Job oorsig

God
Het jy my dienaar Job gesien? 1:8
Daar is niemand wat my só opreg dien.
Satan
U beskerm hom en maak hom ryk
Hy sal U vervloek as dit van hom wyk. 1:11
Job
Die Here het gegee en neem toe weer
Prys die naam van die enigste Heer! 1:21
Job se vrou
Al wat jy oor het is daardie potteskerf
Vroom? Vervloek God nou en sterf! 2:9
Job
As ons die goeie van God aanvaar
moet ons in die swaar tye bedaar… 4:10
Alles voel heeltemal verlore,
waarom is ek dan gebore? 4:20
Elifas
Job, as jy hieroor dink sal jy verstaan
niemand het onskuldig ten gronde gegaan 4:7
Job
Ek is tot niks in staat en weet nie meer raad
Jou medelye is ‘n las, en nie ‘n goeie daad! 4:13,14
Bildad
Kan riet groei sonder ‘n moeras? 8:11
‘n Mens sit nie verniet in sak en as!
Job
Ek is onskuldig, maar hoor julle gepreek
Iemand onpartydig moet die reg kom spreek! 9:33
Sofar
Job, Steek jou hande uit in gebed –
net God kan jou van jou sonde red! 11:13
Job
Net by God is wysheid en krag 12:13
Hy beheer als en besluit oor mag. 12:21
Ek voel die pyn, my liggam bewe.
As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe? 14:14
Elifas
Kan ‘n verstandige man soveel onsin praat? 15:1
Wat verstaan jy van God se daad?
Job
God het van my ‘n teiken gemaak 16:12
My vriende het my bespotters geraak. 16:20
Bildad
Hoe lank gaan jy nog so aanhou praat? 18:2
Die goddelose gaan brand vir hul daad! 18:5
Job
Ek weet dat my Losser leef 19:25
Mag Hy julle ook vergeef 19:29
Sofar
Ek moet by nou verdedig,
want jou teregwysing het my beledig! 20:2,3
Job
Julle slim argumente maak my boos 21:27
Julle sinlose praatjies kan nie troos 21:24
Elifas
Daar is geen einde aan jou sonde
Dís die rede vir al jou wonde! 22:5
Job
Wat God besluit het sal Hy doen 23:13,14
Ek soek na Hom om te versoen. 23:3
Bildad
Voor God is niemand reg: 25:4
‘n Wurm die mensekind, so sleg 25:6
Job
Ek is nou heeltemal oorstelp:
Dink jy jou woorde het gehelp? 26:1
God het my deur alles laat sien:
Wysheid is om die Here te dien! 28:28
Elihu
God doen nooit ‘n verkeerde daad 34:10
Deur siekte wil hy met mense praat. 33:19
Job, as jy weer in swaarkry wil kla
Dink oor God se wonderdade na 37:14
God
Wie het die aarde se fondamente gelê?
Wie het hom aanmekaargesit – kan jy sê?
Wie het vir die see perke gestel?
Vir die magtige golwe hul plek vertel?

Weet jy waar die dag sy lig gaan haal?
Wie het vir die stortreën sy koers bepaal?
Kan jy die dou en ys begryp?
Wie bring vir die wêreld ryp?

Kan jy die Sewester beperk?
Weet jy hoe die hemelligame werk?
Kan jy die wolke gaan haal
en praat deur die weerligstraal?

Wat weet jy van die leeu in die bos?
Wie gee vir die kraaie kos?
Kyk jy as die wildsbokke kleintjies kry?
Wie laat die wildedonkie vry?

Kan jy die buffel vir jou laat werk
Hoekom het die volstruis ‘n vlerk?
Gee jy die perd sy krag en hom laat spring?
Wie laat die roofvoël kos vir sy kuikens bring?

Het jy ‘n saak teen my beplan?
Job, antwoord my dan!

Job
Voorheen het ek gepraat,
nou is stilbly die beste raad! 39:37,38

God
God spreek uit die stormwind uit:
Job, maak jou reg vir die stryd.
Wil jy My skuldig verklaar,
Sodat jy vrygespreek word daar?
Dink jy jy het My mag?
Wys my dan jou krag!

Ek het die seekoei gemaak.
Net Ek kan aan hom raak.
Kan jy ‘n krokodil vang?
Probeer en jy word bang…

Wil jy aan Mý eise stel?
Ek wil nog van die krokodil vertel:

Wie kan sy bek oopmaak?
Wie kan aan sy tande raak?
Sy lyf is met skubbe getooi.
Niesend spat die vonke rooi.

Vlamme skiet uit sy bek.
Daar is groot krag in sy nek.
Jy word met angs oorval,
as jy hom sien op die wal.

‘n Spies en assegaai kom nie deur sy rug.
Met die water se eerste rimpeling sal jy vlug.
Hy laat diep water kook en raas,
van al die diere is hy baas.

Job
Nou weet ek U is tot alles in staat.
Wat U doen is in U raad.
Ek het oor dinge gepraat,
maar ek het nie insig gehad.

Tot nou toe was mense se praat,
dit wat Ek geweet het van U raad.
Maar nou het ek U self gesien,
nou besef ek dat ek niks verdien.

Slot
Gaan dit met jou nog sleg?
Verstaan jy nie God se weg?
Jy leer wel in jou pyn:
God is soewerein.
Ja, Job wil jou leer:
God is en bly in beheer.