Nehemia

Vreeslik, die boodskappe uit elke oord.
Verskrikte boodskappers bring die woord:
“Die vyand in oormag kom van Noord –
vernietig is elke stad en oord!”

Laat ons wagte in die verte tuur.
O, so naby jou oordeelsuur…
Ek skuil agter die beskermingsmuur
is dit wel bestand teen die vuur?

Ek het gedink mure sal my beskerm.
Luister net na die gehuil en gekerm.
Oral is pyn en uitpeul derm –
hul het hul nie eers oor kinders ontferm!

Als verlore – net my lewe behou…
In die verte in ‘n vreemde gebou,
kom ek tot inkeer en opregte berou:
Ek het op verkeerde dinge vertrou!

U moes my tot in my wese skud,
sodat ek weer opreg kan bid.
Juis in die middel van so gebed,
het U my siel van die bose gered.

Ek maak die koning se glase blink,
terwyl ek herbou planne bedink.
Vir hom sal ek ‘n glasie skink,
dat hy die goedkeuring beklink.

En ten midde van al die gevaar
kon ek uiteindelik wel bedaar.
En stadig, maar seker, als aanvaar,
want ek weet die fondament is klaar.

Elkeen moet sy deel nou bou
en daarmee saam op God vertrou.
In een hand my wapen gehou
en weet God bly altyd getrou.

Net Hy het ons die krag verleen
en so bou ons steen op steen.
In die hoek groot en alleen –
die hoeksteen is God se Seun.

Na die nuwe mure kyk ons trots:
Dis gebou op Hom, die rots.
Hier is ons nou werklik veilig
want hierdie stad is geheilig.

Deur vandag baie Bybel te lees
sal jy ook soos Nehemia kan wees:
Afhanklik, biddend, bouend, bedees
ja, vol van die Heilige Gees!

As die slegte boodskap dan weer kom,
staan elke mond net verstom,
want al val al die mure om,
ons vertrou nou net op Hom!