Gideon

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Heer
Weer moes hulle die les met onderdrukking leer:
Hulle moes langs bergstroompies in grotte bly
en het niks van hul lande se opbrengs gekry. (Rig 6:1-5)

In Egipte was julle gedompel in slawerny,
Ek het julle uit daardie verdrukking bevry.
Julle het hierdie land gekry sonder om dit te verdien
met die opdrag: Julle mag nie ander gode dien.
Julle het nie na My geluister
en moet om hulp smeek met ‘n fluister… (Rig 6:6-10)

Gideon het binne ‘n parskuip gestaan
en wegkruipend koring uitgeslaan.
Die Engel van die Here het aan hom verskyn:
Dapper man, Ek is by jou in jou pyn! (Rig 6:11-12)

Ekskuus, Meneer, was die Here by my
sou ons nie nou so swaar kon kry.
Ons is vertel van die verlede se magtige daad,
maar nou het die Here ons in die steek gelaat. (Rig 6:11-13)

Voel jy ook God het jou in die steek gelaat?
Kry dan weer prespektief oor Sy daad:

In alles word ons verdruk,
maar is nie terneergedruk;
ons is oor raad verleë,
maar sal nie radeloos opgee;
ons word vervolg deur wrede daad,
maar word nie deur God verlaat. (II Kor 4:8-9)

Met die krag wat jy het
moet jy die volk gaan red!

Ekskuus, Meneer, ek dink nie U verstaan
wie ek is en waarmee moet ek gaan?
Manasse, die armste familie, kan niks verdien
en van die kinders het ek die minste aansien. (Rig 6:14-15)

Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan
asof daar nie meer as een van hulle bestaan. (Rig 6:14-16)

Gee my ‘n teken dat ek kan weet U is die Heer.
‘n Vuur uit die rots het die vleis en brood verteer. (Rig 6:17-21)
Ek het die Here van aangesig tot aangesig gesien!
My altaar se naam is: Die Here gee rus wat ek nie verdien. (Rig 6:22-24)

Breek af die altaar vir Baäl
en bou my altaar soos Ek bepaal,
sodat jy jou met my versoen.
Gideon het dit in die nag gedoen… (Rig 6:25-27)

Die Gees van die Here het Gideon gevul
en hy het hom met vegters omhul. (Rig 6:34)
Twee en dertig duisend aan sy sy (Rig 7:1-7)
moes honderd vyf en dertig duisend onderkry. (Rig 8:10)

Ek sal weet dat U ons wil red
as die vlieswol dou op het…
Word asseblief nie vir my kwaad,
maar doen ook die omgekeerde daad.
God het die wol droog gehou
maar op die grond was daar dou! (Rig 6:36-40)

Gideon en al sy manne het kamp opgeslaan,
maar God sê jy moet die volgende verstaan:
As jy so baie manne by jou het
gaan jy sê: Ek het myself gered. (Rig 7:1-2)

Die manskappe wat van vrees bewe
kan terugdraai na hul huislike lewe.
Twee en twintig duisend het gegaan,
tien duisend het bly staan. (Rig 7:2-3)

Net driehonderd manne het gedink
en nie haastig gekniel om te drink.
Met hulle sal Ek jou vyand verslaan –
laat die ander huis toe gaan! (Rig 7:4-7)

Gaan die vyand se kamp in te voet,
luister wat hulle sê en kry moed. (Rig 7:9-12)

Ek het gedroom van ‘n ronde brood:
God gee Midian vir Gideon om te dood!
My slaaf, Pura, het jy dit gehoor?
God gee die vyand in ons mag oor. (Rig 7:13-15)

Toe leë erdekruike breek
en fakkels word aangesteek,
toe ramshorings die stilte versteur,
skreeu hul: Vir Gideon en vir die Heer! (Rig 7:16-20)

Ook ons is kleipotte wat maklik breek,
maar God het ‘n lig in ons harte aangesteek.
Hy wil dat ons die stilte versteur
en skreeu: Ek veg vir die Heer! (II Kor 4:6-7,10)

Die kamp het geskreeu en op vlug geslaan
God het dit bewerk dat hul mekaar verslaan. (Rig 7:16-20)

Sebag en Salmunna het Gideon gedaag
“Lê ‘n man se krag in homself?”, was hul vraag.
Gideon het opgestaan en hulle doodgemaak
en die kamele se maanversierings syne gemaak… (Rig 8:18-21)

Die Israeliete het vir Gideon gesê:
“Jy moet oor ons regeer.”
Dis verkeerd wat julle wil hê:
Die een wat regeer is onse Heer! (Rig 8:22-23)

Ek vra julle egter net een ding
van jul buit gee my elke oorring.
Gideon het ‘n efodbeeld van die goud gemaak
en dit het vir hom en sy mense ‘n valstrik geraak. (Rig 8:24-27)

Swakke leser, God roep jou om vir Hom te werk.
Wees bly, want juis as jy swak is, is jy sterk. (II Kor 12:9-10)
Maar as jy deur God se krag dan slaag,
pasop – dis juis dan wanneer versoekings knaag…

Ook ons is kleipotte wat maklik breek,
maar God het ‘n lig in ons harte aangesteek.
Hy wil dat ons die stilte versteur
en skreeu: Aan Hom die eer! (II Kor 4:6-7,10)