Ver soekers en ‘n naby skat

Ek het ‘n voortdurende hartseer
oor die uitverore volk van die Heer.
God het verbonde met hulle gesluit
en Christus as mens kom uit hulle uit. (Rom 9:1-5)

As die volk dan nie meer op God vetrou,
beteken dit God het nie Sy beloftes gehou?
Nee, van hulle uit Abraham gebore
is, soos Esau, nie gekies en is verlore. (Rom 9:6-13)

Moet ons daarin God se onregverdigheid lees?
Nee, God het al Sy soewereiniteit aan Moses geleer:
“Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees.
Ek sal my ontferm oor wie Ek wil, want Ek is die Heer.” (Rom 9:14-18)

Hoe moet ons dan God se straf verstaan:
Ons kan tog nie teen Sy wil ingaan?
Wie is jy om met God te redeneer,
jy die klei, en Hy die Pottebakker Heer? (Rom 9:19-24)

Israel het die skat ver gaan soek
deur werke te doen uit Moses se boek.
Die heidene het hulle nie afgesloof
en tog vryspraak gekry deur geloof. (Rom 9:30-31)

Israel was vol ywer vir God se gebod,
maar sonder vertroue op die gebod se God
Christus is die einde van die wet,
die wat dit glo, is dié wat vryspraak het. (Rom 10:1-4)

Kan ek deur te klim self die hemel haal?
Of dalk deur na die onderaardse toe te daal?
Nee, as jy so ver self soek bring dit net smart.
Christus is naby: In jou mond en in jou hart. (Rom 10:5-8)

As jy met jou mond bely Jesus is die Heer
en as jy met jou hart glo Hy lewe weer,
dan maak dit nie saak of is jy Griek of Jood,
jy is gered en vrygespreek deur Sy dood! (Rom 10:9-13)

Hoe kan jy Hom aanroep as jy nie glo?
Hoe kan jy glo as jy nie hoor van Hom daarbo?
Het Israel dan nie die boodskap gehoor?
Hulle het, maar dit deur werke verloor… (Rom 10:14-21)

Is jy ook deur werke ver aan die soek?
Soek dan eerder naby in God se Boek:
Jy moet net die Evangelie glo en bely
en só sal jy die ewige lewe kry!