Sê nou U kry vyftig gelowiges daar,
sal U Sodom en Gomorra dan spaar?
As Ek vyftig kry
gaan Ek verby…
Kan ek nog ’n keer waag:
Is vyf en veertig te laag?
As Ek vyf en veertig kry
gaan Ek ook verby…
Miskien sal U veertig vind:
Wees hul dan goedgesind?
As Ek veertig kry
gaan Ek verby…
Word tog nie vir my kwaad:
Weerhou vir dertig die daad…
As Ek dertig kry
gaan Ek verby…
Ek bly nog waag:
Is twintig te laag?
As Ek twintig kry
gaan Ek verby…
Word nie kwaad vir my:
Wat as U tien daar kry?
Ook al is daar net tien
sal Ek van die straf afsien.
Ek kon in die stad nie kry
eers tien wat glo in My.
Daarom gaan Ek nie verby
die straf kan jy nie vermy.
Ek het die engel daarheen gestuur
om Lot te begenadig in die uur.
Vir Lot het ek gespaar,
maar sy vrou het na agter gestaar…
Here as u vyftig sondelose dae in my lewe kry
Sal ek dan die ewige lewe kry?
As ek vyftig dae kry
gaan Ek by jou verby.
As U veertig, dertig, twintig kry?
Dan gaan Ek verby!
Word nie kwaad vir my:
Wat as U tien dae kry?
Ook al is daar net tien
sal Ek van die straf afsien.
Ek kon in jou lewe nie kry
eers tien dae net vir My.
Daarom gaan Ek nie verby
die straf kan jy nie vermy.
Ek het Christus na die aarde gestuur
om jou te begenadig in die uur,
As Ek oordeel gaan Ek jou spaar:
Jy hoef nie na jou verlede te staar!