Dit was weer tyd vir ‘n Joodse fees,
so Jesus was in Jerusalem gewees.
Hy kom toe by ‘n bad, met Betesda as naam –
Blindes, kreupeles en lammes lê daar saam. (Joh 5:1-3)
‘n Sekere man was al siek vir agt en dertig jaar.
“Wil jy gesond word?” vra hy, toe hy hom gewaar.
Meneer, ek het niemand om my in die bad te plaas,
ander gaan in, terwyl ek skuifelend daarheen haas. (Joh 5:5-7)
Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”
Oombliklik is hy genees en het hy sy goed opgetel en geloop.
“Dit is ‘n Sabbatdag – jy weet jy mag nie jou goed dra!”
het die Jode gesê en na die geneser se identiteit gevra. (Joh 5:8-12)
Die man het nie geweet wie het hom gesond gemaak,
want Jesus het tussen die baie mense weggeraak.
Later in die tempel kry Jesus hom toe weer:
“Moenie verder sondig, anders gaan iets erger gebeur. (Joh 5:13-14)
Die Jode het teen Jesus in opstand gekom,
Maar sy antwoord het hulle verstom:
“My Vader werk elke dag, tot nou
Ek ook, dis hoekom Ek nie Sabbat hou.” (Joh 5:15-17)
“Die dood is die oordeel wat ons fel
as jy jou met God gelyk wil stel.”
“Die Seun kan net doen dit wat hy van die Vader sien.
Die Vader het die Seun lief en wys hoe Hy moet dien. (Joh 5:18-20)
Soos die Vader dooies lewend maak,
so is dit ook die Seun se wil en taak.
Om oordeel te fel is nie die Vader se daad –
Hy het dit geheel en al aan die Seun oorgelaat. (Joh 5:21-22)
Almal moet die Seun eer
net soos hulle die Vader eer.
Wie luister en glo wat ek sê,
kan die ewige lewe nou hê.
Hy sal nie voor God veroordeeld staan,
maar het van dood na lewe oorgegaan. (Joh 5:23-24)
Daar kom ‘n tyd en dit is nou – nie daar voor,
wanneer dooies die stem van God sal hoor.
Die wat daaraan gehoor gee, sal die lewe kry.
Net soos die Vader lewe in Homself, geld dit vir My. (Joh 5:25-27
Moet julle nie verbaas: Daar lê ‘n tyd voor
wanneer almal in die grafte Sy stem sal hoor.
Die wat goed gedoen het sal opstaan en ewig lewe,
die wat verkeerd gedoen het, sal onder oordeel bewe. (Joh 5:28-29)
Ek het in die Naam van my Vader gekom –
julle aanvaar My nie, en verwerp so Hom.
Die rede hoekom julle nie kan glo,
al lees julle die Skrif, is so: (Joh 5:39-42)
Julle is gesteld daarop dat mense julle eer
in plaas van die eer van die enigste Heer.
Julle dink julle gaan die ewige lewe in Moses se geskrifte kry,
maar julle verstaan en glo nie: Hy skryf juis oor My!” (Joh 5:39, 44-47)
Leave a Reply