Sewe van sewe: Eind visioene (Op 19,20:11-15,21,22:1-5)

Een: Die bruilof van die Lam (Op 19:5-10)

“Prys die Here! Die Almagtige heers nou as koning.
Hy het plek gemaak vir sy bruid in sy woning.
Vir die bruilof van die Lam in fyn klere, so mooi
ja, met regverdige dade van gelowiges getooi.

Geseënd is die wat by die bruilofsmaal vergaar:
Dit is die woorde van God en hulle is waar.

Twee: Die Ruiter op die wit perd (Op 19:11-16)

Uit die hemel het ‘n Ruiter op ‘n wit perd gery:
Vlammende oë en heerserkrone – só lyk Hy.
Sy naam is Betroubaar en getrou.
Met regverdigheid oordeel Hy nou.

Die Naam op Hom geskrywe weet net Hy.
Sy leërs het op wit perde agter Hom gery.
Bloed deurweekte klere was sy lot
Sy Naam is: “Woord van God!”

Uit sy mond het daar ‘n skerp swaard gekom
om die nasies mee te tref – ‘n oordeel van Hom.
Hy sal self die parskuip trap vir die wyn,
die wyn van die toorn, oordeel en pyn.
Hy sal hulle met ‘n ystersepter regeer.
Dis straf van God, die Almagtige Heer.

Op sy klere, by sy heupe, was daar ‘n Naam:
“Die Koning van die konings” is wat daar staan!

Drie: Die antichris en valse profeet word verslaan (Op 19:17-21)

Alle julle roofvoëls in die lug vergaar,
kom vir die groot feesmaal bymekaar.

Kom eet die vleis van die konings,
opperbevelhebbers in hul wonings,
die vleis van die magtiges en uitbuiters
en die vleis van die perde en hulle ruiters,
ja, die vleis van allerhande mense:
klein en groot, slaaf en die sonder grense.

Die oorlog was teen konings en die dier,
die Ruiter op die wit perd het geseëvier.
Die dier en die vals profeet se kant,
is lewend in die vuurpoel gebrand.
Die ander mense is doodgemaak en verslaan
met die swaard wat uit die Ruiter se mond uitgaan.

Met die feesmaal het God sy mag gewys:
Al die roofvoëls het hulle dik geëet aan die vleis.

Vier: Die eindoordeel (Op 20:11-15)

Die troon wat ek gesien het, was wit
vir Hom, dié Een wat daarop sit.
Die aarde en hemel het verteer.
Plek vir hulle was daar die meer.

Die dooies, groot en klein,
is voor die troon opgelyn.
Die boek van die lewe is oopgemaak
vir die laaste groot oordeelstaak.

Die see het die dooies terug kom gee.
Die dood en die doderyk het ook gegee.
Elkeen is geoordeel volgens die dade van sy hand.
Die dood en die doderyk is in die vuurpoel verbrand.

As Hy iemand se naam nie in die boek kon vind,
is hy in die vuurpoel gegooi, groot of kind…

Vyf: Nuwe hemel en nuwe aarde (Op 21:1-8)

Ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gewaar.
Die eerste hemel en aarde was nie meer daar.
Ek het die stad uit die hemel af sien kom,
soos ‘n bruid gereed vir die bruidegom.

Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê:
“Kyk, God wou sy woonplek nou by die mense hê.
Hy sal by hulle bly en hulle sal sy volke wees.
God self sal by hulle wees en hulle genees.

Van elke oog droog hy hul traan:
Die dood sal daar nie meer wees,
van hul leed, smart en pyn genees.
Die dinge van vroeër het verbygegaan.

Dit was toe nie alles verniet:
Kyk, Ek maak alles nuut!
Skryf hierdie woorde daar
want jy kan weet dit is waar.”

Vir elkeen wat dors het, laat Ek drink;
uit die fontein van die lewe sal Ek skink.
Elkeen wat die oorwinning behaal sal dit kry,
en Ek sal sy God wees, en hy ‘n seun vir My.

Maar party het bang geword en het nie vertrou,
ja, die losbandiges, onsedelikes, moordenaars,
bedrieërs, afgodsdienaars en al die leuenaars,
sal dit in die poel van vuur en swael berou.

Ses: Die nuwe Jerusalem (Op 21:9-27)

Die engel het met my gepraat: “Kom uit,
kom kyk na die vrou van die Lam, die bruid.”

Ek is deur die Gees na die stad gehaal,
met ‘n glans soos kristalhelder opaal.
Die groot hoë muur van die stad
het twaalf poorte in gehad.
Elke poort is uit een pêrel gemaak
en niemand het daarby gewaak.

Die twaalf moet jy so vertolk:
Een vir elke stam van die volk.
In die twaalf fondamente van die muur
is die name van die apstels ingegrafier.

Met ‘n goue meetstok is gemeet:
Die stad is net so lank as breed.
Twaalf duisend kilometer na elke kant,
honderd vier en veertig meter, die rand.

Die stad en sy strate is met suiwer goud gebou
Soos ‘n skoon blink spieël lyk dit nou.

Die fondamente van die stadsmuur
is met allerhande edelstene borduur:
Met opaal is die eerste versier,
die tweede weer met saffier,
die derde met agaat se prag,
die vierde is vol van smarag.
Sardoniks is die vyfde se steen,
karneool se prag aan die sesde verleen.
Die sewende het met chrisoliet geskyn,
beril het die agste fondament verfyn,
die negende met topaas,
die tiende met chrisopraas.
Hiasint vir fondament hommer elf,
vir twaalf moes hulle ametis delf.

‘n Tempel het ek nie in die stad gevind:
Sy tempel is die Here God, en die Lam sy kind.
Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig,
want die heerlikheid van God en die Lam gee sy lig.

Niks onreins en niemand losbandig
sal ooit lewe in hierdie stad se lig.
Net dié wie se name in die boek staan
se stadslewe sal vir ewig nie vergaan.

Sewe: Die troon met die rivier van die lewe (Op 22:1-5)

Hy het my die rivier met die water van die lewe gewys:
Dit het soos helder kristal uit die troon van God gebruis.
Aan die een kant het die boom van die lewe gestaan:
Twaalf keer per jaar het hy genesende vrugte aan.

In die stad is God en die Lam se troon.
Vervloek is niks of niemand wat daar woon.
Sy dienaars sal Hom sien en Hom bly dien,
sy Naam sal jy op hulle voorkoppe sien.

Nag is daar in die stad nie meer,
ja, niemand benodig ‘n lamp of ‘n lig,
omdat die Here God hulle sal verlig.
Hulle sal tot in alle ewigheid regeer.