Onsedelikheid (I Kor 5:1-13 en 6:12-20).
Paulus antwoord dit wat die Korinthe vra:
Die vraagstuk hier is hoe om jou sedelik te gedra.
Die Korinthe het hul in onsedelikheid begeef
‘n man en sy stiefma het as egpaar saamgeleef (I Kor 5:1-2).
Sulke mense moet julle onder julle uitveeg.
‘n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg! (I Kor 5:6)
Julle kan nie uit hierdie wêreld padgee,
maar met onsedelikes saamleef? Nee!
Veral nie die wat hulleself gelowiges noem…
Jy moenie oordeel, God self sal hulle verdoem! (I Kor 5:9-13)
Jou liggaam is nie bedoel om die seksuele te begeer.
Dis die Here se liggaam, jy moet Hom daarmee eer! (I Kor 6:13b)
Jou liggaam is ‘n tempel van die Gees.
Laat jou lewe dan ook só wees.
Jou lewe vertel die verhaal:
Jy is duur gekoop en betaal! (I Kor 6:18-20)
Gewetensake (I Kor 8-10).
As jul in gewetensake mekaar nie verstaan,
pak dit in ‘n gesindheid van liefde aan. (I Kor 8:1).
Paulus, kan ons afgod vleis wel eet?
Dis nie almal wat die waarheid weet: (I Kor 8:7).
Daar is net een God, moet jy verstaan. (I Kor 8:2)
Dis nie deur kos wat jy nader aan Hom gaan.
Jy wen of verloor niks deur wat jy eet, (I Kor 8:8)
maar in jul verskil, moenie liefde vergeet!
Jy is nou wel van die wette vry,
moet net nie ander daarin na sonde lei! (I Kor 8:9)
As jy ‘n las op ‘n swak gewete sit,
moet jy vir jou sonde bid.
Ja, jy wat al van beter weet,
moet dan eerder nie afgod vleis eet. (I Kor 8:13)
Ter wille dat hulle die evangelie hoor,
moet jy eerder die argument verloor. (I Kor 9:22)
Oor eet en drink wil ek leer:
Doen dit tot God se eer! (I Kor 10:31)
Gawes (I Kor 12,14).
Dis die Gees wat die gawes gee. (I Kor 12:4,11)
Die Here gee opdragte daarmee. (I Kor 12:5)
God bring die kragtige werkinge in stand. (I Kor 12:6)
Dis tot voordeel vir almal in die land. (I Kor 12:6)
Ons is almal een liggaam,
so werk al die gawes saam. (I Kor 12:14, 27)
As een van die lede ly,
is die ander nie daaroor bly. (I Kor 12:26)
Is almal ‘n leraar of profeet? (I Kor 12:29)
Nee, oor jou gawes moet jy weet:
Hierdie gawes is nie vir jou,
streef daarmee om ander te bou! (I Kor 14:12)
Die liefde (I Kor 13).
Praat in tale sonder liefde,
is soos ‘n klinkende metaal
en ‘n galmende simbaal.
Al het ek al die kennis geleer,
en ek het geloof in die Heer,
is ek niks sonder die liefde.
Al gee ek alles wat ek het weg,
selfs my liggaam, is dit sleg
en baat dit niks sonder liefde.
Liefde is…
geduldig
en vriendelik.
Maar nie…
afgunstig,
grootpraterig,
verwaand,
onwelvoeglik,
en liggeraak.
Liefde soek nie eie belang,
hou nie boek van die kwaad,
vind vreugde in waarheid praat.
Ja, dis wat Sy liefde verlang.
Liefde
bedek alles,
glo alles,
verdra alles.
“Liefde sal nie ophou bestaan.
Al sal alles anders vergaan,
geloof, hoop en liefde bly,
maar die grootse is liefde vir My!”
Bemoediging uit II Kor 1:3-11
Aan die Vader van ons Here Jesus Christus,
kom al die lof toe, ja gewis!
Hy, die Vader, bring ontferming mee:
Dis Hy wat in elke omstandigheid moed gee.
Dieselfde bemoediging wat ons ontvang
is wat julle weer van ons verlang.
Net soos daar vir ons ‘n oorvloed van lyding in Christus is,
is daar ook vir ons ‘n oorvloed van bemoediging deur Christus.
Word ons dus in beproewing gestort
is dit dat julle bemoedig en gered kan word.
As ons bemoedig word deur God se werk,
is dit om julle te bemoedig en te versterk,
sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur
wat ons ook deurgaan in hierdie harde uur.
Ons weet dat, net soos julle saam met ons deel het aan die lyding,
julle ook deel aan die bemoediging vir die bevryding.
Die swaar wat ons in Asië moes verduur,
was ver bo ons kragte in daardie uur:
Ons het selfs ons hoop om te lewe laat vaar…
Dit het vir ons gevoel asof ons die doodvonnis ervaar!
Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself moes vertrou,
maar God, wat die dooies opwek tot die lewe, moes onthou.
Hy het ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered
en Hy sal weer – dis die vastigheid wat ons het!
Ons vertrou God se redding sal vir ons kom
omdat julle daarin saamwerk in gebede tot Hom!
So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring,
en dan sal baie Hom vir ons dank en lofliedere sing!
Die Masedoniër siklus
Die Masedoniërs was baie arm,
maar tog in vrygewigheid warm.
Op hulle liggame swaar beproewings merke,
tog dring hulle aan op liefdes werke (II Kor 8:2-4)
Hoe kan dit wees?
Ons moet dieper lees:
Hulle was só gevul met vreugde,
dit het oorgeloop in liefdes deugde.
Meer as enige verdrukkings swaar
was die vreugde wat hul ervaar. (II Kor 8:2)
Hoekom was hulle dan so bly?
Hulle het genade van God gekry! (II Kor 8:1)
Die impak van wedergeboorte dramaties –
so leef hulle na Sy wil outomaties. (II Kor 8:5)
Dit kan vir joú ook so wees!
Deur Sy Woord vreugde vul die Gees.
As jy daarin God se genade sien,
wil jy ook in oorloop vreugde dien…
Selfs in jou vreeslike swaar,
sal ander mense dit gewaar.
So sit jy die Masedoniër siklus voort
en meer mense kom tot die Poort.
Aan die genadige God en Heer,
kom toe alle lof en eer!
Van vreugde wil ons U dien
sodat almal U heerlikheid sien.
Versoening: II Korintiërs oorsig
In ons verhouding is daar ‘n breuk,
maar die Here het deure oopgemaak
en deur ons versprei die reuk
van ware kennis wat harte raak. (II Kor 2:12-14)
Julle is Christus se brief,
deur ons geskryf, nie met ink,
maar met God se Gees.
Nie op klip, maar op harte van vlees. (II Kor 3:2-3).
Ons is soms verdruk,
maar nie terneergedruk.
Ons soek raad: wes of oos?
Maar word nie radeloos.
Ons word vervolg en gehaat,
maar nie deur God verlaat.
Ons word teen die grond gestamp,
maar nie vernietig deur die ramp!
Want
Ons dra Jesus se sterwe in ons liggaam
sodat ons vir ewig lewe met Hom saam! (II Kor 4:7-11)
Ons fokus nie om aardse dinge te verdien,
maar vertrou op dit wat ons nie sien!
Die tydelike dinge dra geen gewig.
Die onsigbare dinge is ewig! (II Kor 4:18)
Of ons hier woon,
of dáár werk vir loon,
dít maak die verskil:
Lewe soos Hy wil! (II Kor 5:9)
God het reeds die werk gedoen:
Deur Christus is ons met Hom versoen.
Jy is vry van jou oortredings verklaar.
Jy moet hierdie versoening aanvaar! (II Kor 5:18-21)
Doen God se wil elke dag
deur die Gees,
deur liefde,
deur die Woord,
en deur God se krag. (II Kor 5:7)
Moenie saam met ongelowiges buk
en saam trek aan dieselfde juk.
Dan bly jul verhouding met My gesond
Ek is die God van die verbond. (II Kor 6:12-18)
Jesus het Sy rykdom laat vaar,
in armoede Sy taak aanvaar.
Deur Jesus is jy nou ryk.
Laat dit in jou vrygewigheid blyk. (II Kor 8:9)
Terwyl ons nog in ons tentwoning sug,
sal die Gees deur Sy krag ons verlig. (II Kor 5:4-5)
As die dood jou aardse tent opvou
gaan jy na die vaste hemelse gebou! (II Kor 5:1)


Leave a Reply