Alzheimers
Waar bly julle nou weer?
Dié vragie maak nie seer,
want sy onthou nie altyd meer.
Tannie het die kinders opgepas:
Liefde, kos en doeke nooit ‘n las.
Tye wat ons goed onthou
van hierdie besondere vrou.
Waar bly julle nou weer?
Sy kan die vragie nie keer,
want sy onthou nie altyd meer.
Tannie se tuin lyk so mooi:
Malvas in al die kleure getooi.
Ja, Malva is my tweede naam
wat stigges aan die groei laat gaan.
Maar waar bly julle nou weer?
En graag vertel ons nog ‘n keer,
want sy onthou nie altyd meer.
Drink gerus nog ‘n koppie tee
en sny ‘n lekker stuk koek daarmee.
En so kan ons weer onthou
hoe gasvry is hierdie vrou.
Maar waar bly julle nou weer?
En ons sukkel om ons trane te keer,
want sy onthou nie altyd meer.
Weet julle met my gaan dit net goed:
Gesondheid, verstand en lewensmoed
Dis ‘n seëning van Bo
van Hom in wie ek glo.
Waar bly julle nou weer?
Sy onthou nie altyd meer,
maar laat sy U nooit vergeet, o Heer.
‘n Dag of wat later
bly my oë nog water,
want deur die tannie vra die Heer:
My seun, waar bly jy nou weer?
Het jy onlangs iemand van My geleer?
Lyk my jy onthou nie meer
van my kruis se seer?
Sý is die een wat my eer,
as jy my maar so wou begeer!
Vergewe my Alzheimers Heer…

Wees dankbaar
God het my van sonde bevry,
daarom vul dankbaarheid my.
Die Heilige Gees het my hart verlig –
die wet is nou nie meer ‘n plig.
Ek wil net één God dien,
afgode wil ek glad nie sien.
Geheilig is sy grote Naam
want Hy vat al my blaam!
Sonder die rus op dag sewe,
kom ek nie meer deur die lewe.
Dis maklik om my ouers te eer.
My vrou is die een wat ek begeer.
Ek kan nie meer my vyande haat
en ander se goed kan my nie baat.
Ek wil nou ander met my woorde eer
en alles binne my wil net God begeer.
Hierdie woorde kom oor my mond,
want Hy maak my deel van sy verbond.

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
(Fil 4:4-7, 1983)

Vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4).
Wees altyd bly,
ja, bly in die Heer.
Die Here is naby.
Bid wat jy begeer.
Wees nie besorg,
smeek by jou Borg. (Fil 4:4-6)
Die vrede van God wat verstand te bowe gaan,
sal oor jou hart en gedagtes wag bly staan. (Fil 4:7)
Alles wat waar is,
alles wat edel is,
alles wat mooi is,
alles wat prysbaar is,
dit is wat in jou gedagtes moet wees.
God is by jou met sy Vredesgees. (Fil 4:8).
