In vandag se gejaagde lewe,
wil my moed my amper begewe:
Almal jaag net na groter wins.
Koud en hard is nie meer ‘n kuns.
Aandele, bonusse en ‘n groter pakket –
Net beskore vir die wat reeds baie het…
Meer met minder, groter effektiwiteit
met afleggings ‘n groot waarskynlikheid
Die maalkolk suig ons na binne –
Hoe bly ons by ons sinne?
Net soos Spreuke se besige mier,
so hardloop ons deesdae hier:
holderste bolder, ja, winter-bang
vir die werkgewer-koue wat wil vang! (Spr 6:5-11)
As mens die werk van God aanskou
dan begin die ding homself ontvou.
Die hemel getuig van Sy grote mag,
dag en nag praat net van Sy krag. (Ps 19:1-7)
Volmaak is die Here se boek,
selfs soeter as ‘n heuningkoek!
Met die kompas van die Woord,
soek ek na “werk” se ware noord: (Ps 19:8-12)
Reeds in die paradys uit God se mond:
“Vermeerder, bewoon en werk die grond” (Gen 1:28)
Wie sal die opdrag na die val vergeet:
“Net deur harde werk sal jy kan eet” (Gen 3:19)
Waar is dan “werk” se kruks?
Prediker: “Alles kom tot niks?”
Nee, ek is seker daar is meer
om uit God se Woord te leer… (Pred 1:14)
Die woorde van die wet is sterk:
“Ses dae moet jy arbei en werk,
maar die sewende is vir jou rus”
Trooswoorde wat ons te maklik mis? (Ex 20:9)
Vergeefs werk die wat bou
as hulle nie op God vertrou! (Ps 127:1-2)
Doen alles net tot God se eer,
dan sal kommer jou nie verteer. (I Kor 10:31)
Die dood se angel is oorwin,
nou maak werk-vrae baie sin:
moenie laat jou moed jou begewe,
want daar kom ‘n ewige lewe! (I Kor 15:53-58)
Omdat ons nou in Jesus Christus glo,
verander die ou sondige lewe so:
maak julle gees en gedagte nuut –
werk en gee vir die arme verniet! (Ef 4:20-28. II Tes 3:6-13)
So, in vandag se gejaagde lewe –
rus goed op dag nommer sewe.
Werk dan voluit tot God se eer,
en hou moed – Hy kom weer!