Jy ís deel van God se gesin (I Joh oorsig)

Uit liefde word jy deel van Sy gesin.
In dié huisgesin is sonde nie meer in,
ja, hier maak liefde nou meer sin!
Weet verseker jy bly ewig daarin.

Uit liefde word jy deel van Sy gesin.

Ons het die liefde van die Vader ondervind:
Deur Sy liefde noem Hy ons Sy kind!
Wanneer ons broer, Jesus, weer kom,
word ons verander net soos Hom. (I Joh 3:1-2)

Jy is kind van God as jy glo:
Jesus is die Christus van bo.
As jy Sy Vaderliefde vind,
is jy lief vir al Sy ander kind. (I Joh 5:1-2).

Van die begin af was Hy daar.
Ons het hom met ons sintuie ervaar.
Ja, ons het aan hom geraak en gebewe.
Hy is die Woord, die Lewe. (I Joh 1:1)

Jy kan weet iemand het die Gees gekry
as jy hoor dat hy die volgende bely:
Ek weet dat Jesus die Christus is
en ook mens geword het, glo ek gewis. (I Joh 4:1-2)

In dié huisgesin is sonde nie meer in

As jy Sy ware liefde kry,
wil jy teen die sonde stry.
Deur die werk van die Gees,
wil jy nou soos Jesus wees. (Joh 5:1-3)

Jesus het gekom om sonde weg te neem,
so, die wat bly sondig is van Hom vervreem. (I Joh 5:5-6)
Die wat die wêreldse dinge begeer,
se ingesteldheid kom nie van die Heer. (I Joh 2:15-16)

As ons beweer ons is met alle sonde klaar,
bedrieg ons onself – weet dis nie waar.
Maar as ons ons sondes bely,
sal ons by Hom vergifnis kry. (I Joh 1:8-9)
Jesus sal vir jou voorspraak doen
en ons so met God versoen. (I Joh 2:1-2)

Ja, hier maak liefde nou meer sin!

As daar in jou nie liefde is,
het jy geen Godskennis – gewis!

God het werklike liefde vir ons gewys:
Hy het sy Seun gestuur na sy aardse huis.
Om vir sy kinders ‘n liefdesdaad te doen
en met sy daad hulle sondes te versoen. (I Joh 4:8-10)

As God sy liefde dan só wys,
moet jy dit ook volg in sy huis.
As jul in liefde tot mekaar uitreik,
het God se liefde sy doel bereik. (I Joh 4:8-12)

Moenie soos Kain oorgaan in slegte daad. ( Joh 3:12)
Pasop jy doen dit al as jy jou broer sou haat. (I Joh 3:15)
Ons weet wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.
Ons behoort ook daardie liefde vir ons broers te hê. (I Joh 3:16)

As jy jou broer gebrek sien ly
en jy hom nie eers jammer kry,
hoe kan die liefde van God in jou wees?
Hoe kan jy dan beweer: Ek het die Gees? (I Joh 3:17-24)

As jou gewete jou aankla,
kan jy in gebed vergifnis vra.
Bly in God se liefdesgebod
dan bly God in jou en jy in God. (I Joh 3:20-24)

Weet verseker jy bly ewig daarin.

Ek skryf hierdie brief spesiaal vir jou,
sodat jy op God se belofte bly vertrou:
Die ewige lewe belowe Hy vir jou
as jy jou geloof in die Seun bly hou! (I Joh 5:13)

Liewe kinders, julle moet in Hom bly,
sodat julle niks het om te vrees
as Hy ons met die wederkoms kom kry
en ons nie beskaam voor Hom hoef te wees. (I Joh 2:28,29)

Dit is duidelik wie is God se kind
en wie het die duiwel gevind:
Die wat nie in liefde lewe
en nie na regverdigheid strewe. (I Joh 3:10; 4:7)

Jy kan weet Hy sal jou as kind kom haal
as jou liefde meer is as net lippetaal. (I Joh 3:18-19)
Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly
en Hy in ons: Ons het die Gees gekry. (I Joh 3:24; 4:13)

Wie bely dat Jesus die Seun van God is –
God bly in hom en hy in God, dis gewis!
God is liefde, so wie in die liefde bly,
bly in God en God sal jy in hom ook kry! (I Joh 4:15-16)


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply