Site icon Tot U eer

GEDIGTE UIT TIMOTEUS EN TITUS

I Timoteus: Die ware leer

Timoteus, ek skryf die brief aan jou
dat julle as Gods gesin, jul reg gedra
en die waarheid beskerm en dra.
Hierdie waarheid moet julle onthou: (I Tim 3:14-15).

As mens het Jesus in die wêreld gekom,
deur die Gees is bevestig die reg is in Hom,
aan die engele het Hy sy verskyning gemaak.
Heidennasies is deur Sy verkondiging geraak,
in die hele wêreld is Hy as Verlosser geglo,
Ja, Hy is opgeneem in heerlikheid daar bo. (I Tim 3:16).

Verbied verspreiding van ‘n valse leer
Twis gesprekke moet julle keer. (I Tim 1:3,4)

Die doel waarna die wet strek,
is om met ‘n goeie gewete te loof
en gevorm word deur opregte geloof,
om so, in julle rein harte, liefde te wek. (I Tim 1:5, 1953)

Hou by die gesonde leer en sy gebod –
dit gaan oor die evangelie van God. (I Tim 1:11)
Die betroubare woord moet jy onthou:
Christus het sondaars kom verlos, ja ook jou! (I Tim 1:15)
Almal wat dit glo en bely,
sal die ewige lewe verkry. (I Tim 1:16)

Aan Hom die ewige Koning en Heer,
die onverganklike,
die onsienlike,
die enigste,
kom toe die heerlikheid en eer! (I Tim 1:17)

Amen

Die evangelie van die heerlikheid van God

Van Paulus, wat Jesus sy Verlosser loof,
aan Timoteus, my eie kind in die geloof .
Genade, barmhartigheid en vrede
van God die Vader en Christus Jesus, die rede. (I Tim 1:1-2)

Daar is mense wat vals leerstellings versprei,
daarom wil ek hê dat jy daar moet bly.
Hulle bring net onnodige twis gesprekke mee
eerder as vorming wat God deur geloof gee. (I Tim 1:3-4)

Hierdie opdrag van my se doel
is dat ware liefde oor sal spoel.
So word deur ‘n rein hart en goeie gewete
en ‘n opregte geloof, die sinlose stryd vergete. (I Tim 1:5-6)

Hierdie mense is leermeesters van die wet,
maar vergeet dat dit liefde ten doel het! (I Tim 1:7)

Ons weet die wet is goed en puik
maar net as ons dit “wettig” gebruik:
Dis nie vir die wetsgehoorsame gegee,
maar mens meet goddeloosheid daarmee. (I Tim 1:8-10)

Die gesonde leer is nie die hou van die gebod,
maar die evangelie van die heerlikheid van God. (I Tim 1:11)
Ons wat die blye boodskap van Christus het,
vir ons is liefde die vervulling van die wet. (I Tim 1:5,1953; Rom 13:10).

Regverdigmaking (vryspraak) deur geloof alleen,
Heiligmaking deur die Gees se werk heen,
lei tot ‘n lewe volgens die liefdesgebod.
Ja, dis die evangelie van die heerlikheid van God!

Ek was die grootste sondaar, weet jul mos,
maar Jesus het gekom om sonde te verlos.
Sien sy verdraagsaamheid en genade vir my
en weet deur geloof kan jy ook die ewige lewe kry! (I Tim 1:15-16)

Aan Hom wat die ewige Koning is,
wat onverganklik in Sy woning is,
kom toe die eer en heerlikheid,
tot in alle ewigheid! (I Tim 1:17)

Bid dat almal die waarheid sal leer

Hierop wil ek eerste aandring:
Jy moet smeking,
voorbidding,
en danksegging
vir alle mense bring. (I Tim 2:1)

Tweedens bid ook vir die met gesag en wat regeer,
sodat ons rustig en stil in toewyding God kan eer,
want God, ons Verlosser, het die begeerte in Hom
dat alle mense tot die kennis van die waarheid kom. (I Tim 2:1-4)

Die waarheid: Daar is immers net een God
en net een Middelaar die tussen mens en God:
Jesus, die mens, het Hom as losprys vir almal gegee.
en op die bestemde tyd bring dit die bedoeling van God mee. (I Tim 2:5-6)

Daar is net een God, die Vader,
uit wie alles is en vir wie ons lewe.
Daar is net een Christus, deur wie ons God nader,
deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe (I Kor 8:6).

Met die oog hierop is ek as prediker aangestel
om dié waarheid aan heidennasies te vertel. (I Tim 2:7)

As julle manne by die plek van samekoms is
en sonder ‘n getwis, ‘n skoon gewete het,
maar ook op elke ander plek waar julle is, (I Tim 2:8, 1953)
moet julle, julle hande tot God ophef in gebed. (I Tim 2:2:8)

In ‘n vrou se kleredrag en versiering moet mens sien
hoe lyk ‘n vrou wat openlik bely dat sy God dien.
As sy maar volhard in geloof, liefde en ‘n heilige lewe,
bring moederskap vir haar redding en ‘n ewige lewe. (I Tim 2:9-15)

Mans, gee deur eer, vir jou vrou ‘n veilige hawe,
want julle deel saam in die lewe as genadegawe.
Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle pla, (I Pet 3:7)
want gebede vir alle mense is wat ek vra. (I Tim 2:1)

‘n Goeie dienaar van Christus Jesus

Die Gees het van die eindtyd gesê en beloof
dat sommige afvallig sal word van die geloof.
Misleidende geeste sal hulle denke vasvang
en hulle sal bose geeste se leerstellings aanhang. (I Tim 4:1)

Hierdie dwaalleraars se gewete is toegeskroei
en wil hulle met huweliks- en kos reëls bemoei.
God het voedsel vir gebruik oorspronklik goed gemaak
en dit kan weer deur woorde en gebed geheilig raak. (I Tim 4:2-5)

Hou aan die broers voor, alles in die Skrif beloof
en voed jou met die woorde van die geloof.
Van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly,
oefen liewers om toewyding aan God te verkry. (I Tim 4:6-7)

Om jou liggaam te oefen het wel bietjie waarde,
maar toewyding aan God het in alle opsigte waarde,
want dit bevat ‘n belofte van lewe vir ons –
vir nou maar ook vir die toekoms. (1 Tim 4:8)

Die betroubare Woord is waar –
jy kan dit sonder voorbehoud aanvaar. (1 Tim 4:9)

Met hierdie vooruitsig span ons, ons kragte in:
Met ons hoop op die lewende God wat alles begin.
Hy is die Verlosser van alle mense,
die vervulling van almal wat glo se wense. (1 Tim 4:10)

Gemeente, op sy jonkheid sien julle nie neer!
Timoteus, dié dinge moet jy hulle beveel en leer.
Wees ‘n voorbeeld in woord en gedrag,
met liefde, geloof en reinheid elke dag. (I Tim 4:11-13

Jy moet jou daarop toelê
om die Skrif te lees en uit te lê.
Let op jou lewe en leer
sodat die wat luister hul bekeer. (I Tim 4:15-16)

Die wortel van allerlei kwaad

Gelowiges wat as slawe dien
moet hulle eienaars met eerbied bejeën
sodat ander die Christelike leer sien
en nie dit kwaadpraat nie, maar seën. (I Tim 6:1-2)

Iemand wat ‘n ander leer verkondig
en wat met twisvrae en stryery sondig,
is met sieklike beheptheid van die waarheid beroof,
van die gesonde leer om God in alles te loof. (I Tim 6:3-5)

Vir hulle het godsdiens geraak
iets om uit geld te maak.
Tevrede met wat jy het, is die kuns,
want dan is godsdiens ‘n groot wins. (I Tim 6:5-6)

Met niks het ons in die wêreld ingekom,
niks vat ons saam as ons weer omkom.
Kos en klere is heeltemal genoeg,
want kyk wat veroorsaak die geswoeg: (I Tim 6:7-8)
Die wat ryk wil word val weer en weer
in die strik van die sinlose gebegeer.
Party het geld nagejaag en van die geloof afgedwaal
en so hulleself baie ellende op die hals gehaal.
Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad:
Dis ‘n pad wat jou in die verderf gaan laat. (1 Tim 6:9-10)

Maar jy, man van God, moet hiervan wegvlug.
Keer met opregtheid na toewyding aan God terug.
Geloof en liefde sonder verwyt,
ook volharding en minsaamheid. (I Tim 6:11)

Om nie die in die wedloop van die geloof te faal:
Span jou in om die ewige lewe as prys te behaal.
Daartoe het God jou geroep en gesê:
Jy moet die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. (I Tim 6:12)

Voor God, wat aan alle dinge lewe gee,
en voor Jesus Christus deel ek jou mee:
Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit
tot die wederkoms soos deur God besluit.
Dit sál op die bestemde tyd gebeur,
want kyk net wie is hierdie Heer: (I Tim 6:13-15)

God is die goeie en enigste een wat regeer,
die Koning van konings en van heersers die Heer.
Hy alleen besit onsterflikheid.
Hy woon in lig van ontoeganklikheid.
Geen mens het Hom gesien of besef sy krag.
Aan Hom kom toe eer en ewige mag! (1 Tim 1:15-16)

Waarsku die in hierdie wêreldryk,
om nie in hooghartigheid te pryk
en nie hulle hoop te plaas op wat rykdom bied,
maar op God wat alles ryklik gee wat ons geniet. (1 Tim 16-17)

Spoor hulle aan om ryk te wees in goeie daad
dat ander in hul vrygewigheid sal baat.
So vergader hulle ‘n toekoms skat
wat hulle na die ware lewe toe vat. (I Tim 6:17-19)

Bewaar die Woord aan jou toevertrou:
Van sinlose praatjies moet jy jou weerhou.
Moenie die dwaalleer se “kennis” lees.
Die genade van God sal by julle wees! (I Tim 6:20-21)

Geld en gee

Geldgierigheid is die wortel van kwaad
Die najaag van geld is ‘n ellendige daad. (I Tim 6:10)
Tevredenheid is ‘n lewenskuns:
Dan word godsdiens die wins! (I Tim 6:6)

As jy vrygewig uitdeel en gee,
bring dit skatte in die hemel mee.
Wees ryk in goeie dade en gee vry:
Dis ‘n belegging om die lewe te kry. (I Tim 6:18,19)

Titus oorsig: Die Evangelie en sy gevolg.

Jy moet God se genade besing:
Dít is wat die verlossing bring. (Titus 2:11)
Ja, onthou selfs in jou pyn:
God het in liefde vir mense verskyn. (Titus 3:4)

Ons het nie iets vir die vryspraak gedoen.
Nee, op grond van Sý ontferming is ons versoen. (Titus 3:5a)
Hy het Homself vir ons as offer gegee
en dit bring die sonde vergifnis mee. (Titus 2:14).

Deur die Heilige Gees gewas en weer gebore,
het ons nou ‘n nuwe lewe en is nie verlore! (Titus 3:5b)
Ja, die Heilige Gees staan ons by
om die ewige lewe te verkry. (Titus 3:6,7)

Dié Woord het aan alle mense verskyn
en jou daardeur met God versoen.
Dit bring jou dade so in lyn (Titus 2:11)
dat jy ywerig goeie dade wil doen. (Titus 2:14).

Maar vir die ongelowiges is niks rein.
Hulle gewete is besoedel en vol pyn.
Hulle gee voor dat hulle God ken,
maar jy kan dit nie in hulle werk herken. (Titus 1:15,16).

Onderwerp jou aan die owerheid se gesag (Titus 3:1)
(al laat hulle jou in ons land jou soms lag…)
Moenie bly rusie soek en kwaad praat,
doen eerder ‘n bedagsame daad. (Titus 3:2).

Jy moet hierdie dinge met nadruk getuig
en jou voor die betroubare Woord neerbuig.
Ja, dit is wat ek vir die gelowiges wens:
Dat hulle werk goed en nuttige is vir die mens. (Titus 3:7).

Die Woord (II Timoteus oorsig)

Die evangelie van onverganklike lewe is waar:
Dié genade is nou aan ons geopenbaar. (II Tim 1:10)
Volg in geloof en liefde die Woord wat jy lees.
Bewaar dit deur die inwoning van die Gees ( II Tim 1:13-14).

Bly by wat jy geleer en wat jy vas glo –
dít is wat jou lei tot verlossing van bo. (II Tim 3:14,15)

Die hele Skrif is deur God geïnspireer
om in die waarheid te onderrig en leer,
dwaling te bestry en verkeerdhede uit te roei
en so in ‘n regte lewenswyse te groei,
sodat die man wat in diens van God staan,
toegerus is vir sy goeie werksloopbaan. (II Tim 3:16,17)

Verkondig die woord; moenie ophou daarmee
bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee. (II Tim 4:2)

Die goeie wedloop het verstryk:
Ek het die wenstreep bereik.
Ek het gelowig end-uit gestry.
Nou wag die oorwinnaarskroon vir my:

Die lewe by God is my prys.
Ja, die regverdige Regter en Heer,
kom werklik eendag weer
en kom haal ook jou na Sy huis! (II Tim 4:7-8).

Blaas die vuur aan (II Tim 1)

Van Paulus, ‘n apostel,
gestuur deur God se wil:
Die lewe in Christus Jesus,
is wat die inhoud van my boodskap is. (II Tim 1:1)

Aan Timoteus, my geliefde kind,
mag jy in hierdie boodskap vind:
Genade, barmhartigheid en vrede
van God die Vader en Jesus, die rede. (II Tim 1:1)

Ek dank God en bly Hom loof
as ek dink aan jou opregte geloof,
wat jy by jou ma en ouma kon leer, (II Tim 1:3-5)
al het jou Griekse pa hom nie bekeer… (Hand 16:1-3)

Ek onthou die afskeid trane met heimwee:
Onthou ons het jou die hande opgelê
en so het God het jou ‘n genadegawe gegee.
Daarom wil ek dringend die volgende sê: (II Tim 1:4-6)

Die genadegawe se vuur moet in jou wees,
met krag, liefde en selfbeheersing deur die Gees,
Blaas aanhoudend hierdie vuur aan!
Jy moet weer die genadegawe verstaan: ( II Tim 1:6-7)

Moenie dat skaamte jou laat sondig
om nie die Here se boodskap te verkondig.
Skaam jou ook nie vir my
wat vir die evangelie in die tronk moet ly,
maar dra jou deel van die ontbering
vir die evangelie se lering. (II Tim 1:8)

Jy kan dit doen met die krag wat God gee.
Vat Sy Woorde en blaas die vlam daarmee! (II Tim 1:8)

Hy het ons geroep en gered
sodat ons toegewydheid het.
Nie op grond van ons dade,
maar op sy besluit uit genade!
Hy het dit van ewigheid af bedenk
en in Christus Jesus aan ons geskenk. (II Tim 1:9)

Hierdie genade is aan ons geopenbaar
Deur die koms van ons Middelaar:
Hy het die mag van die dood gebreek
Nou kan ons die onverganklike lewe preek! (II Tim 1:10-11)

So in lyding vir Hom bly ek getrou,
want ek wéét op wie Ek vertrou:
Hy is magtig om dit wat Hy aan my toevertrou
tot Hy weer kom, in stand te hou! (II Tim 1:12)

Al het jy nie die voorbeeld van jou pa,
Volg dan mý voorbeeld na
in wat gesonde woordverkondiging is,
met geloof en liefde in Christus Jesus. (II Tim 1:13)

So, jy moet die genadegawe onthou,
dis goed en aan jou toevertrou.
Bewaar dit deur die Heilige Gees
dat ‘n brandende vuur kan bly wees. (II Tim 1:14)

Die fondamente (II Tim 2)

Wees sterk deur Jesus se genade.
Wat jy my hoor getuig het oor ons Heer,
moet jy aan betroubare manne leer.
Dra jou deel in ontberings se kwade,
soos ‘n goeie aktiewe soldaat,
wat Christus Jesus tevrede laat. (II Tim 2:1-3)

‘n Atleet kan net in die prys deel,
as hy deelneem volgens die reël.
Die boer, wie se hande deur harde werk gebrei,
behoort eerste ‘n deel van die oes te kry. (II Tim 2:4-6)

Dink na en mediteer oor wat hier staan
die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.
Om aan dié opdragte vas te hou,
moet jy die fondamente onthou: (II Tim 2:7)

Fondament 1:
In jou vrees vir dood moet jy verstaan:
Jesus Christus het uit die dood opgestaan.
Hy is ‘n nakomeling van Dawid,
die Messias wat op die troon sit. (II Tim 2:8, Luk 1:31-33)

Fondament 2
Al is ek in boeie gebind,
kan die wêreld nie vind,
‘n manier om die Woord te bind.
Selfs gevangenis word God’s kind! (II Tim 2:9, Fil 1:12-14)

Fondament 3:
Ek verdra al hierdie vervolging en swaar
om aan God se uitverkorenes (Ef 1:4) te verklaar:
Hulle moet hulle in die verlossing in Christus Jesus verbly
Om so die ewige heerlikheid te kan verkry. (II Tim 2:10)

Fondament 4:
As ons saam met Hom die graf in begewe,
sal ons ook saam met Hom lewe!
As ons volhard in die geloof in ons Heer,
sal ons saam met Hom regeer!
En is ons ontrou?
Hy is getrou!
Jy kan op Hom vertrou
en aan sy Woord vashou! (II Tim 2:11-13)

Voor ek die laaste fondament gee,
wil ek jou eers hierdie opdrag gee:

Hou aan die gelowiges die dinge herinner,
jy moet die gestry oor woorde verhinder.
Jy moet jou tot beskikking van God stel
om die Woord van waarheid suiwer te vertel.
Jy moet de onheilige en sinlose praatjies vermy:
Dit sal soos kanker in jou gemeente versprei… (II Tim 2:14-18)

Voor jy oor al die dinge moedeloos raak,
hou vas aan die laaste fondament vir jou taak:

Fondament 5:
God het die hegte fondament gelê
met gegraveerde woorde wat sê:
Die Here ken die wat aan Hom behoort
Glo jy Sy Woord?
Bely jy dit as feit?
Breek dan weg van ongeregtigheid!

Ek het jou hierdie fondament gewys,
bou dan nou daarop My huis:

Een: Jesus Christus, Dawid se Seun,
heers oor die hele wêreld heen.
Twee: Predikers mag gebonde wees,
God se Woord sal nooit gebonde wees!
Drie: Mense is gekies deur God ons Heer,
jy is die instrument om hul te bring na Sy eer.
Vier: Jy kan altyd op God vertrou,
want Hy bly altyd getrou.
Vyf: Dat God weet jy is syne is ‘n feit –
breek dan weg van ongeregtigheid!

Die bose en die kwaad – het jy raad? (II Tim 3)

Die bose se tyd
Dit moet jy weet: in die laaste dae
bring die bose swaarkry en plae (II Tim 3:1)
Hierdie laaste dae het begin
met Jesus se koms die wêreld in. (Joh 2:18, Heb 1:2, I Pet 1:20)
Aan die einde van die laaste dae kom Hy weer
tot dan toe word die kwaad net meer en meer. (Mat 24)

Die graad van die kwaad
“Swaar” is amper nog te lig vertaal (II Tim 3:1)
“Baie gevaarlik” die woord in ‘n ander verhaal. (Mat 8:28)
Gelowiges sal nie net lelike goed sien,
maar fisies ervaar wat hulle nie verdien…

Die inhoud van die kwaad:
Die mense sal:

  1. Selfsugtig wees,
    “Alles vir my”, is hoe dié reël lees
  2. Geldgierig
    “My doelwitte op geld gerig”
  3. Grootpraterig
    “Kyk net wat het ék alweer verrig!”
  4. Verwaand
    “Kyk na die gespuis vanaand…”
  5. Beledigend teenoor hulle medemense
    “My eie eer is my hart se wense.”
  6. Hulle rebelleer na paaie van duister,
    “Na my ouers gaan ek nie luister!”
  7. Die “reg om te ontvang” se stank
    in plaas van “uit God se hand” se dank.
  8. Ongodsdienstig en onheilig ook op die lys,
    want daar is geen optrede wat na Jesus wys
  9. Harteloos
    vir alles broos.
  10. “Vergewe”, sal die spreekwoord heet,
    “maar verseker sal ek nie vergeet!”
  11. In alles wat hulle praat,
    hoor mens net die kwaad.
  12. Hulle hou hulle aan niks gebonde
    “Niks wat ék begeer is sonde”
  13. Wreed,
    die rede vir leed.
  14. Geen liefde vir die goeie:
    Klip harte in yster boeie…
  15. “Ek sal jou moet verraai,
    as dit dinge na my guns gaan swaai…”
  16. In roekeloosheid voort donder
    dat die wêreld hul bewonder.
  17. Hooghartig vir hulself afgesonder
    in plaas van om ander te bewonder.
  18. Eerder liefde vir genot
    as liefde vir God!
  19. Met godsdiens se skyn eie voordeel probeer wen,
    maar die krag van godsdiens sal hulle nie ken. (II Tim 3:2-5)

Die subtiele impak van die bose
Julle moet van sulke mense wegbly,
want anders gaan julle hulle denke in julle huise kry
As jy nie pasop nie, word jou vrou geleer
om allerlei sinlike dinge te begeer. (II Tim 3:5-7)

Die grense van kwaad
Moses se plae het gewys dat Hy God aan sy kant het,
maar Jannes en Jambres kon dieselfde plae gedoen het.
Maar vanaf die vierde plaag,
kon hulle nie meer daarin slaag…. (II Tim 3:8)

Netso is die mense wat die verstandelike verwardheid het
en hulle teen die waarheid van God verset.
Hulle dwaasheid is duidelik vir die gelowige mens.
Die bose kom nie ver, want God het sy mag begrens. (II Tim 3:8-9)

Die raad teen die kwaad
Maar jy het my nagevolg in leer,
in lewenswandel jou bekeer
In lewensdoel, liefde, geduld en geloof
wat volhardend vashou in wat God beloof. (II Tim 3:10)

Watter vervolging het ek nie verduur!
Tog was jy saam met my in daardie uur.
In al die ontbering wat my te beurt geval het:
Die Here het my uit almal gered! (II Tim 3:11)

Almal wat in Christus toegewy lewe,
sal onder sulke vervolging bewe.
Maar jy, bly by wat jy van kleins geleer het:
Die boodskap van die Heilige Skrif en wet. (II Tim 3:12-14)

Dis waar jy al die kennis sal kry
wat tot die verlossing van die bose lei.
As jy in Christus Jesus glo
kry jy die beloftes van Bo! (II Tim 3:15)

Die hele Skrif is deur God geïnspireer:
Dit het groot waarde om te onderrig en leer,
om die bose se dwaling te bestry,
om al die verkeerdhede te vermy,
om ‘n regte lewenswyse te verstaan,
waarin die man in God se diens moet staan,
volkome toegerus en voorberei,
om in goeie werke staande te bly. (II Tim 3:16-17)

Samevatting
So, ons leef in die bose se tyd
en hoe later, hoe feller die stryd.
Verskriklike sleg,
die algemene weg.
Liefde vir genot,
eerder as vir God
Dit kom ook subtiel
aanspraak maak op jou siel…

Maar God het dit begrens
en het vir jou hierdie wens:
Vir jou behoud het ek die Skrif geïnspireer,
glo die vreugde boodskap wat jy daarin leer.
So sal jy kan staande bly
tot Ek weer kom om jou te kry.

Die oorwinnaarskroon (II Tim 4)

Voor God en Christus Jesus wil ek jou beveel,
want Hy is die een wat kom om te kom oordeel: (II Tim 4:1)

Verkondig die Woord!
Gaan daarmee voort
tydig
en ontydig. (II Tim 4:2)

Weerlê, bestraf en bemoedig
met geduldige onderrig,
want ‘n tyd kom weldra
dat mense die gesonde leer nie gaan verdra… (II Tim 4:2)

Hulle volg net wat hulle self begeer
en kry leerders wat preek wat hul wil hoor.
Die waarheid sal julle verloor:
Hulle eie verdigsels is hul leer. (II Tim 4:3)

Maar jy moet nugter bly,
verdra dit as jy ly.
Versprei die evangelie wyd:
Voer die pligte van jou bediening uit. (II Tim 4:5)

Ek word as drankoffer meegesleur,
die tyd van my dood is voor die deur.
Deur die wenstreep is ek nou:
Ek het gelowig end-uit volgehou! (II Tim 4:6-7)

Vir my wag daar ‘n oorwinnaarskroon:
Om vir ewig by God te kan woon!
Hy sal dit vir my gee as Hy weer kom,
maar ook vir almal wat glo in Hom! (II Tim 4:8)

Voorheen het ek gesê jy moet in Efese bly, (I Tim 1:3)
maar kom nou dringend na my.
Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry –
net Lukas is by my.
Kressens is na Galasië
en Titus na Dalmasië. (II Tim 4:8-11)

Vir die evangelie moet jy jou nie skaam: (II Tim 1:8)
Bring die reismantel saam:
Elia het sy mantel aan Elisa gegee, ( I Kon 19:19)
ek wil jou uitstuur daarmee. (II Tim 4:13)

Bring Markus saam met jou,
hy is in die diens getrou.
Sit veral die perkamente in jou sak
en die boeke moet jy ook inpak. (II Tim 4:11-13)

Aleksander se dade aan my was vol kwaad.
In die hof het almal my in die steek gelaat,
maar die Here se krag het my laat bly staan
en die heidene daar kon ook Sy Woord verstaan! (II Tim 4:14-17)

In die leeu se bek sal ek Sy redding besing,
want Hy sal my behoue in Sy koninkryk bring.
Hy is tot in alle ewigheid die Heer:
Aan Hom kom toe alle eer! (II Tim 4:17-18)

Jy moet vir almal groete stuur.
Kom nog voor die winter hier.
Die Here is by jou gees, (1953)
Sy genade sal ook by jou wees. (II Tim 4:19-22)

PDF DIGBUDEL: TIMOTEUS EN TITUS

Jy kan hierdie gedigte in PDF aflaai.

Exit mobile version