Hulle lyftaal het duidelik gewys…
Soekende oë het my deurboor…
Met verwagting het hulle kom hoor:
Kan die Evangelie die pad aanwys?
Here, ‘n storm is in my gemoed:
Ek het gister drie mense ontmoet,
Sherie, Francois en Jean –
Help hulle om U wil te verstaan.
Die tentjie by die sentrum opgeslaan,
is vir dié haweloses ‘n luukse bestaan
Hulle sê, wat ek minstens kan weet,
is dat hulle nou lekker kan eet.
Die virus het hulle van die straat afgehaal.
Na vier dae kom hulle nou tot verhaal,
want hulle het nog nie weer dwelms gebruik
en jy kan nie meer die straat aan hulle ruik.
Lank terug het hulle ‘n huis gehad,
intussen is hulle kinders ook weggevat.
Hier by die sentrum kom soek hulle sin:
‘n Kans van ‘n leeftyd om oor te begin.
O Vader, ek bid dat hulle Satan se leuen
sal verruil vir die waarheid van U Seun.
Gee dat hulle in dié tyd U sal vind
en prewel: Abba, Vader, ek is U kind!
Die dwelms verdoof net die pyn van sonde…
U vergeef en neem dit permanent weg.
U vee trane af en genees al die wonde.
U was hulle skoon al was hulle hoe sleg!
Die dwelms is ‘n wrede slawerny…
Sal, U hulle asseblief daaruit bevry?
Laat hulle ware bevrediging leer
en met hulle nuwe lewe U vereer!
Die dwelms gee net verbygaande plesier…
U einddoel vir hulle is iets wat ewig duur:
Want U maak haweloses bymekaar.
Die bruilofsmaal wag vir hulle daar.
Open daardie oë wat my so deurboor.
Laat hulle glo as hulle dié Boodskap hoor.
Laat hulle knielend voor U buig
en as wedergebore kinders juig!