Onder die wolk

Die volk is uit Egipte uit
met ‘n wolkkolom vooruit. (Eks 13:20-21)
Die Farao het hulle agterna gejaag
maar die wolkkolom het hulle vertraag. (Eks 14:19-20)

In die woestyn, as die wolk gaan staan,
het die Israeliete daar kamp opgeslaan.
As die wolk dan weer oplig en vertrek,
het die Israelietde weer verder getrek. (Num 9:15-23, Eks 40:36-38)

Toe Moses die tabernakel inwy,
(en dieselfde is by Salomo se tempel gekry)
het ‘n wolk die tabernakel omhul
en so het God se teenwoordigheid dit gevul. (Eks 40:34-35, I Kon 8:10, II Kron 5:13, Eseg 10:4)

Paulus wil dat jy verstaan
dat jy onder die wolk moet ingaan.
As hy beweeg of weer gaan staan,
jy daarmee saam moet gaan.

Onthou: Ons voorvaders het almal saam
onder die wolk veilig deur die see gegaan.
Hulle het agter Moses aangeloop
en is in die wolk en see gedoop. (I Kor 10:1-2)

Die volk het geëet en drink
en dis van ‘n geestelike rots geskink –
En kyk net waarvan maak Paulus ons bewus:
Die rots was toe al Christus! (I Kor 5:3-4)

Maar die meeste het in die woestyn gesterf – die rede?
God was nie met hulle tevrede…
Hierdie voorbeelde is vir ons opgeskryf
dat ons, ons nie deur sondige begeertes laat dryf… ( I Kor 10:5-6)

Toe hulle oor die manna murmureer,
moes ‘n slang op ‘n paal die sterftes keer.
Christus is uitgetart, is wat Paulus leer
en waarsku dit kan met ons ook gebeur! (I Kor 10:7-10)

Ons het ook vandag van die geestelike rots geskink,
ja, bloed uit die beker van danksegging gedrink.
En so, van een brood, het ons almal saam
geëet van die gemeenskap van sy ligaam. (I Kor 10:14-17)

Julle kan nie van die beker van die Here drink
en dan ook vir julle van die beker van die bose skink.
Julle kan nie van die tafel van die Here kom deel
en dan die Here tart om ook ‘n tafel met die bose te deel. (I Kor 10:18-22)

Ons moet verstaan dat ons ‘n gebou van God is
en die fondament daarvan is Christus.
Ons is die tempel van God, van binne skoon
sodat die Gees, as wolk, dan nou in ons woon. (I Kor 3:10-11,16)

‘n Wolk sal een laaste keer oor die aarde daal
met Jesus Christus daarin om ons te kom haal.
Tot dan moet ons bid, dat die Gees ons lei
om gehoorsaam onder die wolk van God se wil te bly. (Jes 4:5-6, Luk 21:27. Op 14:14-16)

Jou eie belang moet nie voorop staan,
maar jou lewe moet oor ander se redding gaan.
Of jy eet en of jy drink, moet jy leer,
dat jy dit alles moet doen tot God se eer. (I Kor 10:31-33)