In ons verhouding is daar ‘n breuk,
maar die Here het deure oopgemaak
en deur ons versprei die reuk
van ware kennis wat harte raak. (II Kor 2:12-14)
Julle is Christus se brief,
deur ons geskryf, nie met ink,
maar met God se Gees.
Nie op klip, maar op harte van vlees. (II Kor 3:2-3).
Ons is soms verdruk,
maar nie teneergedruk.
Ons soek raad: wes of oos?
Maar word nie radeloos.
Ons word vervolg en gehaat,
maar nie deur God verlaat.
Ons word teen die grond gestamp,
maar nie vernietig deur die ramp!
Want
Ons dra Jesus se sterwe in ons ligaam
sodat ons vir ewig lewe met Hom saam! (II Kor 4:7-11)
Ons fokus nie om aardse dinge te verdien,
maar vertrou op dit wat ons nie sien!
Die tydelike dinge dra geen gewig.
Die onsigbare dinge is ewig! (II Kor 4:18)
Of ons hier woon,
of dáár werk vir loon,
dít maak die verskil:
Lewe soos Hy wil! (II Kor 5:9)
God het reeds die werk gedoen:
Deur Christus is ons met Hom versoen.
Jy is vry van jou oortredings verklaar.
Jy moet hierdie versoening aanvaar! (II Kor 5:18-21)
Doen God se wil elke dag
deur die Gees,
deur liefde,
deur die Woord,
en deur God se krag. (II Kor 5:7)
Moenie saam met ongelowiges buk
en saam trek aan dieselfde juk.
Dan bly jul verhouding met My gesond
Ek is die God van die verbond. (II Kor 6:12-18)
Jesus het Sy rykdom laat vaar,
in armoede Sy taak aanvaar.
Deur Jesus is jy nou ryk.
Laat dit in jou vrygewigheid blyk. (II Kor 8:9)
Terwyl ons nog in ons tentwoning sug,
sal die Gees deur Sy krag ons verlig. (II Kor 5:4-5)
As die dood jou aardse tent opvou
gaan jy na die vaste hemelse gebou! (II Kor 5:1)