Paasfees (Sondag)

Wat jy nog van Paasfees moet verstaan,
Jesus het die Sondag uit die graf opgestaan! (Mark 16:9)
Hy het die dood oorwin
en opgevaar die hemele in. (Rom 8:34)

Hoe vertroostend vir ons Sy taak:
“Ek het reeds vir julle sonde betaal –
Ek gaan om vir julle plek gereed te maak,
dan sal ek julle na My toe kom haal. (Joh 14:3, I Tes 4:14)

Die geluid van die skare was soos donderweer
Hulle het uitgeroep: As koning heers ons Heer!
Laat ons juig en jubel, weer en weer:
Aan die Almagtige betoon ons alle eer! (Op 19:6-7)

Die tyd vir die bruilof van die Lam is hier.
Die bruid is met helder skoon linne versier.
Die klere is regverdige dade aan God toegewy.
Geseënd is hulle wat ‘n bruilofsuitnodiging kry. (Op 19:8-9)

“Kom, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”
Hy wys my die heilige stad met twaalf poorte – een vir elke stam. (op 21:13-14)
As tempel was God en die Lam self daar,
sonder son was Hy ook die kandelaar. (Op 21:22-23)

Die rivier met lewegewende water het my geboei:
Soos helder kristal het dit uit die troon gevloei.
Daar langsaan staan die boom van die lewe
wat twaalf maande per jaar sy vrugte gewe. (Op 22:1-2)

Die troon van God en die Lam sal in die stad staan.
Geen vervloeking van enigiets sal langer bestaan.
Op hulle voorkoppe is die Naam van hul Heer
en hulle sal vir altyd as konings regeer. (Op 22:2-5)

Op Paas Vrydag het die volk ongesuurde brood geëet
Vir geslagte daarna weer met Pasga om nie te vergeet.
Met Nagmaal doen ons dit tot Sy gedagtenis
om ook ons gebrekkige geheue te verfris.

Maar Paasfees gaan nie net oor onthou.
Paas Sondag sê: Kyk vorentoe en vertrou!
Jy is uitgenooi as bruid na die bruilofsmaal.
Die Lam, jou bruidegom, gaan jou self kom haal!