Wil jy ‘n saak teen die almagtige maak?

‘n Storm het losgebreek
en God het daaruit gespreek (Job 38:1)
Wie is dat wat my raadsbesluit
sonder enige kennis probeer stuit? (Job 38:2, 1953)
Maak jou reg om te stry:
Ek sal vra, antwoord jy My. (Job 38:3)

Ek het die aarde se fondament gelê
Waar was jy toe? Kan jy sê?
Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit?
Dié oggend was daar ‘n gejubel van hemeling
en selfs die sterre het saamgesing (Job 38:4-7)

Wie het die see opgedam en afgesluit
toe dit uit die moederskoot uit begin spuit? (Job 38:8, 1953)
Wie kan die môre beveel om te kom?
Weet jy waar die daeraad vandaan kom? (Job 38:12)
Was jy al by die uitborrelende bron van die see
en rondgestap op die bodem van die diepsee? (Job 38:16, 1953)

Is die poorte van die dood
al vir jou ontbloot? (Job 38:17, 1953)
Kan jy die groot wye wêreld meet?
Praat as jy iets daarvan weet.
Kan jy die pad na lig se woonplek kry?
Weet jy waar die donkerte bly? (Job 38:18-19)

Weet jy waar word sneeu en hael gestoor –
wapentuig waarmee ek oorloë laat verloor?
Weet jy waar die lig begin,
of oor die oorsprong van wind besin? (Job 38:22-24)
Wie het vir die stortvloed ‘n kanaal?
En ‘n pad vir die onweerstraal? (Job 38:25, 1953)

Wie kan dit laat reën in die woestyn
om woestheid versadigend te laat verdwyn? (Job 38:25-26,1953)
Het die reën ‘n vader?
Kan jy doudruppels laat vergader? (Job 38:28)
Kan jy die geboorte van ys verklaar?
En die ys van die hemel – wie kan dit baar? (Job 38:29,1953)

Kan jy die Sewester vasmaak?
Of die band van die Orion losmaak?
Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom,
kan jy die Beer met sy kleintjies laat uitkom?
Weet jy hoe die hemelliggame werk?
Kan jy hulle invloed op die aarde afmerk? (Job 38:31-33)

Kan jou stem roep: Kom reën hier!
Of die weerligstrale uitstuur?
Wie laat die Ibis waarsku teen die vloed?
Wie laat die haan die nuwe dag begroet?
Wie het die kennis om die wolke te beheer
en hierdie kruike van die hemel om te keer? (Job 38:34-37)

Met die leeu in sy skuilplek gereed,
kan jy vir hom prooi vang om te eet? (Job 39:1-2)
Wie gee die nodige kos vir die kraai
as sy kleintjies hulle oop bekkies na God toe draai?
Staan jy en kyk waar die wildsbokke kleintjies kry?
Tel jy die draagtyd en geboortepyne, so gou verby? (Job 39:1-7)

Wie maak die wildedonkie vry?
Ek gee hom oop veld om in te bly
Hy bekommer hom nie oor die stad
en hoef nie te luister na ‘n drywerslat.
Hy deurkruis die berge om in te wei
en snuffel tot hy groen grassies kry. (Job 39:8-11)

Sal die buffel vir jou wil werk,
hom oornag by jou krip laat inperk?
Kan jy met hom ploegvore skeur,
met sy krag in jou lande voortbeur?
Sal hy jou kan help met die oes van jou graan,
totdat alles op jou dorsvloer staan? (Job 39:12-15)

Al kan die volstruis haar groot vlerke klap,
kan sy nie vlieg nie, en moet sy stap…
Sy broei haar eiers uit op die sand,
sy het min wysheid en en verstand.
Sy behandel haar kuikens hard en sleg,
maar tog hardloop sy perd en ruiter weg… (Job 39:16-21)

Gee jy vir die perd sy krag?
Gee jy vir hom sy maanhaar prag?
Hy kap die grond met sy pote en trippel rond,
opgewonde en oorgehaal kap-kap hy die grond.
In die oorlog is bangwees vir hom vergete,
hy reageer op die offisier se krygskrete. (Job 39:22-28)

Is dit deur jou insig dat ‘n valk vlieg,
dat sy vlerke na die suide toe swieg?
Bepaal jy waar die aasvoël sy nes bou
Uit die hoogte sien hy sy kos gou:
Tussen die karkasse is hy tuis,
sy kuikens eet bloederige vleis. (Job 39:29-33)

Antwoord My as jy ‘n saak
teen die Almagtige wil maak!
Ek is nie opgewasse teen U Woord,
hoe sal ek U kan antwoord?
Ek het gepraat, maar kon ‘n antwoord nie kry
ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly. (Job 39:34-38)