Vier uur op die eerste dag
kom die sms waarvoor ek wag,
ja, sluip Covid in soos ‘n dief:
Jy is positief…
Vier uur wasem teen die kar se ruit:
ongevalle te vol, ek kan eers in as iemand uit.
Ek kyk hoe die ligte van die ambulans
patroontjies op die lykwa dans…
Die intensief se vier uur koor
is nie bedoel vir enige gehoor.
‘n Geroggel en gehyg is die sang,
van almal wat na asem verlang.
Susters met donker vieruur oë,
met meer druk as hul vermoë.
Gordyne word haastig toegeruk
en pype in platval longe ingedruk.
Tuis en gesond, maar weke later
voel ek steeds vier uur trane water.
‘n Laken wat ‘n jongvrou liggaam toevou,
haar bleek slap hand bly ek onthou…
Vier uur sal nooit weer dieselfde wees,
van nou af is dit ‘n tyd van gebed
knielend hier langs my bed:
Vul my met die asem van U Gees!
Vir nog ‘n gedig oor Covid, lees ook: Sewe tot sewe