Simson se geboorte

Die Israeliete het nog ‘n keer
gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer.
Hy het hulle oorgegee in Filistynse mag
maar ook in dié verhaal wys God Sy krag… (Rig 13:1)

Manoag se vrou het in kinderloosheid gekwyn.
Die Engel van die Here het aan haar verskyn:
“Jy sal ‘n seun in die wêreld bring,
jy mag niks onrein oor jou lippe bring.” (Rig 13:2-4)

Sy hare mag jy glad nie sny
en jy moet Hom aan God wy.
Hy sal die Israeliete begin red
uit die greep wat die Filistyne oor julle het.” (Rig 13:4-5)

Die vrou doen toe aan haar man verslag
oor die engel van God, ‘n man met gesag.
“O God, stuur die man van God tog weer
om ons oor die seun se opvoeding te leer.” (Rig 13:6-8)

Die Engel van God verskyn toe weer aan die vrou.
Sy hardloop na haar man toe: “Kom tog gou!”
“Wat moet die kind doen en hoe moet hy hom gedra?”
“Jou vrou moet leef soos ‘n Nasireër se ma.” (Rig 13:9-14)

“Wag tog net ‘n rukkie daar
dan maak ek ‘n bokkie gaar.”
“Bring eerder ‘n brandoffer aan jou Heer.”
“Wat is u naam sodat ons u kan eer?”

“My Naam kan mense nie verklaar:
Dit is vir julle te wonderbaar.”
Die vlam van die offer het hemel toe gegaan
en die Engel van die Here daarmee saam. (Rig 13:15-20)

Manoag: “Ons gaan sterf want ons het God gesien.”
Die vrou: “Ons kry genade wat ons nie verdien!”
Die vrou het toe die seun gekry.
Die Gees van die Here het hom gelei. (Rig 13:21-25)


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply