Een: Die draak wat die kind wil verslind (Op 12:1-6)
Toe het daar ‘n groot teken in die hemel verskyn:
‘n Vrou was met die son as kleed gehul.
Twaalf sterre het haar kroon gevul.
Sy was swanger en het geskree van geboorte pyn. (Op 12:1-2)
Daar het ook ‘n ander teken in die hemel sigbaar geraak:
Sewe koppe en tien horings, ja ‘n ‘n vuurrooi draak!
Sy koppe was met sewe heerserskrone getooi.
Sy stert het ‘n derde van die sterre op die aarde gegooi. (Op 12:3)
Die draak was gereed om te verslind,
as sy geboorte gee aan hierdie kind. (Op 12:4)
Die seun was bestem om nasies te regeer,
na sy geboorte is hy weggeruk na God, die Heer.
Die vrou het na die woestyn toe gevlug,
haar plek is daar deur God ingerig. (Op 12:5-6)
Twee: Migael se oorlog teen die draak (Op 12:7-12)
Die Satan het die hemelse oorlog verloor:
In die hemel is daar van hom geen spoor.
Hy is op die aarde gegooi
en daar soek hy ‘n nuwe prooi…
Drie: Die draak agtervolg die vrou (Op 12:13-17)
Uit woede agtervolg die draak die vrou,
maar met twee arendsvlerke kon sy vlieg.
Water het hy agter haar aangespuug,
maar die aarde het die stroom ingesluk.
Die Satan was kwaad en bedruk
en vervolg toe die wat aan God vashou.
Vier: Die dier uit die see (Op 12:18-13:10)
Ek het ‘n dier uit die see sien kom:
Sy tien horings en sewe koppe verstom.
Hy het ‘n luiperd lyf en pote soos ‘n beer
en ‘n bek soos ‘n leeu wat verskeur. (Op 13:1-2)
Die draak het sy troon en mag
aan die dier gegee vir gesag.
Die mense het om hom vergader
en in gebed tot hom begin nader. (Op 13:2-4)
Hy is toegelaat om te laster teen die Naam van God
en oorlog te maak teen die wat glo in Sy gebod. (Op 13:5-7)
Hulle is gevang en met die swaard doodgemaak.
Dis hier wat volharding en geloof nodig raak! (Op 13:9-10)
Vyf: Die dier uit die aarde (Op 13:11-18)
‘n Ander dier met twee horings het uit die aarde gekom.
Hy oefen gesag uit van die eerste dier namens hom. (Op 13:11-12)
Hy het die mag om wondertekens te doen gekry
en daarmee die bewoners van die aarde mislei. (Op 13:13-14)
Hy verplig alle mense, klein of groot, arm of ryk
dat op hulle arm of kop ‘n merk moet pryk:
Daarsonder kan niemand meer winkel toe gaan!
Net wyses sal ses honderd ses en sestig verstaan… (Op 13:16-18)
Ses: Die vrou op die rug van die dier (Op 17:1-14)
Ek het ‘n vrou op die dier se rug sien sit.
Op sy sewe koppe, tien horings in gelid.
Haar klere was pers en helderrooi,
goue edelstene en pêrels, so mooi.
In haar hand ‘n goue beker vol losbandigheid.
Haar naam: Die moeder van sedeloosheid. (Op 17:1-5)
Die vrou was dronk van bloed wat sy suig
uit gelowiges wat vir Jesus getuig.
Ek kyk haar toe verwonderd aan,
die engel het my laat verstaan: (Op 17:6-7)
Die sewe koppe waaroor jy jou verstom,
is konings wat was en wat nog kom.
En die tien horings wat jy sien,
is ook konings wat die dier kom dien. (Op 17:8-12)
Hulle is net vir een rede hier:
Hulle gee hulle mag vir die dier
om teen die Lam oorlog te hou
en teen die uitverkorens, so getrou.
Omdat Hy dié Koning van konings is,
sal hy die oorwinning behaal – gewis!
Sewe: Die draak vir 1000 jaar gebind (Op 20:1-10)
Die draak is in onderaardse dieptes toegsluit.
Vir duisend jaar kon die Satan nie daar uit. (Op 20:1-3)
Die martelare, getrou aan die woord van hul Heer
het saam met Christus vir duisend jaar regeer. (Op 20:4)
Daarna verlei die Satan vir Gog en Magog
en bring hy hulle byeen vir nog een oorlog. (Op 20:7-8)
Hulle het die gelowiges in hul stad vasgekeer,
maar ‘n vuur uit die hemel is hulle verteer. (Op 20:9)
Die duiwel is gegooi in ‘n poel van vuur
saam met die vals profeet en aaklige dier.
Daar sal hulle gepynig word elke uur
en dit sal tot in ewigheid duur! (Op 20:10)