Tagtig

Oupa se gedig toe hy tagtig geword het:

Vandag is ek mos 80 jaar
twee ronde nulle opmekaar.
Reg langsaan nog ‘n ronde nul
om al die syfers aan te vul.
En dit is waar God my wil hê
met niks om van myself te sê.
Net een ding wat die Heer ons vra:
Ons moet mekaar se laste dra,
die wet van Christus te vervul,
al is jy maar ‘n ronde nul.

Moiratjie met ouma se tagtigste:

Nou’s ouma ook mos 80 jaar
‘n hele leeftyd lank gespaar.
En ek mag maar haar kleinkind wees,
van haar voorbeeld my rigting lees.
Ja, God gee haar die moed en krag
om soveel dinge te vermag
en altyd nog te glimlag.
So kon ons by ouma leer,
so word ons weer geinspireer:
Die wet van Christus te vervul
al is jy maar ‘n ronde nul.

Thinus met ma se tagtigste:

Vandag is ma dan ook 80 jaar –
ook al die nulle bymekaar…
Deur die Gees van God gelei,
het sy haar sagmoedigheid gekry.
Sy het al ons laste gedra,
sonder om ooit te kla.
En so die wet van Christus vervul,
al was sy ook ‘n ronde nul.
Op die akker van die Gees gesaai
gaan sy die ewige lewe maai.

En jy wat nog die paadjie stap,
moenie in jou goeddoen verslap.
Oppad na jou tagtig jaar
moet jy net nulle vergaar.
Laat jou doen en late wys
na Jesus Christus en die kruis.
Dis ook wat ma vandag vir jou vra:
Jy moet ander se laste dra,
om die wet van Christus te vervul
en bly tog asseblief net ‘n ronde nul!