Woord gebed: Ef 6:10-20

Here, ek bid vir U werkers se toerusting
en vir U krag en groot mag van U wapenrusting,
want die aanslae van die duiwel kom aan.
Here help hulle om daarteen te bly staan. (Ef 6:11)

Ons stryd is nie teen die vlees en bloed in ons sig,
maar teen elke mag en gesag, bose geeste in die lug.
Beklee ons met die wapenrusting wat U gee,
sodat ons weerstand kan bied daarmee. (Ef 6:12-13)

Laat ons nie die gordel van die waarheid los,
nee, hou ons staande, op ons pos.
As die vyand se pyle ons hart wil deurbreek,
laat die borsharnas ons herinner: Vrygespreek! (Ef 6:14)

Here U het ons skoene gegee vir ‘n rede:
Die verkondiging van die Evangelie van vrede. (Ef 6:15)

Here, soms lyk die aanvallers teen ons wild,
laat ons in geloof skuil agter U, ons Skild,
want so het U ons geleer
om die brandpyle van die Bose af te weer. (Ef 6:16)

Soms kom die pyle van bo, so skelm,
maar ons verlossing is ons helm! (Ef 6:17)

Laat ons enigste wapen wees,
die swaard van die Gees.
Ja, O God, dit is U Woord
en daarmee beveg ons moord. (Ef 6:17)

Ons wil by elke geleentheid biddend wees
en smeek by U, deur U Gees. (Ef 6:18)

Ek bid so vir al U werkers hierdie week,
dat U vir hulle woorde sal gee om te preek.
Here, hulle wat ter wille van die Evangelie swaar moet hê,
laat hulle vrymoedig verkondig, dit wat U aan hulle oplê (Ef 6:19-20)

Leave a Reply

Discover more from Tot U eer

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading