‘n Droom:
Dis weer Sondagoggend vroeg.
‘n Lang tou mense is aan die swoeg
tussen hope asbliksakke deur.
Verotting, die onaangename geur.
Met ongeduld oor die ongemak
word onskuldiges afgejak.
Almal beur na iets daar voor
wat sosiale media hul laat bekoor…
Die swakkere word opsy gedruk,
omkoopgeld in sakke gedruk,
om vinniger voor te kom,
om meer in te palm net vir hom…
‘n Teks:
13 As jy jou voet terughou van die Sabbat,
jou daarvan weerhou om te doen wat jy wil op my heilige dag,
en die Sabbat ‘n vreugde noem,
eerbied toon vir dit wat heilig is vir die Here,
die dag eer deur nie te doen wat jy gewoonlik doen nie,
deur nie geleentheid te vind om jou besigheid te doen en ‘n saketransaksie te bespreek nie,
14 dan sal jy jou vreugde vind by die Here.
“Ek sal jou laat ry op die hoogtes van die aarde.
Ek sal jou die erfenis van jou vader Jakob laat geniet.”
Ja, die mond van die Here het gespreek. (Jes 58)
‘n Toepassing:
Doen net gou dringende werk,
sal later kyk na elektroniese kerk.
Kan dan “forward” as iemand doop –
ek moet nog ‘n nuwe foon gaan koop.
Na die impak van Covid is die geld min,
sewe dae ‘n week nodig om meer te in.
Eenkant is die Bybel vol stof.
want die gejaag is so rof…
Gou na die kinders ekstra klas
wat net op Sondag in kan pas,
want die week is so vol
van die malle gehol.
Dis al tyd om by vriende te kuier,
of om in die natuur te luier.
Hoe meer die gejaag na vreugde,
hoe groter word die innerlike leegte.
Op wie en wat jy vertrou
word op Sondae ontvou:
Dit wat jy in God se plek stel,
sal die storie van jou afgod vertel.
In plaas dat jy deur rommeltoue stoei,
gaan na waar strome lewende Water vloei.
Drink en vul die leegte
en ervaar ware vreugde.
Sit die hele Sondag vir jou Here opsy
om op die hoogtes van die aarde te ry.
Gee die eerste dag vir jou Heer,
omdat jy Hom weer bo alles begeer!
Leave a Reply