag.

Toepassing
Die boek Habakuk wil beloof:
Jy word net gered deur geloof,
daarom kan jy in swaarkry loof!

Obadja

So sê die Here oor Edom:
“Al die nasies moet kom!
Saam moet ons oorlog maak,
want teen Edom het Ek ‘n saak!” (Ob 1:1)

Jy is deur jou vermetelheid mislei.
Jy dink: Wie sal my hier bo kan afkry?
Al het jy tussen die sterre jou vesting gebou,
ook daar sal jy jou oortredings berou… (Ob 1:2-4)

Daardie dag sal Ek alles stroop.
Selfs jou vriende sal oor jou loop.
Die wat jy gehelp het, sal jou daag.
Jou eie bondgenote sal jou jaag. (Ob 1:5-9)

Jy word gestraf, dis Mý woord,
oor jou broervolk se moord.
Toe hulle in ballingskap gaan,
het jy afsydig daar gestaan. (Ob 1:10-11)

Toe die ramp hul tref was jy daar
en het hulle goed vir jou vergaar.
Oor hul lot het jy jou verheug,
op vlugtelinge moord gepleeg. (Ob 1:12-14)

Soos Jakob die oordeelsbeker moes drink,
so sal Ek dit vir alle nasies skink,
maar op Sionsberg sal daar uitkoms kom:
Jakob sal dit besit – dit behoort aan hom. (Ob 1:15-17)

In daardie uur
is Jakob die vuur.
Esau sal sy straf kry:
Niemand sal oorbly! (Ob 1:18-20)

Die op Sionsberg word bevry,
hulle sal Esau se bergland kry.
Die heerskappy behoort aan die Heer:
Gee aan Hom alle eer! (Ob 1:21)

Sagaria: Gesigte voor die terugkeerSagaria: Gesigte voor die terugkeer

Sagaria se eerste gesig (Sag 1:8-17).
Daar het ‘n man op ‘n bruin perd gesit
Die agterste perde was bruin, vos en wit.
Ek het gevra: “Meneer, wat beteken dit?”
Die ruiters moes die wêreld deurkruis.
Dit is rustig en stil in elke huis.
Wanneer bring u ontferming daar?
U toorn duur al sewentig jaar!

Julle kan maar op beloftes vertrou:
My tempel sal julle weer herbou!
Ek gaan weer genade betoon
en gaan weer tussen julle woon!

Sagaria se tweede gesig (Sag 1:18-21).
Ek het vier horings gesien:
Dis die nasies wat straf verdien
Daar kom ambagsmanne aan
Wat die nasies kom verslaan.

Sagaria se derde gesig (Sag 2:1-13).
Wat gaan u met die maatlyn meet?
Ek moet die breedte van Jerusalem weet.

Jerusalem word ‘n stad sonder muur.
Ek self is rondom hom soos vuur!

Baie nasies sal hulle aan die Here verbind.
Ek sal in jou woon, Sion, elkeen My kind.

Wees stil voor die Here al wat leef!
Hy kom uit sy heilige woning gesweef.

Sagaria se vierde gesig (Sag 3:1-10).

Die Here het my nog ‘n gesig laat sien:
Jesua het voor die engel gestaan.
Die Satan kla hom toe daar aan.
“Satan, jý is die een wat straf verdien!”

‘n Stuk hout uit die vuur gered, so vuil,
julle moet dit met skoon klere ruil.
Jesua, Ek het al jou oortredings vergeef
Jy moet nou volgens my voorskrif leef.

Jy sal die amp van hoëpriester kry.
Soos engele sal jy toegang kry tot My.
Jy, ‘n teken van iets wat kom:
My dienaar, Loot, noem hul Hom.

Kyk, die een klip het sewe oë,
want net Ek het die vermoë
om hul sonde van hul te vervreem
en op een dag dit weg te neem!

Sagaria se vyfde gesig (Sag 4:1-14).

Ek het gesien daar is ‘n kandelaar.
‘n Oliebak met sewe tuite is ook daar.
Twee olyfbome het ek ook gewaar.

Jy sal nie slaag met mag en krag.
Net deur My Gees kan jy dit vermag:
Serrubbabel het die fondamente gepak,
Hy sal ook klaarmaak met die dak.

Die tempel is voltooi (Esra 6).

Uiteindelik is die tempel klaar gebou.
Die volk het toe Paasfees gehou.

Julle moenie kerk-kerk speel: godsdiens in nie ‘n leë ritueel (Sag 7-8).

Is dit nog gepas
dat ons moet vas?

Wat is dit wat jul hart begeer?
Is die gevas werklik tot Mý eer?

Liefde moes jul bewys,
maar jul harte was van ys.
Daarom het Ek julle verstrooi,
maar luister die keer mooi:

Ek is hartstogtelik oor jou begaan.
My almag en trou sal jy verstaan:
Bejaardes met kieries ryp in jaar
en kinders speel op die pleine daar.

Wat vandag vir jou onmoontlik lyk,
sal deur My almag more pryk.
Julle sal my volk wees,
Ek sal julle God wees.

Praat die waarheid met mekaar,
laat reg en regspraak geld ook daar.

Baie volke sal kom
om te vra na Hom!

En jý, is jou godsdiens net ‘n ritueel?
Tot jou eie eer sonder om te deel?
Wanneer gaan jy verstaan:
Hy is hartlik oor joú begaan?

Nederig op ‘n donkie sal Hy kom (Sag 9-11).

Die Koning kom – wag vir Hom!
Nederig op ‘n donkie sal Hy kom.
Pyl en boog sal Hy breek.
“Vrede vir julle” sal Hy preek.

Die aardse herders het gefaal…
Ek stuur My Herder: Gaan betaal!
Hul het My genade nie oorweeg
en dertig silwerstukke afgeweeg!

Gelouter soos goud in vuur (Sag 12-14).

Ek bring ‘n gees van berou.
Hulle sal dan wel onthou.
Oor My dood sal hul treur,
en besef ek is die Heer!

Gelouter soos goud in vuur,
so reining ek jul in dié uur.
Ek sal jul gebede verhoor,
en julle sal jul vuilheid verloor.

Jul kom nou net uit ballingskap terug,
maar hoor hierdie harde berig:
Die dag van die Here kom –
plunder, verkragting – die hele som!

Maar jy hoef nie te vrees,
die hemelwesens sal by jou wees!
Ja, jou Koning kom weer,
wanneer, weet net die Heer!

Ja, Ek bring die berig,
van dan af is dit altyd lig!

Oorsig oor die boek Sagaria

Julle moet julle na My bekeer, (Sag 1:3)
dan Sal ek weer na julle terugkeer

Die ruiters en perde leer die volk vertrou: (Gesig 1)
God sal Jerusalem en die tempel herbou.

Die ambagsmanne kom na die horings aan. (Gesig 2)
So word die volk se verdrukkers verslaan.

Die maatlyn vir die stad se muur: (Gesig 3)
God beskerm rondom soos vuur!

Die hoëpriester, ‘n teken van iets wat kom: (Gesig 4)
My dienaar, Loot, noem hul Hom.

Die oliebak, olyfbome en kandelaar, (Gesig 5)
het die Gees se teenwoordigheid verklaar.

‘n Reuse boekrol het in die lug gesweef: (Gesig 6)
Vervloeking waarvoor die dief moet beef.

‘n Mandjie met lood toegehou: (Gesig 7)
Binne in sit die goddelose vrou!

Die perde en die wa (Gesig 8)
Bring oordeel en gekla.

Julle moenie kerk-kerk speel: (Sag 7-8)
godsdiens is nie ‘n leë ritueel!

Nederig op ‘n donkie sal Hy kom, (Sag 9-11)
met dertig silwerstukke verwerp hul Hom!

Na ons gesuiwer deur vuur, kom Hy weer. (Sag 12-14).
Wanneer dit sal wees weet net die Heer! 

Haggai en Nuwejaarsvoornemens

Dis wat die Here, die Almagtige, sê:
“Is dit nou tyd om in julle pragtige huise te bly
en dit terwyl My huis in puin lê?
Neem ter harte hoekom julle niks kry: (Hag 1:1-3)

Julle het baie gesaai,
maar min oes opgelaai….
Julle het baie kos ingeneem
maar die honger nie weggeneem…
Julle het gedrink, fles na fles
maar kon die dors net nie les…
Julle het julle met klere getooi,
maar kon nie van die koue ontdooi…
Jou hardverdiende geld vir die week
word in ‘n stukkende beursie gesteek. (Hag 1:4-6)

Liewe leser, so aan die einde van ‘n jaar,
hoeveel van dié simptome is vir jou waar?
As jy nuwejaarsvoornemens soek,
soek jy dit nog in die Boek?

Gaan haal hout in die berg en herbou my huis!
Daardie optrede
maak My tevrede
en dit sal vir almal my eer uitwys! (Hag 1:8)

Die volk was gevul met ontsag vir die Heer
“Ek is by julle, as julle werk tot my eer!”
Die leiers het die volk aangevuur
en hulle het begin in daardie uur… (Hag 1:12-14)

As jy jou nuwejaarsvoornemens maak,
gaan hulle oor God se saak?
Is jy die middelpunt van jou lys?
Gaan enige van hulle oor God se huis?
Jou lysie wat jy gaan probeer,
is jou doel God se eer?

Na ‘n ruk se bou wou die volk moed verloor:
Dié tempel het nie soos die vorige bekoor…
Skep moed, sê die Heer, begin met die werk.
Ek is by julle, die Almagtige sal julle versterk.
Aan My belofte van Egipte sal Ek getrou wees:
Ek is altyd by en binne julle met My Gees! (Hag 2:1-5)

Hoe lank het jou vorige voornemens gehou,
was jy darem ses weke in almal getrou?
Was enige van hulle op God se beloftes gebou?
Het jy op die hulp van die Gees daarvoor vertrou?

Ek sal die hemel en aarde, see en land laat bewe.
Alles behoort aan my: Silwer, goud en alles wat lewe.
Ek sal hierdie huis met rykdom vul
en hierdie plek met vrede omhul. (Hag 2:6-9)

Julle bring offers van graan, groente en wyn,
maar alles wat julle bring is onrein…
Daarom moet julle daarop let en weer onthou
wat gebeur het voor julle begin het met die bou: (Hag 2:10-15)

Julle het koring van die land af gebring,
maar dit het die helfte van opbrengs ingebring
Vir die parskuip het julle vyftig vate geskat,
maar daar was net genoeg om twintig te vat.
Brandkoring, heuningdou en hael het opbrengste verteer
en nogtans het niemand hom tot My bekeer… (Hag 2:16-17)

Van die tien op jou voorneme lys,
hoeveel het ware sukses gewys?
Het jy hierdie keer geleer
jy moet jou tot God bekeer?

Maar nou, kyk wat gaan gebeur, het die Heer gesê,
want vandag het julle die fondamente gelê:
Van nou af sal ek voorspoed gee, sê die Heer,
want julle werke fokus op My eer! (Hag 2:18-19)

Gooi nou jou lysie weg en probeer
‘n nuwe een wat fokus op God se eer.
Begin op daardie fondament bou
Hier is ‘n paar vrae vir jou:

Watter eén ding gaan jou vreugde in God laat groei?
Dalk deur mediterend in Sy Woord te stoei…?

Watter onmoontlike gebed gaan jy bly vra,
met ‘n “Maar God het…” vers wat jou sal dra?

Watter geestelike dissipline moet die meeste groei?
Bybel lees, gebed of om jou oor ander se sorge te bemoei?

Wat is die enkel grootse tyd dief in jou dag?
TV, Facebook of ander plesier wat God se dinge laat wag…

Gaan jy weer met huisgodsdiens begin
as kern vir die herstel van jou gesin?

Wat is een klein dingetjie by jou kerk
wat ‘n groot verskil sal maak as jy daaraan werk?

Vir wie gaan jy elke dag op jou knieë neer
dat daardie persoon hom hierdie jaar bekeer?

Daardie gevoel wat daar noú in jou, is die Gees
wat jou lei oor wat nog op jou lys moet wees…

Gaan jou gebede hierdie jaar tot God se eer wees?
Gefokus weg van jou, op wat jy in jou Bybel lees?

Watter een ding gaan jy doen op aarde
met lang termyn of selfs ewigheidswaarde?

Sê vir Serubbabel die goewerneur,
wat eendag gaan gebeur:
Ek gaan die hemel en die aarde laat bewe
en ‘n einde maak aan al wat lewe…
Daardie dag sal ek jou ‘n seëlring maak,
want ek het jou uitgekies, jý maak saak! (Sag 2:20-23)

Die profeet Joël (Joël 1-3.).

Gekou knaag.
Sprinkaan plaag.

Weiding weg.
Koringoes sleg.

Vervuil.
Volk huil.

Wilde perd.
Niks werd.

Wrede leër.
Dag van Heer.

Vas, huil en treur.
Kom terug: bekeer.
Hy is ‘n genadige Heer
en vergewe altyd weer!

Jul leer:
Ek Heer!

As julle die tekens lees
laat kom ek my Gees.
Jongmense sal as profete optree.
Vir oumense sal ek drome gee.

Na gebed
sal Ek red.

Bloed vuur,
dis die uur

Nasies straf.
Na hul graf.

Baie sonde.
Sekel wonde.

Oes is ryp
vol parskuip.

Swaard na skaar.
Snoeiskêr daar.

Ek sal die volk se sonde vergeef
en weer saam in Jerusalem leef!

Maleagi: Ek het julle lief!

God: “Ek het julle lief”
Volk: “Hoe het U ons lief?”
Die Here die Almagtige praat:
Esau het ek gehaat,
maar Jakob sal ek nie verlaat.

Erediens tot God se eer (Mal 1:6-2:10).

God: “Julle gee My nie die eer.”
Volk: “Hoe minag ons U Heer?”
Die Here die Almagtige praat:
“Blinde, siek lam by die offer daad.”

Volk: “Sluit die deure van die kerk,
dis heeltemal te veel werk!”
Die Here die Almagtige praat:
“Ander nasies eer my met hul daad.”

“Priesters moet My naam eer.”
Sê die almagtige Heer.
“Ek het ‘n verbond met jou gesluit,
maar tog buit jy My net uit!”

Huwelik tot God se eer (Mal 2:11-16).

Juda se afskuwelike ontrou:
Manne trou met goddelose vrou.
Volk: “Waarom verwerp U ons offers nou?”
God: “Jy is dan aan jou vrou ontrou!”

“Wat is die rede vir die huwelik, Heer?”
“Ek soek ‘n nageslag wat Mý moet eer.
Een in liggaam en een in gees,
dít is hoe die huwelik moet wees!

Die Almagtige se woorde geld:
“Egskeiding is vir My geweld.”

Tiendes tot God se eer (Mal 3:6-12).

Die Here, die Almagtige praat:
Al wat julle elke keer red,
is dat Ek nie verander het.
Julle het van my afgewyk in daad.
Volk: “Waarom moet ons, ons bekeer?”
God: “Dis al hoe Ek na julle terugkeer!”

Volk: “Hoe beroof ons U?”
God: “Julle bring nie tiendes nie!”
Dis die Almagtige wat praat:
“Toets my met julle daad:
Ek open hemel vensters van seën,
en gee ‘n oorvloed van reën.
Ek sal die sprinkaanplaag keer
en maak die wingerdoes meer.”

‘n Ewige lewe vir dié wat eer (Mal 2:17, 3:1-5, 13-4:5).

God: “Moeg, maak julle My.”
Volk: “Hoe het ons dit reggekry?”
“Julle het gekla:
‘God hou van mense wat doen wat Hy verbied.’
Julle het gevra:
‘Waar is die God wat reg moet laat geskied?’ ”

Ek gaan my boodskapper vooruit stuur.
Na die tempel kom ek in daardie uur.
Dis die Verbondsengel waarna julle vra,
maar gaan julle Sy regspraak verdra?
Soos iemand wat silwer smelt,
gaan ek julle louter en vergeld.

Volk: “Watter nut het dit om God te dien?”
God: “Ek hoor en gee ag, al kan julle nie sien:
‘n Gedenkboek met name van die wat My eer,
My kosbare besitting as Ek ingryp!”, sê die Heer.

Soos in ‘n oond sal hul brand op dié dag!
Maar die wat in eerbied op My bly wag,
kry genesing uit die son wat redding straal
en sal vrylik bokspring in die kalwerkraal!

PDF DIGBUDEL : KLEIN PROFETE

Jy kan hierdie gedigte in PDF aflaai.

Soos in ‘n oond sal hul brand op dié dag!
Maar die wat in eerbied op My bly wag,
kry genesing uit die son wat redding straal
en sal vrylik bokspring in die kalwerkraal!

Exit mobile version