Van losser tot Verlosser

Boas wou met die eerste losser vergader
en roep die leiers by die stadspoort nader.
“Naomi het Elimelek se grond te koop gegee.”
“Ek is bereid om as losser op te tree.” (Rut 4:1-4)

“Daarmee saam gaan jy Rut ook kry
sodat die grond in die familie kan bly.”
“Nee, my grond kom dan in gevaar –
ek sal die reg as losser eerder laat vaar.” (Rut 4:5-6).

Die losser het sy skoen uitgetrek:
“Boas, lossing is hiermee nou jou werk.”
“Leiers, julle hier is nou my getuie:
Die grond en Rut het ek gekoop as my eie.” (Rut 4:7-10).

“Mag die Here, soos vir Ragel en Lea, jou vrou seën
Mag jou nageslag wees soos vir Peres, deur jou seun.”
Rut het vir Boas ‘n seun in die wêreld gebring.
Die vrouens het ‘n loflied aan God gesing. (Rut 4:11-16).

In die geslagsregister word dit onthul
hoe het God dié seën vervul:

Mens moet oor Juda en Tamar se sonde besin,
maar tog het die seënuitspraak juis by Peres begin. (Gen 38:24-26)
God maak sondaar heidene nuut:
Boas se ma was Ragab die prostituut… (Rut 4:17-21, Mat 1:1-5).

So val die Moabiet, Rut in hierdie geslagslyn in
en drie geslagte later kom Dawid in die koningslyn in.
So was dit dan deur God beskore:
Uit haar geslag is Jesus gebore! (Rut 4:17-21, Mat 1:1-5).

Die boek Rut wil jou leer:
God is altyd in beheer.
Jou afkoms en sonde maak nie saak:
Deur Jesus sien God dit nie raak!
Hy bewerk Sy verlossingsplan vir jou.
Jy moet kinderlik daarop bly vertrou.