Abba, ja my hemelse God en Vader,
dankie dat ek vanaand weer tot U kan nader.
U weet elke greintjie van my lyf is moeg
en hoe het ek die afgelope week geswoeg.
Kan ek een aand deurslaap, wil ek vra,
maar ek sit eers weer vandag se hartseer
hier by U deurboorde voete neer,
want hierdie las kan ek nie alleen dra.
Daar was twintig behandeling op my lys,
en U het vir my die volgorde aangewys.
Voor ontbyt al begin
anders pas almal nie in.
Vroeg oggend was ek lekker sterk.
Maklik om met groen pasiënte te werk,
maar later moes ek gaan na rooi
en die prentjie daar was nie mooi.
Vyftien behandelings om te gaan,
as ek so aftel weet ek U verstaan…
Elke pasiënt se saturasie is laag:
Die stress om te behandel knaag.
Tussen pype deur hou ek lesings dop
enige tyd kan sy hart ophou klop…
Twaalf behandelings oor
dankie dat U elke gebed hoor.
Een kon ek ‘n entjie laat loop
suurtsof en pype vasgeknoop.
By ‘n oop deur lê ‘n man effe geknak
en dis asof hy na sy asem snak.
Suster, jy moet vinnig kom kyk!
Toe ons terugstap lê daar ‘n lyk…
Here, ek vertel U dinge wat U weet:
Die PPE veroorsaak meer as sauna sweet.
die sweet loop af teen my been
soos ‘n warm Amazone reën.
Na tien behandeling gou drink en eet
anders gaan ek dehidreer van die sweet.
Die boodskap terwyl ek nog kou:
“Ek het hulp nodig, kom tog gou…”
Die vroutjie in saal C is in my bede:
Hulle het sewe jaar vir ‘n kind gewag,
en sy het vandag gehoor sy verwag,
maar in ‘n ander saal haar man oorlede.
Behandeling agt is van die lysie afgehaal
Avbob het hom sopas kom haal.
Ek het hom nog gister van U vertel –
is hy nou in die hemel of die hel?
‘n Foonboodskap tussendeur bring my van stryk:
“Ag sal jy asseblief na my oupa gaan kyk –
die hospitaal sê hy gaan vandag nog beswyk?”
Ek bid vir hom terwyl hy met betraande oë na my kyk.
Die lysie aangepas, nog drie by:
Siekes het dooies se beddens gekry…
Nege, agt, sewe ses,
Here ek doen my bes.
Vyf, vier, drie, twee, een
Here ek kon nie hierdeur alleen!
Here, die pasiënte gaan min slaap kry,
want hulle gaan die hele nag vir asem stry.
Wil U met elkeen op my lysie wees
vul hulle met die asem van U Gees.
Amen
In die bed sit ek gou die tablet aan:
Wat gaan in die res van die wêreld aan?
Gou kos vir Covid familie met Shoprite sixty stuur.
Vriende antwoord waar hulle suurstof kan huur.
Verlede naweek moes ek ook werk,
nie tyd vir my gesin of die kerk
Ek het so gesmag om more te kan rus,
maar sopas gehoor dat daar te min hande is.
Terwyl ek my bekommer oor bed ses se oom
val ek weg in ‘n diepe droom…
O Here, dankie vir ‘n nag se slaap,
jammer dat ek nou eers gaap…
Buite is dit nog donker en koud,
vir die dag wat voorlê is ek benoud.
Dankie vir wat ek nou in U Woord kon lees
dankie dat U my daardeur vul met U Gees.
Ek het weer daardie bo-alle-verstand-vrede,
U is die enigste bly-wees rede.
U het so weer met my gepraat
en gevul met die dag se krag en raad.
U het my ook beter laat verstaan,
hoekom ek vandag terug moet gaan:
My dogter, Ek het jou oor baie jare opgelei,
‘n meer ervare intensief werker kon Ek nie kry.
Oor al die jare was jy in Woord en gebed,
Ek plaas jou daar waar Ek wil red.
Ek het lank vooruit reeds bepaal
dat ek daardie omie gister sou kom haal
Vooruit was dit ook al swart op wit
dat voor dit moes gebeur, sou jy kom bid.
Hier by die feesmaal van die Lam
sit die omie, sy oë nog effens klam.
Hy het vandag My heerlikheid gesien,
‘n ewigheidsvreugde onverdien.
Here, vandag is daar drie en twintig op die lys,
sal U asseblief vir my die pad daardeur wys.
En as ek dan so biddend daardeur gaan,
help my om tot by nommer een te bly staan…
Amen