Sewe tot sewe

with No Comments

Die gediggie het wyd gedraai. Solidariteit het hom ook nou opgneem:

Sewe tot sewe,
ek veg vir sy lewe.

Die ou oom se paniekbevange oë
wat bokant die masker uitstaar
en met sy gehoor apparaat onklaar,
maak my so diep bewoë…

Dokters en ander kan kom en gaan,
maar by sy bed moet ek bly staan
en dit terwyl ek die tekens verstaan,
waar die virus met hom heengaan…

Natgesweet onder lae van beskermende drag.
Min vloeistof want die badkamer moet wag.
Fisies uitgeput want ons is nou te min,
want ander is aangesteek, selfs my vriendin…

Sewe tot sewe
bene van moegheid bewe.

Soos ek huistoe ry
vreet die onsekerheid my.
My kind wat my met ope arms ontvang:
Sê nou ek steek hom aan, ek is bang…

Sewe tot sewe,
die oom nog aan die lewe.
Die bed oorkant is nou leeg
dood statistiek op beweeg…

Sy hand gryp met kneukels wit:
Sal jy kans sien om vir my te bid?
‘n Gebed vir vrede
is beide se traan se rede.

Sy familie kan nie eers kom –
ek is dit nou vir hom.
Nog medisyne vir die pyn
en suurstof deur die lyn.

Sewe tot sewe,
hierdie is nie ‘n lewe.

Man sonder werk.
Geen diens by die kerk.
Kos voorraad beperk.
Here, hou my sterk…

Sewe tot sewe,
my lippe bewe.

Ek mag nie ‘n Bybel in die saal invat,
want alles word met die virus beklad
Tyd is daar nie meer veel,
ek moet die boodskap deel:

Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek
vir waters van rus kan ons Hom smeek.
Al sal ek deur dood skaduwee gaan,
is Hy die Een wat saam met my gaan…

Sewe to sewe
more begin ek veg vir ‘n ander lewe…

 

Leave a Reply