Hoor die voëltjie koor

7“Miskien moet jy die diere vra om jou te leer,
die voëls daarbo om jou te vertel,
8of praat met die aarde dat dit jou leer
en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.
9Wie van hulle weet nie almal
dat die hand van die Here alles gemaak het nie?
10Hy het al wat lewe, in sy mag,
die asem van elke mens. (Job 12:7-10)

Uit die verlate murasie (Jes 14:23, Sef 2:14)
van ‘n betogende nasie
sal die uil se woorde jou laat sien:
“Wysheid begin om die Here te dien.” (Spr 1:7)

As jy in inperkings smag
na die gemeenskap op Sondag,
help ‘n swaeltjienes jou wys:
“Kosbaar is één dag in Sy huis!” (Ps 84:4,11)

As jy van alleenheid wegkwyn,
praat ‘n pelikaan in die woestyn:
“Hemel en aarde sal vergaan,
maar God sal altyd bestaan.” (Ps 102:7-8,27-28)

In jou hongersnood
sê die kraai: “Hier is brood, (I Kon 17:6)
kwartels van seën
sal van bo af reën!” (Eks 16:13)

As newe effekte hare laat val
hoor hoe die mossie vertel:
“Elkeen van hulle is getel!
Jy bly syne, kanker en al!” (Luk 12:7)

Was jou kinderdae vol pyn
wil die volstruis
vir jou wys:
“God is soewerein!” (Job 39:16-21)

Al het jy jou Maker verraai,
sal die haan drie keer vir jou kraai, (Mat 26:75)
maar die hen roep: Dit maak nie saak,
Ek sal jou onder My vlerke bymekaarmaak!” (Mat 23:37)

Val jy tuimelend na benede
hoor jy die antwoord op jou bede:
“Ek sal my arendsvlerke oopsrei
dat jy veilig daarop kan ry!” (Deut 8:11)

As jy besig is om moed te verloor
sing die ooievaar, duif, swaeltjie en kraanvoël in ‘n koor:
“Soos ons elke somer terugkeer,
so seker is die wederkoms van jou Heer.” (Jer 8:7)

Ja kan maar nader skuif
koer die liefdevolle duif:
“Sit ‘n bietjie nader,
voel die liefde van die Vader.”

Veilig in die ark tydens gevaar
bring die duif die hoop se blaar. (Gen 8:11)
Die duif ‘n teken van die Gees:
“Ek sal nie ver, maar binne jou wees!” (Mark 1:10)

As jy God se stem nie meer hoor,
gaan luister na Sy voëtjie koor
dat jy weer saam kan sing
en aan Hom die eer en hulde bring!


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply