Die Amerikaanse verkiesing het almal op hol.
Uitsprake in ons eie land laat bloed in jou are stol.
Korrupsie in die regering in aan die orde van die dag.
Vir die gewone burger lyk dinge donker soos die nag…
Moet jou nie oor skelms en skurke bekommer,
soos gras en groenigheid verdwyn hul sommer.
Vertrou op die Heer se beloftes in Sy Woord!
Doen goed, woon en werk rustig voort.
Vind jou vreugde in jou Heer –
Hy sal jou gee wat jy begeer. (Ps 37:1-4).
Mens lees op Facebook hoe mense vertel
hoe die voorspoed van die skelms hul ontstel…
Party soek paniekbevange raad,
ander word weer net kwaad…
Maar die psalm wil jou laat onthou:
Jy moet in stilte op die Heer vertrou.
Laat staan die woede, moet jou nie ontstel,
dit bring net ellende as jy jou so kwel.
Eendag is al die skelms van kant,
maar jy deel in die beloofde land… (Ps 37:7-11)
Ekstremes dreig om jou dood te maak
Plaasmoorde laat boere beangs waak…
Nog ‘n mislukte oes verdroog,
maar goddeloses lewe hoog!
Die goddelose soek die regverdige se lewe
Die Here lag, want Hy weet eendag sal hul bewe…
Dis beter, al het die regverdige min,
as die rykdom wat goddelose in.
Die vyand van die Here sal tot niet gaan,
maar jy sal in nood nie verleë staan. (Ps 37: 12-20)
Staatsgeld vir eie gewin.
Tenders hul kinders sin.
Leen, maar nooit betaal.
Gierigheid op ‘n ander skaal!
Die goddelose leen en betaal nie terug,
die regverdige kry jammer en help die wat sug.
Die Here roei hulle uit wat Hom vervloek,
maar Hy seën die wat na Hom soek.
Die goeie leen uit, maar wil nie rente hê,
as hy val, sal God nie dat hy bly lê! (Ps 37:21-26)
Geweldadiges soek om dood te maak.
Ander vat jou hof toe oor hul saak.
Oor elke negatiewe nuus berig,
hang moedeloosheid in die lug.
Die goddelose lê die regverdige voor,
want hy wil hulle vermoor…
Maar God laat hom nie begaan,
selfs as hy in die regbank moet staan.
Die regverdige kan met wysheid praat,
want God se Woord bepaal sy daad. (Ps 37:27-33).
Die wettelose mense bly so vervuil
dat mens skoon in jou hande wil huil.
Gewone mense laat die reëls ook nou staan
want dis om te oorleef – kan jy nie verstaan?
Die Here sal jou weer laat opstaan in die land,
al skiet roekloses op soos ‘n plant.
Vir die opregte is daar ‘n ewige weg,
die toekoms vir die goddeloses is sleg…
Skuil by Hom wat help en bevry,
want jy sal die ewige lewe kry! (Ps 37:34-40).
So jy wat so graag op Facebook blaai
en met al die “likes” paniek verder saai.
Miskien moet jy eerder gaan soek
vir jou hulp in God se Boek:
Moet jou nie oor skelms en skurke bekommer,
soos gras en groenigheid verdwyn hul sommer.
Vertrou op die Heer se beloftes in Sy Woord!
Doen goed, woon en werk rustig voort.
Vind jou vreugde in jou Heer –
Hy sal jou gee wat jy begeer. (Ps 37:1-4).