Die ontroue vrou (Hos 1-3).
Gaan trou met ‘n prostituut
al het Ek dit streng verbied.
Die land is besig om te hoereer,
Ja, heeltemal ontrou aan die Heer.
Selfs Hosea se kinders se naam
het die volk gewys op hul blaam.
Sy is nie meer my vrou –
sy is te veel keer ontrou.
Ek maak haar soos woestyn,
sy sal omkom van dors en pyn!
Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak
en weer van voor af vir haar lief kan raak.
Die hofsaak (Hos 4-14).
Israeliete, die Heer se woord wil vermaan
want Hy kla die land se inwoners aan:
Omdat trou, liefde en toewyding verbleek
en die wil van God in die land ontbreek,
is dit vol vervloeking, valsheid en moord,
ja, diefstal en egbreuk só ongehoord.
Onskuldige bloed aan die orde van die dag.
Ja, dit is God, die Regter, se klag.
Hulle weet goed wat is reg.
Ek gaan na my woonplek weg
totdat hulle hulle skuld bely
en vra na die wil van My.
My straf sal kom so seker soos die dag,
eerder as offers het ek liefde verwag.
Maar Efraim, hoe kan ek jou laat vaar
hoe kan my liefde vir jou bedaar?
Al is jou lewe so benard,
Ek kry dit nie oor my hart.
My liefde brand te sterk,
al ken Ek jou slegte werk.
Gloeiende toorn is nie my wens,
want Ek is God en nie ‘n mens!
Besef jy, jý is net so ontrou
maar God se liefde brand vir jou?