‘n Gebed oor Annette

O Almagtige Skepper Heer,
aan U kom toe al die eer!
U laat alles gebeur,
want U is in beheer.

Ek het vir ‘n laaste groet gegaan,
maar min het ek verstaan
dat deur hierdie daad
U ook met my wou praat…

U grootheid het daar ontvou
toe mense vertel hoe hulle onthou
van Annette, die onbaatsugtige vrou,
in haar diensbaarheid altyd getrou.

Ag, Here ek moet voor U bely:
Ek lewe glad nie soos sy…
U wil gaan by my verby,
want ek dink alles gaan net oor my!

Deur Annette wil U my leer
dis tyd om om te keer.
Sal U my vergewe?
Gee my ‘n nuwe lewe!

Dankie dat ek Annette kon ken.
Dankie vir al die siele wat sy kon wen.
Dankie dat sy so diep kon bemin,
veral vir Jofie en haar gesin.

Dankie vir wonderwerke in die verlede:
Alles voortvloeiend uit haar gebede!
Dankie dat haar liefdevolle luister
soveel mense gered het uit die duister.

O God ek wil tog van U vra
om my deur dié tyd te dra.
Ek is hier agter gelaat
sonder Annette se goeie raad…

My kind, deur My Gees
sal Annette by jou wees.
Jy sal haar in alles sien,
want so moet jy My dien:

Vat Annette se gegeurde tee:
Skink dit om vir ander te gee.
Vat die koppie aan die oor
en luister om ‘n ander se hart te hoor

As jy die Wilson toffie kou en kou:
Dis Annette se boodskap om aan te hou.
So sal jy weet Ek is getrou,
My beloftes is ook vir jou!

Voel alles om jou alleen en koud?
Drink Annette se Cream Soda float.
Dan sal jy weer onthou wat skeel:
Jy moet liefde met ander deel!

As moed besig is om weg te sak,
is dit tyd om weer te bak.
‘n Warm beskuit pas gesny,
getuig oor liefde van My.

Sien jy net die stukke van ‘n droom
Tyd vir arbeie en room!
Ek is altyd die kersie op die koek
vir die wat na My wil soek!

Soos sy, moenie een geleentheid mis
om ander met My Woord te sus,
want Ek wil hulle red
deur jou gebrekkige gebed!

O Almagtige Skepper Heer,
aan U kom toe al die eer!
Laat dit in my lewe gebeur:
Neem U van my beheer.

Sê vir Annette ek gaan haar baie mis,
maar stel haar ook dan gerus:
Sy het dié wonder vir my gedoen
om my weer met U te versoen!