Obadja

So sê die Here oor Edom:
“Al die nasies moet kom!
Saam moet ons oorlog maak,
want teen Edom het Ek ‘n saak!” (Ob 1:1)

Jy is deur jou vermetelheid mislei.
Jy dink: Wie sal my hier bo kan afkry?
Al het jy tussen die sterre jou vesting gebou,
ook daar sal jy jou oortredings berou… (Ob 1:2-4)

Daardie dag sal Ek alles stroop.
Selfs jou vriende sal oor jou loop.
Die wat jy gehelp het, sal jou daag.
Jou eie bondgenote sal jou jaag. (Ob 1:5-9)

Jy word gestraf, dis Mý woord,
oor jou broervolk se moord.
Toe hulle in ballingskap gaan,
het jy afsydig daar gestaan. (Ob 1:10-11)

Toe die ramp hul tref was jy daar
en het hulle goed vir jou vergaar.
Oor hul lot het jy jou verheug,
op vlugtelinge moord gepleeg. (Ob 1:12-14)

Soos Jakob die oordeelsbeker moes drink,
so sal Ek dit vir alle nasies skink,
maar op Sionsberg sal daar uitkoms kom:
Jakob sal dit besit – dit behoort aan hom. (Ob 1:15-17)

In daardie uur
is Jakob die vuur.
Esau sal sy straf kry:
Niemand sal oorbly! (Ob 1:18-20)

Die op Sionsberg word bevry,
hulle sal Esau se bergland kry.
Die heerskappy behoort aan die Heer:
Gee aan Hom alle eer! (Ob 1:21)


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply