Lukas 14:25-33

O God, ek wil so graag U dissipel wees,
maar ek bid, want ek het Lukas veertien gelees.

Daar staan: Om na U toe te kom vra,
dat ek U meer liefhet as my pa en ma.
U roeping laat my in nederigheid bewe,
want U vra meer as my vrou en eie lewe.

U waarsku ek kan nie U dissipel wees,
as ek die dra van my eie kruis nog vrees.

U vra dat ek die koste van die bouwerk moet beraam,
sodat ek nie by die fondament ophou en my skaam.
U vra dat ek die vyand se oormag beskou,
sodat ek nie midde die geveg my keuse sal berou.

O Here, U beveel, dat alles waarop ek so vertrou,
as ek U dissipels wil wees, ek dit nie meer kan hou…

O God, ek wil so graag U dissipel wees,
verander my hart, vul my met U Gees.
Laat my opnuut besef dat hier op aarde
niks eers amper opweeg teen U waarde!

Amen