Vyf van sewe: Sewe bakke vol toorn (Op 16)

‘n Harde stem roep toe luid:
Gaan gooi sewe toornbakke uit!

Die eerste engel het sy bak op die land uitgegooi.
Kwaadaardige en pynlike swere, glad nie mooi,
het uitgekom op hulle met die merk van die dier. (Op 16:2)

Die tweede engel het sy bak in die see uitgegooi.
Dit het bloed geword, soos die dood, dik en rooi,
en alles wat in die see lewe, het doodgegaan. (Op 16:3)

Na die derde engel ook sy bak van toorn gooi
was riviere en die waterbronne ook bloedrooi. (Op 16:4)

Toe sê die engel wat oor die water toesig hou:
“U is regverdig, U wat is en wat was,
U, die Heilige, hierdie oordeel is gepas:
Hulle het die bloed van die gelowiges vergiet,
so hulle drink hierdie bloed glad nie verniet!
Ja, Here God, Almagtige, u oordele is reg en U is getrou.” (Op 16:5-7)

Die vierde engel se bak se inhoud het op die son geland.
en so die vermoë verleen om die mense met vuur te brand.
Hulle is gebrand met die son se krag
en het God se naam gelaster oor sy mag.
Hulle het hulle nie bekeer
en God nie geëer… (Op 16:8-9)

Die vyfde engel het toe sy bak gegooi op die dier se troon
en daar het duisternis gekom oor die koninkryk waar hul woon.
Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn
en het die God van die hemel gelaster met venyn.
Hulle het hulle nie bekeer
tot God, die enigste Heer. (Op 16:10-11)

Die sesde engele se bak is gegooi op die Eufraat,
om die konings van die ooste droogvoets deur te laat.
Die draak, dier en vals profeet maak konings bymekaar
vir die laaste oorlog word hul by Armageddon vergaar. (Op 16:12-16)

Die sewende engel het toe sy bak in die lug versprei.
Van die troon in die tempel af is uitgeroep: “Dit is verby!”
Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom.
Die aardbewing was so groot almal was verstom.

Die groot stad Babilon het in drie dele geskeur.
Eilande het verdwyn, en berge was daar nie meer.
Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar,
val op mense, maar hulle bly God steeds by laster daar…

En jý, liewe leser wat die bakke van toorn rondom jou sien:
Hoe lank gaan jy God laster oor straf wat jy verdien?
Wanneer gaan jy jou bekeer
en die Almagtige begin eer?