As jong kind het ek voor ‘n skildery gestaan:
‘n Breë pad het die goddelose weg gebaan –
Met vreugde het duisende daarop gegaan.
‘n Smal pad na die hemel het ek verstaan.
Rondom die paaie was mooi natuur
almal oppad na die finale uur…
Na veertig jaar moet ek jou vertel
dat ons dié eenvoudsbeeld moet herstel:
Ons skildery is Johannesburg se kaart
waardeur almal jaag met volle vaart.
Afdraaibane op elke liewe hoek
met die GPS wat die korste pad bly soek.
Maar dan besef ons ook nog gou
dat ons die kaart verder oop moet vou.
Ons vriende en familie het die wêreld vol gevlug.
Facebook bring ons daagliks van hul berig:
Publieke vervoer keuses van moltreine,
lughawens met groen en rooi seine…
Skole met “Mik hoog”as leuse.
Honderde vakke as keuse.
Beroepsvoorligters kan nie eers alles lys,
wat nog om vir jongmense die pad te wys.
Watter huweliksmaat?
Gee tog raad!
Watter werk?
Watter kerk?
Watter dokter vir my kwaal?
Nog ‘n krisis sê die skaal!
Nog geweld?
Steeds nie geld…
Chemoterapie,
of dalk nie?
Pensioen te min.
Parkinsons begin.
Niemand sien die mooi natuur
almal oppad na die finale uur…
Weet jy ooit nog waar is noord?
Word soggens stil in God se Woord.
Die regte skildery
sal jy daar kan kry.
As die lewe jou deurmekaar wil maak,
wil God dat jy van Hom afhanklik raak.
Die GPS wat jy reeds het
is die krag van jou gebed.
Moenie sommer net raai
by jou lewenspad se draai,
Honderde kere élke dag
gee dit jou besluite krag!
Jy kan nie uit die maalkolk uit,
maar jy kan wel besluit:
Ek en my huis sal die Here dien
in al die swaar sal Ek Hom sien,
want Hy is aan my stuur
oppad na die finale uur!
Leave a Reply