Site icon Tot U eer

GEDIGTE UIT PSALMS

Psalms oorsig

Psalms is ‘n wonderlike boek,
dit besing die lewe uit elke hoek.
Paar voorbeelde:
Jy kry daar profetiese stof
en heelwat gedigte vol lof.
Psalm 47, 93, 96, 97, 98 en 99
Psalm 100, 103 , 135, 13, 146-150
Die Woord besing in Wysheidspsalm.
Vloek word ook in party weergalm.
Psalms 1, 32, 34, 37, 49, 73, 112, 119, 127, 128, 133 en 139
Psalms 35, 58, 69, 83, 109 en 137
In sommige word sonde bely.
Klaag en verdriet sal jy ook kry.
Dawid 32, 51
Individu 3, 6, 7, 13, 22, 38, 39, 42, 51, 61, 63, 86, 102 en 130. Volk 44, 60, 74, 79, 80, 83
Fees en pelgrimslied in vertroue,
want deur geskiedenis hul behoue.
Pelgrim 120-134, Feesdae 113-118
Skepping vertel in psalms 19, 29, 33, 65, 74, 104, 136, 139, 147 en 148, Kronologies Psalms 8, 78, 105, 106, 135 en 136, Gebeure psalm 44, 47, 60, 68, 77, 80, 81, 99, 106, 108, 114, 135 en 136

Groot treë deur Psalms

As jy detail gedigte soek,
gaan lees jou Psalmboek.
Ek kan nie die vol boodskap gee:
Stap saam hierdeur met enkel treë.

“O Heer en Gees, sal U my lei
dat ek die regte vers sal kry.
Maar vergewe my, o Heer,
as ek hier iets verkeerds probeer…”

Dit gaan goed as ek op U Woord steun Ps 1:1-2
Hy beloof: Ek is jou Vader, jy is My seun. Ps 2:7
U beskerm my van voor Ps 3:4
as Ek roep, sal U my hoor. Ps 4:4

My oggendgebed het op U vertrou: Ps 5:4
Help, my want U is getrou. Ps 6:5.
Sal U my beskerm o Heer? Ps 7:2
Kinders en suigelinge sing to U eer! Ps 8:3

U is regter in U woning. Ps 9:5,9
Die Here bly altyd Koning. Ps 10:16
Op Sy troon met hemelse gesag Ps 11:4
U Here, hou oor my wag! Ps 12:8

Hoe lank nog in die vyand se hand? Ps 13:3
God is aan regverdiges se kant. Ps 14:5
Wie kan toegang tot U woonplek kry? Ps 15:1
‘n Deel is afgemeet vir my!! Ps 16:6

Soos die appel van U oog het U my beskerm, Ps 17:8
U het uit die hemel afgebuig en U oor my ontferm. Ps 18:10,30
Die hemel en aarde getuig van God se mag, Ps 19:2
uit die hemel verhoor U my gebed vir krag. Ps 20:7

Die koning sal sy vertroue op die Here laat. Ps 21:8
My God, my God, waarom het U my verlaat? Ps 22:2
Die Here is my herder, moet jy verstaan, Ps 23:1
daarom kan ek saam deur die poorte gaan! Ps 24:3,7

Leer my U pad, maak U wil aan my bekend. PS 25:4
Ek laat my lei deur U liefde en trou, Ps 26:3
die Here is my lig op wie ek vertrou. Ps 27:1
Die Here beskerm die wat hulle na Hom wend. Ps 28:7

Magtig is die stem van die Heer. Ps 29:4
U red, daarom sing ek tot U eer. Ps 30:4,5,13
In U hande gee ek my lewe oor: Ps 31:6
U het my sonde belydenis gehoor Ps 32:5

Deur die natuur kan jy God se almag sien. Ps 33:4-17
Kom kinders, ek wil julle leer hoe om God te dien. Ps 34:12
Ek sal U voor die hele gemeente prys, Ps 35:18
oor U trou wat tot by die wolke rys. Ps 36:6

Wees rustig: Die skurke sal soos gras vergaan. Ps 37:2,3
Deur my eie sonde is my lyf geslaan. Ps 38:4
U alleen is my hoop en U sorg vir my. Ps 39:8,13
“Nie offers, maar gehoorsaamheid” vra Hy. Ps 40:7

Maak my tog gesond, o Heer… Ps 41:5
Soos ‘n wildsbok smag om water te kry, Ps 42:1
vra ek dat U lig en waarheid my lei, Ps 43:3
U ken my geheime en seer… Ps 44:22

Ek dra my gedig voor aan die Koning, Ps 45:2
Hy is my hulp en toevlug in die nood. Ps 46:2
Oor die hele aarde is Hy Koning, ja só groot. Ps 47:3
Hier op Sionsberg is Sy stad en woning. Ps 48:2,3

Loskoop uit die mag van die dood? Net God alleen! Ps 49:16
“Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” Ps 48:15
Was my skoon van my skuld, o Heer Ps 51:4,11
Die goddelose wil op eie rykdom steun, Ps 52:9
Daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een. Ps 53:4

Ek bid, want ek gaan teen die vyande verloor. Ps 54:4,5
God, wat van ewigheid af regeer, sal hoor! Ps 55:20
Ek is nie bang, want op God kan ek vertrou: Ps 56:12
Tot by die wolke reik Sy liefde en trou! Ps 57:11

Daar is tóg ‘n God wat reg laat geskied. Ps 58:12
Vir U, my veilige vesting, sing ek die lied. Ps 59:17,18
Met God aan my kant sal ek die vyand nie vrees: Ps 60:14
U bring my op ‘n rots waar ek veilig sal wees. Ps 61:3

Net by God word ek rus gegewe: Ps 62:1,6
U troue liefde is meer werd as die lewe! Ps 63:4
O God, my toevlug, hoor my as ek kla. Ps 64:2,11
U sorg dat die land in oorvloed dra. Ps 65:10

Hoe ontsagwekkend is U werk, o Heer – Ps 66:3
alle mense op die hele aarde moet U eer! Ps 67:8
Hef ‘n loflied aan om Hom eer te betoon. Ps 68:33,34
Sy nasate sal in die land bly woon. Ps 69:37

Ek is hulpeloos en arm, gee my raad. Ps 70:6
Ek is oud en grys, moet my nie verlaat… Ps 71:18
Geloofd sy die magtige God, die Here: Ps 72:18
In die einde sal U my by U opneem, in ere! Ps 73:24

O God, ek kan die swaarkry nie verstaan Ps 74:1,310,11
God: ”Ek sal die goddelose verslaan!” Ps 75:11
As U uit die hemel antwoord, bly ek sku Ps 76:9
Waar is ‘n God so groot soos U? Ps 77:14

Ek het bly sondig ten spyte van U wonderdaad… Ps 78:32
Hoe lank nog, o Here, bly U kwaad? Ps 79:5
Ek is ‘n verlate wingerdstok sonder ‘n muur. Ps 80:9,13
As ek bly voorgee gaan die straf ewig duur… Ps 81:16

In duisternis gaan almal aan: Ps 82:5
O God, moet nie afsydig staan! Ps 83:2
Hoe lieflik is U woning, Heer: Ps 84:2
Laat ons U troue liefde leer. Ps 85:8

Sal u die waarheid se pad my leer? Ps 86:11
Maak my ook ‘n Sionskind, o Heer. Ps 87:6
Kan ek op U wondermag vertrou? Ps 88:13
Die hemel loof U wondermag en trou! Ps 89:6

U was ‘n toevlug van geslag tot geslag. Ps 90:1
Ek is nie bang vir die gevaar in die nag. Ps 91:5
Dit staan vas: U sal altyd regeer. Ps 92:9,10
Ja, vas: Van altyd af is U daar, o Heer! Ps 93:2

Kom Regter van die aarde – ons het seer… Ps 94:2,5
Ek kniel voor U, die Skepper: Aan U die eer. Ps 95:6
By U heilige verskyning buig ek neer. Ps 96:9
Die aarde moet juig: Die Here regeer! Ps 97:1

Juig en sing ‘n nuwe lied tot Sy eer: Ps 98:1,4,5
U, o God, is heilig: hoog verhewe. Ps 99:2,3
Juig al wat leef, juig voor die Heer. Ps 100:1
Ek wil my daaraan wy om opreg te lewe. Ps 101:2

U heers vir altyd, ja van geslag tot geslag. Ps 102:13
Onverganklik U liefde vir die wat op U wag. Ps 103:17
U is met ‘n kleed van lig omhul. Ps 104:2
U sal U verbondsbeloftes vervul. Ps 105:10,42

U hoor my smeekbede uit genade. Ps 106:44,45
Ek sien daagliks die trou van U dade. Ps 107:42,43
Met God aan my kant sal ek oorwin: Ps 108:14
Ek is hulpeloos en arm – my hart krimp in… Ps 109:22

U is die Koning wat oor die wêreld regeer. Ps 110,,5,6
Wysheid begin met die dien van die Heer. Ps 111:10
Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien, Ps 112:1
Hy wat in die hemel woon en alles hier sien. Ps 113:5,6

Bewe, aarde, as die Here verskyn! Ps 114:7
Nie aan my nie, maar aan U die eer: Ps 115:1
U het ‘n einde gemaak aan my pyn. Ps 116:8
Ja, daar is geen einde aan U trou o Heer! Ps 117:1

Die Here is by my – ek ken geen vrees: Ps 118:6
Ek wil gehoorsaam aan sy gebooie wees! Ps 119:5,13,40,44,72,97
Al kom die vyand se pyle soos kole aan, Ps 120:4
die Here beskerm my waar ek ookal gaan. Ps 121:8

Ek vat weer ‘n pelgrimstog na U huis, Ps 122:1
my slaafsoë is op U gerig, om my te wys: Ps 123:2
Om die wip van die voëlvanger te vermy Ps 124:7
ja, soos Jerusalem se berge beskerm U my! Ps 125:2

Ek kan nou lag en sing: “U het my bevry. Ps 126:1,2,3
As U die huis nie bou nie, swoeg ek verniet! Ps 127:1
Die vrug van my arbeid sal ek geniet. Ps 128:2
Die goddelose se bande is losgesny!” Ps 129:4

Ek wag op die vervulling van U Woord. Ps 130:5
Wagtend, soos ‘n kind, sal ek vrede in U arms vind. Ps 131:2
Uit Dawid se geslag bring U verlossing voort, Ps 132:11,12
daarom leef ons afwagtend eensgesind. Ps 133:1

Laat Heer U seën op ons daal, Ps 134:3
U wat hemel en aarde uitmekaar kan haal. Ps 135:6
Aan U liefde is daar geen end. Ps 136:1,2,3,4…
Maak U krag ook hier in Babel bekend! Ps 137:1,8

Ek kry krag as ek in gebed na U toe gaan. Ps 138:3
Of ek sit en of ek staan, U weet waar ek gaan. Ps 139:1,2,3
Help my om nie in goddelose strikke te val. Ps 140:5,6
Bewaar my gedagtes dat ek nie in sonde verval. Ps 141:4

Ek smeek om genade, Here hoor: Ps 142:2
Ek het alle moed verloor! Ps 143:4
U is my veilige vesting wat my red. Ps 144:2
Genadig hoor U my gebed! Ps 145:19

Prys die Heer met bly galme Ps 146:2
in genot sing ek my psalme! Ps 147:1
Prys Hom engele, prys die Heer, Ps 148:2
ek sing ‘n nuwe lied tot Sy eer. Ps 149:1,3
Prys hom almal wat asem haal, Ps 150:6
prys Hom met galmende simbaal! Ps 150:5

Die pad van die lewe (Psalm 16)

Kernvers:
Vers 11
U wys die pad van die lewe vir my uit:
Oorvloedige vreugde in U teenwoordigheid.
Lieflikhede uit U regterhand uit
en dit hou aan vir altyd!

STAP 1 van die pad van die lewe:
Oorvloedige vreugde in U teenwoordigheid.

Vers 9-10
Daarom is my hart bly,
ja, my liggaam sal veilig bly.
Dis ‘n innerlike blydskap, onverdien,
want my lewe sal die doderyk nie sien.

Hand 2:22-32
Petrus haal die psalm aan
en help ons om te verstaan,
dat die hier oor Jesus gaan –
Hy het uit die dood opgestaan!

Hy het die dood vir ons oorwin,
daarom maak oorvloedige vreugde sin.
Ja in Sy teenwoordigheid,
in alle ewigheid!

Stap 2 van die pad van die lewe:
Lieflikhede uit U regterhand uit.

Handelinge 2
Hy sit aan God se regterhand
en bestuur so alle gebeure in elke land.
Alles wat in my lewe gebeur,
is heeltemal in Sy beheer.

Verse 7-8
U is alomteenwoordig,
op U hou ek my oë gerig.
U is aan my regterkant,
daarom struikel ek nie uit U hand.

Verse 5-6
My erfdeel en beker se lot is deur U bepaal.
My erfenis is mooi en deur U betaal.
Die meetsnoere het in lieflike plekke geval.
Dit gaan hier oor meer as die nageslag se getal:

Vers 2
U is my Heer!
Buiten U, het ek geleer,
is daar niks goeds vir my –
die grootste Skat wat ek kon kry!

Stap 3 van die pad van die lewe:
Vir altyd!

Die pad van die lewe gaan vir altyd aan,
‘n tydperk bo my verstaan,
Vir altyd in U teenwoordigheid,
vir ewig lieflikhede uit U regterhand uit!

Ja, U wys die pad van die lewe vir my uit:
Oorvloedige vreugde in U teenwoordigheid.
Lieflikhede uit U regterhand uit
en dit hou aan vir altyd!

U stem, o HERE (uit Psalm 29)

Ek buig in aanbidding voor U HERE, se glansryke heerlikheid.
Ek erken U as HERE, soos Moses met my skoene uit…
Ek erken, HERE, dat U majesteit en krag groot is.
Ek erken, HERE, die majesteit van U Naam.

U stem, o HERE, kom oor magtige waters heen.
U stem, o God van majesteit laat dreun.
U stem, o HERE, geen krag is daaraan gelyk.
U stem, o HERE, geen ding is so glansryk.

U stem, o HERE, kan seders breek.
Libanon se seders versplinter as U spreek.
Reuse bome wat soos ‘n kalf bokspring.
Sirjon se bome word soos buffels gedring.

U stem, o HERE, laat vlamme lewe.
U stem, o HERE, laat die woestyn bewe.
U stem, o HERE, laat terebint bome sidder,
dit laat bosse kaal in die koue bibber…

U hele paleis roep uit:
Heerlikheid, Majesteit!

U HERE, troon en heers oor die vloed,
U HERE, is vir ewig koning oor alle goed.
Alle krag wat ek het: U HERE, is die rede.
O HERE, seën my nou met U vrede.

Psalm 37 vir vandag

Die Amerikaanse verkiesing het almal op hol.
Uitsprake in ons eie land laat bloed in jou are stol.
Korrupsie in die regering in aan die orde van die dag.
Vir die gewone burger lyk dinge donker soos die nag…

Moet jou nie oor skelms en skurke bekommer,
soos gras en groenigheid verdwyn hul sommer.
Vertrou op die Heer se beloftes in Sy Woord!
Doen goed, woon en werk rustig voort.
Vind jou vreugde in jou Heer –
Hy sal jou gee wat jy begeer. (Ps 37:1-4).

Mens lees op Facebook hoe mense vertel
hoe die voorspoed van die skelms hul ontstel…
Party soek paniekbevange raad,
ander word weer net kwaad…

Maar die psalm wil jou laat onthou:
Jy moet in stilte op die Heer vertrou.
Laat staan die woede, moet jou nie ontstel,
dit bring net ellende as jy jou so kwel.
Eendag is al die skelms van kant,
maar jy deel in die beloofde land… (Ps 37:7-11)

Ekstremes dreig om jou dood te maak
Plaasmoorde laat boere beangs waak…
Nog ‘n mislukte oes verdroog,
maar goddeloses lewe hoog!

Die goddelose soek die regverdige se lewe
Die Here lag, want Hy weet eendag sal hul bewe…
Dis beter, al het die regverdige min,
as die rykdom wat goddelose in.
Die vyand van die Here sal tot niet gaan,
maar jy sal in nood nie verleë staan. (Ps 37: 12-20)

Staatsgeld vir eie gewin.
Tenders hul kinders sin.
Leen, maar nooit betaal.
Gierigheid op ‘n ander skaal!

Die goddelose leen en betaal nie terug,
die regverdige kry jammer en help die wat sug.
Die Here roei hulle uit wat Hom vervloek,
maar Hy seën die wat na Hom soek.
Die goeie leen uit, maar wil nie rente hê,
as hy val, sal God nie dat hy bly lê! (Ps 37:21-26)

Gewelddadiges soek om dood te maak.
Ander vat jou hof toe oor hul saak.
Oor elke negatiewe nuus berig,
hang moedeloosheid in die lug.

Die goddelose lê die regverdige voor,
want hy wil hulle vermoor…
Maar God laat hom nie begaan,
selfs as hy in die regbank moet staan.
Die regverdige kan met wysheid praat,
want God se Woord bepaal sy daad. (Ps 37:27-33).

Die wettelose mense bly so vervuil
dat mens skoon in jou hande wil huil.
Gewone mense laat die reëls ook nou staan
want dis om te oorleef – kan jy nie verstaan?

Die Here sal jou weer laat opstaan in die land,
al skiet roekeloses op soos ‘n plant.
Vir die opregte is daar ‘n ewige weg,
die toekoms vir die goddeloses is sleg…
Skuil by Hom wat help en bevry,
want jy sal die ewige lewe kry! (Ps 37:34-40).

So jy wat so graag op Facebook blaai
en met al die “likes” paniek verder saai.
Miskien moet jy eerder gaan soek
vir jou hulp in God se Boek:

Moet jou nie oor skelms en skurke bekommer,
soos gras en groenigheid verdwyn hul sommer.
Vertrou op die Heer se beloftes in Sy Woord!
Doen goed, woon en werk rustig voort.
Vind jou vreugde in jou Heer –
Hy sal jou gee wat jy begeer. (Ps 37:1-4).

Krag vir die nag (Ps 46, 2020)

O God, Heerser oor elke mag,
ek bring my vrees na U vandag.
Ukraïne, geweld, armoede en Covid wêreldwyd,
natuurrampe, ja, Here, alles tekens van die tyd.

My kind, jy gaan jou verstom,
oor wat binnekort nóg kom:

Die hele aarde gaan skud,
waters woed, skuimend wit
berge gaan wankel en meegee
tot in die hart van die see! (Ps 46:3-4)

Here as alles nog erger gaan loop,
waarop plaas ons dan ons hoop?

Ek gaan help as die oggend aanbreek,
dan het ek my reeds op jou vyande gewreek.
Vir ewig sal jy in My heilige woonplek bly.
Vreugde uit My rivier se watervore kry. (Ps 46:5-7)

O God, waar kry mens dan krag
vir hierdie laaste stukkie donker nag?

Ek is die bron van jou krag! (Ps 46:2)
Kyk na die dade van jou Heer:
Ek, die een wat oorloë beheer. (Ps 46:9-10)
Ek is die Heerser oor alle mag. (Ps 46:6,12)

O God, vir dit wat kom is ek nog benoud,
waarheen kan ek vlug vir my behoud?

Roep My aan met vertroue My kind:
In benoudheid kan jy My altyd vind. (Ps 46:2)
Ek is by jou, ja altyd daar, (Ps 46:2,6)
jou Skuilplek in gevaar! (Ps 46:1)

My eie dinge lyk so uit beheer,
sal ek kan staande bly, o Heer?

Bo die nasies is ek verhewe,
Bo die aarde is ek verhewe.
Jy moet my woorde aanvaar en
erken dat ek God is en bedaar. (Ps 46:11)

O Here, Heerser oor alle mag,
U is die bron van al my krag.
In benoudheid het ek U hier by my gevind.
Ja, U is My toevlugsoord, en ek U kind! (Ps 46:2,12)

‘n Prewelende gebed uit Psalm 71

Here, U is ‘n berg skuiling wat my omvou (Vers 3).
Van my jeug af kon ek op U vertrou.
U het my losgeknip uit my moeder se ingewand,
van toe af steun ek op U beskermende hand (Verse 4-5).

Moet my nie in my ouderdom versaak,
my verlaat as my krag al minder raak (Vers 9).
Al word ek nou baie broos,
vra ek dat U my sal troos (Vers 21).

Met voortdurende hoop bly ek sing,
my mond wil net lof aan U bring,
want U verlossingsdade is meer as wat ek kan tel,
ek sal die hele dag van U geregtigheid vertel (Verse 14-15).

U het my van my jeug af geleer,
U wonderdade word net meer en meer.
In die grysheid en ouderdom moet U my nie verlaat,
totdat ek aan die nageslag kan getuig van U daad: (Vers 18).

Ek wil U dank vir U heiligheid.
Ek wil jubel oor U getrouheid.
Ek prewel oor U geregtigheid,
al kom die klanke nou moeilik uit… (Vers 22).

Die pelgrim (Psalm 120 – 134)

Oppad na die ewige Jerusalem,
is ek ‘n pelgrim, hoor my stem:

As vreemdeling het ek geleer (Psalm 120)
dat ek U ewige vrede begeer.

Ek stap tussen gevaarlike berge deur, (Psalm 121)
my hulp kom net van die Heer!
Hy beskerm my teen gevaar,
dag en nag sal Hy my bewaar.

My eindpunt is die huis van die Heer, (Psalm 122)
daar wil ek Sy naam loof en eer!

My oë is gerig op U o God, (Psalm 123)
ontferm U tog oor my lot…

Die Here het my gehelp, ek bely: (Psalm 124)
Uit die wip van die voëlvanger bevry.

Sionsberg kan nie beweeg of vergaan, (Psalm 125)
net so vas moet my vertroue staan.
Soos berge Jerusalem omvou,
so beskerm die Here my nou.

Terwyl ek met trane loop en saai, (Psalm 126)
weet ek die gerwe sal juigend waai.

As die Here my huis nie bou (Psalm 127)
swoeg ek tevergeefs daaraan nou.
Tevergeefs om daagliks te raap en skraap:
Vir die wat Hy liefhet gee hy dit in hul slaap!

Dit gaan goed met die wat die Here dien, (Psalm 128)
die vrug van jou arbeid sal jy sien.
‘n Vrou en kinders word vir jou geleen,
as deel van God se vrugbaarheidseën.

En word ek deur die wêreld verdruk, (Psalm 129)
sal God my uit die bande losruk.

Uit die dieptes roep ek, o Heer, (Psalm 130)
U vergifnis is wat ek begeer.
As U my sonde sou gadeslaan
sou ek glad nie meer bestaan!

In vertroue by ek op U wag,
want U beloftes bly van krag.
Die Here is in liefde getrou:
Verlossing van sonde kry ek nou!

In die aardse stryd moes ek leer: (Psalm 131)
Oor groot dinge bekommer ek nie meer.
Soos in my ma se arms as kind,
moet ek rus en kalmte vind.
Op dié manier kan ek elke dag
in vertroue op die Here wag!

As pelgrim moes ek verstaan, (Psalm 132)
dat alles oor U ewige woning gaan.

Nou kan broers in eensgesindheid bly (Psalm 133)
en so die koninklike salwing kry.

Ek hef my hande op in gebed: (Psalm 134)
Net U seën, o Skepper, sal my red!

En jy, pelgrim, wanneer gaan jý leer
wat dit is wat jy regtig begeer?

En jy, pelgrim, wanneer gaan jý leer
wat dit is wat jy regtig begeer?

Lof: liefde in die more, trou in die aand (Psalm 92)

Dis ‘n vreugde om lof tot die Here te bring,
ja, die Allerhoogste se naam te besing,
om elke more van U liefde te getuig
en elke aand oor U trou te juig. (Ps 92:2-3)

Elke oggend as ek opstaan,
kan ek van voor af verstaan:
U het uit die graf ontwaak
en so dit vir my ook moontlik gemaak! (Joh 20:1, I Kor 15:12)

So wil die regop been van die kruis
weer die opstanding uit die dood uitwys:
U het van onder na bo opgevaar
en berei vir my ook ‘n plek daar!

Elke aand moet ek weer bely:
“Sonde het my weer onder gekry…”
Maar in dankbaarheid kan ek onthou
U bly altyd aan U beloftes getrou.

So wil die dwars been van die kruis
die vergifnis van my sonde vir my wys:
Soos jy die afstand tussen oos en wes nie kan kry,
so ver verwyder deurboorde Hande my sonde van my! (Ps 103:12)

Dis ‘n vreugde om lof tot die Here te bring,
ja, die Allerhoogste se naam te besing,
om elke more van U liefde te getuig
en elke aand oor U trou te juig. (Ps 92:2-3)

Die ballingskap uit Psalms

Vir U wingerd het U die nasies uitgedrywe
en het U ons as stok geplant vir druiwe. (Ps 80:9)
Ons wortels het gegroei onder U seën (Ps 80:10).
en het aan die berge sy skadu verleen. (Ps 80:11)

Waarom het U ons mure afgebreek? (Ps 80:13)
Verbygangers kan hulle toe wreek. (Ps 80:13)
Ons is soos ‘n onkruid verbrand – (Ps 80:17)
Hou tog oor U uitverkorenes U hand… (Ps 80:18)

Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot?
Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort? (Ps 74:1)
U het ons lank gelede as besitting verkry.
Dink tog aan ons en maak ons vry! (Ps 74:2)

Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek,
U woonplek is tot op die grond afgebreek… (Ps 74:7).
Lyke van u dienaars is aan voëls gegee om te vreet,
die vleis van U troue dienaars is deur wilde diere geëet. (Ps 79:2)

Hoe lank nog, o God, wil ons weet,
maar daar is nie meer ‘n profeet… (Ps 74:10)
Sal U toorn dan vir altyd duur,
U woede bly brand soos ‘n vuur? (Ps 79:6)

Waarom lig Hy nie Sy hand
en vernietig hierdie vyand? (Ps 74:11)
Die heidene sê: “Waar is hulle God nou?”
Laat ons tog hulle straf aanskou. (Ps 79:10)

By die riviere van Babel, so blink
vloei ons trane as ons aan Sion dink. (Ps 137:1)
Hulle vra: Sing vir ons ‘n lied.
Hoe kan ons dit doen in verdriet? (Ps 137:3,4)

Die profeet Esegiël het ons geleer:
Ons moet besef wie is die Heer
Daarom kan ons weer sing,
Ja, in swaarkry aan Hom die hulde bring:

God is van altyd af my koning,
Hy red hier op aarde, uit sy woning. (Ps 74:12)
Selfs die monster van die see
word verpletter en vir haaie gegee. (Ps 74:13)

U hou die fonteine en riviere in stand (Ps 74:15)
Somer en winter is die werk van U hand. (Ps 74:17)
U wat die oorsprong van dag en nag weet – (Ps 74:16)
moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet (Ps 74:19)

Die hele land is verwond –
dink tog weer aan U verbond! (Ps 74:20).
Help ons, o God, ter wille van U eer
vergewe ons, ons sondes, nog ‘n keer. (Ps 79:9)

My vreugde in U Woord (Ps 119)

Maak die gedig in PDF oop.

PDF DIGBUDEL : JOSUA

Jy kan hierdie gedigte in PDF aflaai.

Exit mobile version