Gee iemand vir my om?

Job:
Luister na my en gee vir my om
Kyk na my en staan verstom.
Waarom mag ek nie my ongeduld betoon –
Ek kla by God sonder om Hom te verloon? (Job 21:1-5)

Die goddeloses se lewensbestaan:
Waarom word hulle ryk en vernaam?
Vrede, voorspoed en vrugbaarheid –
om God te dien is sinloosheid. (Job 21:6-15)

Van hulle bly ek eerder op ‘n afstand,
want hulle voorspoed is nie in hul hand.
Sal enige van ons kan raai
wanneer God hulle soos stoppels weg gaan waai? (Job 21:16-21)

Sou iemand vir God iets kon leer,
vir Hom wat selfs die sterkstes regeer?
Die een mens sterf in sy volle krag,
die ander het in swaarkry daarop gewag. (Job 21:22-25)

Job:
Hoe kan julle my met sinlose praatjies troos?
Julle slim argumente maak my net broos… (Job 21:27-34)
Elifas:
Daar is ‘n rede vir jou wonde:
daar is geen einde aan al jou sondes (Job 22:1-5)

Jy het selfs jou eie familie se goed gevat.
Jy het kos en water geweier vir dié oppad.
Jy het weduwees met leë hande weggestuur,
daarom verswelg vloedwaters jou in dié uur. (Job 22:6-11)

Hoog in die hemel is God ons Heer,
uit die donkerte is dit Hy wat regeer.
Daar bo is Hy met wolke omring,
so hier op aarde sien Hy nie ‘n ding. (Job 22:12-14)

Dis wat met die goddelose gebeur:
Hulle word deur ‘n stroom meegesleur.
Die regverdige kan sien en verstaan
dat die goddelose altyd ondergaan. (Job 22:15-20)

Onderwerp jou aan God en lewe goed,
dan kry jy vrede en voorspoed.
As jy goud as nikswerd beskou,
dan sal God sy beloftes onthou. (Job 22:21-30)

My kind, het jy ‘n vriend in nood
of selfs iemand naby aan die dood?
Moenie Elifas se voorspoedsgodsdiens preek,
dit sal jou vriend se hart net breek.

Al wat hy vra is dat jy sal luister
as hy in swaarkry vir jou fluister.
Hy vra dat jy hom sal sien
en besef dat hy dit nie verdien.

Sit dan eerder net langs sy bed
en word saam stil in gebed.
Wees dan saam gerus, My kind:
Die wolke om My maak my nie blind!


Posted

in

by

Tags:

Comments

Leave a Reply