Vir jou seer

U het hom vir haar gegee:
‘n Volbloed man van die see.
Saam kon hulle duik
in die natuur se buik.
Sorgeloos kon hulle leef
met arendsvlerke sweef.

Soos die boek Job leer
het Satan hier ook probeer:
Drie grafte in die verhaal
en self ook in die hospitaal…

Here, wees U die anker in haar nood,
tel U haar sagkens in U skoot.
Laat sy U liefde daar weer onthou
as U arendsvlerke die wonde omvou.

Ag Here, buite beeldskoon mooi
maar binne is die wonde rooi.
Laat sy my buite rekening laat
as U deur my met haar praat:

O dogter van die natuur
Ek is by jou in hierde uur.
In jou stappie in die aand se wind
sal jy My sien en vrede vind.
Ek wil dat jy in My Woord sal lees
want daar ontdek jy weer My Gees:

Al het jy so baie dinge verloor,
het jy die beter en blywende Een oor.
Al is jy deur die Satan verkul,
doen volhardend net My wil.
Behou jou vertroue en geloof
dan ontvang jy wat Ek beloof. (Heb 10:34-36).

Staan volhardend stewig:
My woorde bly vir ewig (Jes 40:6-8).
As jy wysheid kort vir dit,
moet jy dit van My af bid.
As jy nie twyfel daarmee,
sal Ek dit vir jou gee (Jak 1:5-8, Mat 7:7-8).

Glo in My, glo dat Ek kan bevry –
so kan jy in swaakry vrede kry. (Joh 14:1,27)
Jy is vrygespreek deur die geloof
daarom kan jy vasstaan in wat Ek beloof.
Jy verdien dit nie met dade,
maar het vrye toegang uit genade. (Rom 5:1-3).

As jy só op My vertrou
sal jy vrede kry in jou rou.
As jy biddend na My vra
sal Ek jou op arendsvlerke dra.
As jy verlangend oor die see uitstaar
weet Ek is in daardie oomblik ook daar!